Fors, fiks, sterk en onafskeidbaar. So het die land hulle leer ken, die boesembroers wat ook op die rugbyveld mekaar se grootste ondersteuners was.

As tjokkers het die voormalige Valke-rugbykaptein JP Mostert en sy jonger broer, die Springbok- en Lions-voorspeler Franco Mostert, op Mooinooi in Noordwes vir mekaar bal geskop en saam gedroom van glorie op die rugbyveld.

Nadat hulle ná mekaar aan die Hoërskool Brits gematrikuleer het, is daardie drome toe ook bewaarheid.

Die boeties het rugbysterre geword, elkeen ’n unieke mens wat met sy eie talente woeker. Maar sewe maande gelede het die noodlot JP (30) onkant gevang toe sy nek in ’n motorongeluk gebreek is.

Vandag is die bleek en brose JP byna heeltemal verlam aan ’n rolstoel gekluister.

En tog, al is die eens bruingebrande en veelsydige slot, flank en agtsteman van 1,93 m nou 23 kg maerder as sy vroeëre 103 kg toe hy topfiks was, is JP vandag die sterk een waar ons hom en sy broer Franco (27), meer bekend as “Sous”, ontmoet in die koffierestaurant van die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Pretoria, waar hy drie weke gelede met rehabilitasie begin het.

JP word in die Mediclinic Muelmed in Pretoria deur Mossie en Franco bygestaan. Hy het die gebruik van sy linkerarm herwin, maar sy regterarm is nog swak. Foto: Lubabalo Lesolle.

Hul ouers, ma Jannet (52) en pa Mossie (53), JP se verloofde, Zandré van der Walt (27), en Franco se vrou, Juan-Ri (25), is ook hier om die broers te ondersteun.

Dis die eerste keer dat die gesin oor daardie tragiese Vrydag van 21 Julie verlede jaar praat.

Vir Franco kom die woorde nie maklik nie en die trane loop telkens oor die groot rugbyster se wange.

“Ek speel eerstens vir God, tweedens vir my vrou en familie en om hulle trots te maak, en derdens jol ek nou vir my broer,” sê Franco en kyk sy broer teer in die oë.

“Ek sou net so graag saam met hom deur alles wou gaan . . .”

Franco moes sowat twee maande ná die ongeluk Japan toe gaan om sy kontrakverpligtings teenoor die klubrugbyspan Ricoh Black Rams na te kom en kon eers in Januarie na Suid-Afrika terugkeer.

Hy speel nou vir die Lions in die Superrugby-reeks.

Intussen was JP weens beserings aan sy longspiere die grootste deel van die afgelope sewe maande aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg.

“Al wat ek vir hom kon doen, was om positief te bly,” sê Franco en die trane rol. Dan sit JP sy hand vertroostend op sy broer se sterk voorarm.

JP is ná die ongeluk byna heeltemal verlam gelaat. Sy onderlyf is verlam, maar hy het heelwat beweging in sy linkerarm herwin. Sy regterarm is nog baie swak.

Ten spyte van die tragedie en trauma wat JP beleef het, sien hy moedig kans om grappies te maak.

“Ek het baie planne gehad, soos om Franco se joggie te wees,” vertel hy met ’n laggie.

Franco is ook ’n kranige gholfspeler, verduidelik hy. “Ons het altyd gespot ek gaan eendag Franco se gholfsak dra.”

Dan vertroebel sy oë en hy erken ernstig hy het ook drome gekoester om soos Franco oorsee te gaan speel. Daar was soveel drome voor die ongeluk . . .

JP en Zandré was op die dag van die ongeluk twee maande verloof. Foto: Verskaf.

Hy het deeltyds begin studeer om elektrisiën te word en uitgesien na sy en Zandré se troue. Maar hy weier om op te hou hoop.

“Ek glo tot vandag toe ek gaan nog loop. As dit nie gebeur nie en die Here gee my ’n ander pad, sal ek daai pad ook stap.”

Soggens wanneer hy in sy hospitaalbed wakker word, is sy “enigste doel voor oë om aan te hou oefen”, vertel hy.

Hier, in die rehabilitasiesentrum, druk hy homself om weer die eenvoudige bewegings te begin maak wat ’n mens as so vanselfsprekend aanvaar.

Die fyn Zandré, ’n laerskoolonderwyseres van Kempton Park, knik instemmend.

Hulle was op die dag van die ongeluk twee maande verloof en Zandré het daardie Vrydag nog trourokke aangepas.

Alles het in ’n oogwink verander.

Nou maak Franco en Zandré beurte om hom te help sodat hy sy koffie deur ’n strooitjie uit ’n wegneemkoppie kan drink

JP het eers vir die Pumas gespeel voor hy in 2013 as slot vir die Valke begin uitdraf het.

JP was voor sy on­geluk topfiks en kaptein van die Valke. Foto: Verskaf.

Hy was op daardie rampspoedige Vrydag verlede jaar juis op sy goeie vriend die Valke-flank Jacques Verwey (28) se plaas by Groblersdal, Limpopo.

Dit was op die vooraand van Jacques se ramparty. JP en ’n vriend het vroegaand daar aangekom en in ’n enkelkajuitbakkie agter Jacques aangery om onder ’n grasdaklapa op die plaas te gaan braai.

JP was in die passasiersitplek, maar verkies om nie die naam te noem van sy vriend wat bestuur het nie; hy weet dis vir hom ook moeilik om die gebeure te verwerk.

“Daar het stof voor ons opgekom en toe sien my pel nie die draai nie. Toe hy die stuurwiel ruk, gaan ons van die pad af,” onthou hy.

Die bakkie, vertel hy, beland toe in ’n leë waterkanaal van sowat 2 m diep, slaan om en beland op sy dak.

JP sê hy het sy veiligheidsgordel aangehad en in die bakkie agtergebly.

Sy vriend, wat uit die voertuig geslinger is, was feitlik ongedeerd en het hom te hulp gesnel.

“Ek het dadelik geweet ek het my nek gebreek. Jy weet mos maar met rugby as jy goed breek. Ek kon dit dadelik voel,” vertel hy feitelik.

Wat toe gebeur het, is ’n harwar – dit is selfs maande later moeilik om die herinnerings naatloos saam te voeg.

“Ek kan onthou my vriend het my uit die bakkie gehaal en my kop op sy skoot gesit. Hy het my rustig gehou en gesê die ambulans is op pad. Ek het vir hom gesê hy moet asseblief mooi na Zandré kyk as ek iets gaan oorkom.”

JP is op die toneel deur nooddienswerkers gehelp en in die plaaslike staatshospitaal verder gestabiliseer.

Hy is per ambulans geneem na die rugbyveld van die Hoërskool Groblersdal, waar ’n helikopter hom kom oplaai en na die Netcare Milpark-hospitaal geneem het.

Sy ouers het intussen van Mooinooi na die hospitaal in Johannesburg gejaag en die helikopter daar ingewag.

Jannet vertel dit was ’n verskriklike skok toe JP se vriend haar van die ongelukstoneel af bel.

“Ek het koud geword en besef ek moet by my kind uitkom.”

By die hospitaal is JP se ouers met die hartverskeurende nuus begroet: “Hy het nie ’n stukkende plek aan hom gehad nie, maar die skanderings het gewys ons seun het sy nek gebreek,” vertel Jannet.

En toe kom die nuus: Dokters het gemaan sy kans om weer te loop is net 8%.

Franco (links) en JP toe hulle jonger was. Foto: Verskaf.

Waar JP se geliefdes weer terugdink aan daardie dag, kyk hulle kort-kort bemoedigend na hom.

Zandré hou haar hand liefdevol in JP s’n en sê: “Ons het onsself afgesny daarvan. Wat by ’n mens onmoontlik is, is by God moontlik. Niemand kan sê wat die toekoms inhou nie.”

Zandré vertel sy was by haar ma se huis in Polokwane vir die naweek toe die oproep van JP se vriend kom.

Sy het net ná eenuur die nag by die hospitaal aangekom, net betyds om die helikopter met JP te sien land.

“Ek het na die ingang van die hospitaal gehardloop. Daar het ek geskree: ‘Waar is die noodkamer?’ Hulle het my soontoe gevat, en net toe ek instap, stoot hulle JP in. Ek het net geskree: ‘JP, JP!’ ”

“Hy het vinnig sy oë oopgemaak en weer toe terwyl hulle hom in die kamer ingestoot het om hom te stabiliseer. Toe ek hom moes ‘groet’ voor hy onder sedasie moes gaan, het ek hom belowe ek is hier wanneer hy weer wakker word.”

Broer Franco het eers die volgende dag van die ongeluk gehoor, net voor hy die middag vir die Lions se wedstryd teen die Sharks in die kwarteindstryd van die Superrugbyreeks op Ellispark sou uitdraf.

Sy ouers het geweet hy sou nie ’n oog kon toemaak as hy geweet het wat met sy broer gebeur het nie en sou die wedstryd selfs wou los.

Franco vertel hy en sy gesin het vir ontbyt gereedgemaak toe die oproep van sy ma kom.

Toe Juan-Ri die huil in haar man se stem hoor en gaan kyk wat skort, het sy op hom afgekom waar hy met sy hande oor sy oë staan terwyl die trane by sy wange afrol.

JP lewer in 2015 ’n toespraak op Franco se troue. Foto: Verskaf.

“Ek het hom net omhels en styf vasgehou,” vertel sy.

Die nuus het Franco geruk, maar hy het besluit om die wedstryd te speel – en toe boonop ’n drie gedruk. “Dit het my ’n hupstoot gegee, net die wete dat iemand wat baie graag daar wou wees nie daar kan wees nie,” sê hy.

Franco en sy gesin is ná die wedstryd reguit hospitaal toe. “Toe ek eindelik by JP aankom, was hy reeds onder sedasie,” vertel hy.

“Dit het my gebreek om hom so leweloos te sien lê. Ek het met hom gepraat asof hy my kon hoor. Ek het vir hom bly sê hy moet sterk wees en moed hou; hy sal hierdeur kom.”

Maande lank moes die gesin langs JP se hospitaalbed waak. Hy het spinale en longbeserings gehad en is sowat ’n maand lank in ’n geïnduseerde koma gehou.

Hy het later ’n nekoperasie ondergaan om ’n plaat en skroewe in te sit waar hy sy C5- en C6-nekwerwel gebreek en die ligamente daar geskeur het.

Dokters het JP ingelig: Was dit nie vir sy gespierde nek en skouers nie, was hy dalk op slag dood.

Weens infeksie in sy longe moes hy ook ’n paar keer om sy lewe veg, en hy het meer as 20 prosedures ondergaan om die vog in sy longe te verwyder.

Hy is vol lof vir die span medici wat hom versorg het, drr. Riaan Pretorius, Paul Graham Williams, Hussain Pahad, Chris Profyris en Marousio Zorio, en sê: “Die Here het hulle almal op my pad gestuur en ek is so dankbaar vir elkeen se rol daardie ses maande.”

Terwyl ons gesels, staan die broers se pa, Mossie, meestal eenkant.

Die groot man, ’n mynbeampte by Lonmin by wie sy seuns hul rugbytalent en lengte geërf het, sien nie kans om oor sy seun te praat nie.

“Van kleins af was hy maar altyd die een daar langs die veld,” vertel JP nou.

As kinders het JP en Franco graag stoei op televisie gekyk en dan gerofstoei.

Die twee rugbybroers Franco (links) en JP op die rugbyveld in 2016 toe hulle onderskeidelik vir die Leeus en Valke gespeel het. Foto: Leon Niemand.

“Die een keer het hy my so op sy skouers getel, gedraai, en toe het ek my elmboog gebreek!” vertel Franco.

“Maar ons kon nooit lank kwaad vir mekaar bly nie,” sê JP.

JP was die een na wie Franco opgesien het toe hy as die ouer een eerste Cravenweek- en later ook SA Skole-rugby begin speel het.

“Ek was maar altyd die een wat in sy voetspore gevolg het,” erken Franco.

Die eerste keer toe die broers teen mekaar speel, was dit ’n “skokkende storie”, spot Franco, met die gesin se humor wat ongeag die omstandighede weer deurskemer.

In dié wedstryd het hy vir die Blou Bulle en JP vir die Pumas gespeel.

“Ek het daardie dag lelik gevloek toe iemand my van agter in die skrum trap. Toe ek omkyk, toe’s dit JP, die bogger.”

Hul ouers was daardie dag onderskeidelik in ’n Pumas- en Bul-trui geklee. “Toe speel hulle gelukkig gelykop!” vertel hul ma.

Die Mosterts het nog ’n boetie, Juandro (13). Hoewel hy groter belangstelling in krieket toon, glo JP hy gaan die “toughste een wees tussen ons drie”.

JP (links) en Franco by hul jongste boetie, Juandro. Foto: Verskaf.

“Ek glo alles wat gebeur het, het my net sterker gemaak,” sê Franco.

“Ek kan nie stilbly daaroor wanneer hy vir my video’s stuur van iets wat hy reggekry het nie, soos om sy hand te kan beweeg. Dan vertel ek vir almal by die unie JP het weer ’n kans gekry. As daar een mens is wat hierdeur moet gaan, is dit hy, want hy is so sterk in sy gees.

“As hy die mens is wat die Here gekies het om ander mense so te inspireer, dan moet dit hy wees.”

Dis nie die eerste keer dat die Mostert-broers mekaar moet moed inpraat nie.

Toe Franco in 2013 in ’n ernstige motorongeluk sy bekkenbeen beseer, het dokters gemaan hy sal dalk nooit weer kan rugby speel nie.

“JP het my gebel en gesê: ‘Ek het jou gesê jy moenie dit nie, en ek het jou gesê jy moenie dat nie,’ ” onthou hy.

Met liefde het ouboet hom vermaan om versigtiger te wees. JP was immers ook nog altyd sy klankbord, die een by wie hy aanklop vir raad.

“My pa sal bel en sê hoe goed ek gespeel het, dit was een van my beste games, maar JP sal sê: ‘Jis, maar jy het k*k gespring; hoekom het jy nie daardie opsies gevat in die lynstaan nie?’ Hy is die een na wie toe ek gaan om te hoor hoe het ek eintlik gespeel het.”

En toe JP ná sy koma wakker word, was die eerste ding wat hy wou weet sowaar of Franco se span die Superrugby-eindstryd op 5 Augustus gewen het.

“Ek was sommer net so de hel in toe ek hoor Sous-hulle het verloor!” 

JP werk nou elke dag in die rehabilitasiesentrum aan sy herstel, met die hulp van onder andere fisio- en arbeidsterapeute.

Hy gaan minstens tot einde Mei nog in Muelmed rehabilitasie ontvang, waarna hy by ’n Bodytec-oefenateljee sal aansluit.

Die familie is besig om die JP Mostert-stigting vir hom op die been te bring om sy mediese koste te help dek.

Soggens eet hy om agtuur ontbyt, en van nege- tot twaalfuur oefen hy in die gimnasium. Dan is dit tyd vir middagete. Van een- tot drieuur werk hy weer hard

“My skouers en linkerarm raak sterker en ek kan dit al goed beweeg, maar nog nie my regterarm nie,” vertel hy.

“Maar dit is baie beter as wat dit was,” praat Franco sy ouboet moed in.

JP vertel hy kan nie wag om sy eie rolstoel met sy hande op die wiele te stoot nie.

“Dit is sleg op die oomblik omdat ek heeltyd iemand nodig het om my stoel te stoot. Gelukkig kan ek darem elke dag oefen, soos wat altyd my gewoonte was.”

Sy grootste doelwit nou is om saam met Zandré voor die kansel te staan.

Die band tussen JP en Franco dra die broers. Foto: Lubabalo Lesolle.

“Ek fight daarvoor. Daar is niemand wat my nie ondersteun nie. Ek het nog altyd gesê: ‘The only failure in life is giving up.’ So ek glo die enigste tyd dat jy gaan misluk, is wanneer jy moed opgee. En ek sal nie moed opgee nie. Ek sal fight tot die einde.

“Die wete dat ek nooit weer sal kan rugby speel nie, pla my nou meer as toe ek in ICU was, maar dankie tog vir Superrugby. Dit maak dit darem ’n bietjie beter.”

JP kan die rugby vanuit sy hospitaalbed kyk. Jannet vertel die band wat Franco en JP het, dra albei.

“Franco speel asof hy net vir sy boetie speel.”

Ons gesels enkele dae voor Franco vir die Lions op Loftus teen die Bulls moet uitdraf.

JP hoop om dié dag vir die eerste keer uit die hospitaal ontslaan te word sodat hy sy broer vanuit sy rolstoel langs die veld kan ondersteun.

En dan skemer sy optimisme weer deur: “Ek sien daarna uit om by die rugby te wees. Hopelik klop hulle die Bulls!”