Vir Sicelo Ngubo, ’n rugbyspeler van Lovedal RC rugbyklub in die Oos-Kaap, het dit op 20 April ’n realiteit geword toe hy sy ruggraat en ’n nekwerwel tydens ’n wedstryd beseer het. 

Maar op 18 Junie 2019 het sy gemoedere ligter geword toe hy in die Groote Schuur Hospitaal lê en die Springbokkaptein, Siya Kolisi, vir hom kom kuier het. 

Siya het saam met die nie-winsgewende organisasie, The Players Fund, vir Sicelo besoek. Dié organisasie staan spelers by wat tydens wedstryde ernstige beserings opgedoen het. 

Volgens The Players Fund se Facebook-blad was Sicelo sedert 20 April in die intensiewe eenheid van die hospitaal en sou hy op dieselfde dag van Siya se besoek na ’n algemene saal geskuif word.  

“Hy sal dan na die Wes-Kaapse Rehabilitasiesentrum geskuif word waar hy vir ’n paar maande intensiewe rehabilitasie sal ontvang.”

 “Sicelo was baie geroer deur Siya se besoek en die motivering wat Siya vir hom gegee het, het hom aangespoor om terug te baklei.” 

Siya kon nie oor die geleentheid vir kommentaar bereik word nie.