Die 78-jarige Jacques Leroy het verlede jaar op 26 Desember besluit hy moet iets doen aan die lang gras wat die parkie oorkant sy huis ontsier het. 

Hy het nooit gedink dit sou sy dood beteken nie. 

“Jacques het die gras naby ’n kragboks in die parkie gesny. Hy was nie daarvan bewus dat daar ’n byenes was nie en die bye het hom binne minute oorval,” sê Isabel Aucamp, ’n familievriend. 

Volgens haar was Jacques binne sekondes oortrek van die bye. 

“Dit het nooddienste sowat ’n uur geneem om die bye met ’n brandblusser van hom af te kry.” 

Die 78-jarige Jacques Leroy is deur honderde bye o
Die 78-jarige Jacques Leroy is deur honderde bye oorval. Foto: Verskaf

Jacques is na die Pholosong-hospitaal in Brakpan geneem en op ’n ventilator geplaas. 

“Ons het gedink hy gaan dit maak. Dit het gelyk of hy beter word.” 

Maar die gif van die bysteke het veroorsaak dat Jacques behoorlike funksie van een van sy niere en van sy hart verloor het. 

“Ons vermoed dit is weens sy hartfunksie dat hy oorlede is.”  

Isabel sê Jacques se vrou, Daniéle (74), vat die dood van haar man moeilik.

“Dit gaan onder die omstandighede goed met haar. Sy is ’n baie private mens en dit was net hulle twee gewees. Nou moet sy sonder haar man oor die weg kom. 

“Ons staan haar by in hierdie tyd en ons gaan vir haar ’n oprit by haar huis bou sodat sy met haar loopraam oor die weg kan kom.

“Dit is ook Saterdag haar verjaardag, en dit gaan die eerste keer wees dat Jacques nie by is nie. Sy is baie onafhanklik, maar ons kan agterkom dat die dood van haar man vir haar baie moeilik is.”

“Dit is ’n geweldige traumatiese ding wat gebeur het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe