Amri Burger
Amri Burger. Foto: Verskaf

Jy wil jou so amper oortuig sy is doelbewus besig met kwajongstreke – veral wanneer jy die rybewysfoto van nader bekyk. Hoekom dan nou tong uitsteek? En dít vir ’n foto wat vyf jaar lank op ’n rybewys gaan pryk . . .

Eintlik verkneukel sy haarself al dae lank oor dié flaterfoto, sê Amri Burger, ’n eiendomsagent van Boksburg aan die Johannesburgse Oos-Rand.

En nee, dit was álles behalwe doelbewus.

“Ek het die eerste paar dae nadat die foto geneem is, nie geweet of ek moet lag of huil nie,” vertel Amri Dinsdag aan Huisgenoot. “Die waarheid is dat ek seker aanvanklik ’n bietjie emosioneel was, maar later ek besef dis eintlik skreeusnaaks – nou skeer ek die gek met myself.” 

Sy is 16 Maart na die verkeersdepartment in dié stad om haar rybewys te hernu en aansoek te doen vir ’n tydelike rybewys, vertel Amri. Sy was gewapen met al die nodige dokumentasie: ’n geldige oogtoets, ’n bewys van adres en ’n aansoekvorm – en ja, selfs ’n stel foto’s.

Amri Burger
Die gewraakte lisensiekaart-foto. Foto: Verskaf

“Die dame by die ontvangsarea het my na ’n afdeling verwys waar ‘Eye Test’ gestaan het,” onthou sy. “Ek het niks daarvan gedink nie. Eintlik het ek net vermoed hulle wil hul eie foto neem sodat hulle dit ook digitaal kan stoor.” 

Sy het ’n tydjie lank in die wagkamer deurgebring voordat sy ingeroep is, vertel Amri. “Die man het al my dokumentasie bekyk en toe gesê: Haal asseblief af jou masker, ek moet ’n foto neem.’ En ek hét. Maar nes ek vir die foto poseer het, het ’n ander onbekende man – dalk ’n amptenaar – ingekom en met die eerste man begin gesels.” 

Sy het gereken hy is in gesprek en sou daarom nie die foto neem nie, vertel Amri. “En so nuuskierig soos wat ek is, het ek al om my gekyk na die mense binne die gebou. My redenasie was dit: Hy sou tog nie die foto neem terwyl hy besig om met iemand te praat nie, daarom het ek nie eens in die kamera gekyk nie.” 

Toe kom die slag, vertel sy laggend. “Toe die tweede man uit die vertrek loop, het die man wat met die foto’s werk my gevra om op te staan en vingerafdrukke te gee. Steeds was ek nie gepla nie – ek het gedink dis seker nie nodig om ’n foto te neem nie of dat ek dit later sou doen.” 

Amri Beukes
Die foto’s wat Amri saam met haar na die verkeersdepartement geneem het. Foto: Verskaf

Dis eers toe die dokument uitgedruk word en Amri gevra is om dit te teken, dat sy besef het sy het waarskynlik die grootste bloutjie van haar lewe geloop: haar foto was ’n totale flater. Heel hansworsagtig kyk sy skerp na links, selfs haar tong is uitgesteek.

“Ek het gevoel asof ek in trane kon uitbars!” erken sy.

Om die penarie op te los, was haar voorstel dat die amptenaar ’n tweede foto neem. Maar dié wou niks weet nie, beweer sy. “Sy antwoord was eenvoudig: Die dokument is reeds uitgereik – jammer.” 

Dis eers veel later dat sy besef het hoe snaaks die situasie eintlik is, vertel Amri. Toe sy eers vrede met die foto gemaak het, het sy die komiese voorval met geliefdes en vriende in die sosiale media gedeel. Toe het sy laat hoor: “En nou gaan hierdie foto – tot my bittere spyt – vir die volgende vyf jaar op my rybewys pronk!”

Vandag bly dit nog elke keer vir haar skreeusnaaks om na die foto te kyk, laat sy hoor. “Ag jong, ek lag nou te heerlik daaroor – ek het besef dis eintlik vreeslik snaaks. En met die wêreld so deurmekaar soos hy tans is, het ons almal in elk geval nodig om bietjie meer te lag.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe