Lucinda Brown het positief getoets vir covid-19 to
Lucinda Brown het positief getoets vir covid-19 toe sy 27 weke swanger was. Foto: Misha Jordaan

Klein Levin Brown is perfek. Sy neusie punt na bo, sy kennetjie het ’n kuiltjie in, en die lang swart wimpers lê sag op sy bolwangetjies wanneer sy oë toeval.

Hy is net twee maande oud, maar moes al groot uitdagings oorkom.

Klein Levin. Foto: Verskaf
Klein Levin. Foto: Verskaf

Nie net is Levin vroeg gebore en het hy met geboorte net 870 g geweeg nie; hy het boonop reeds covid-19 oorwin.

En ná 67 dae in die hospitaal is hy eindelik tuis.

“Hy is ons klein fighter,” sê sy pa, Vernon Brown (39), ’n polisieman van die Paarl, trots.

“Hy is net ’n plesier. Hy kerm nie, en hy gee ons geen probleme nie. Hy is soos ’n kind wat weet hy hoort hier.”

Hy kyk liefderik na sy vrou, Lucinda (33), wat die mannetjie saggies teen haar vashou.

Lucinda en Vernon by hul klein vegtertjie. Foto: M
Lucinda en Vernon by hul klein vegtertjie. Foto: Misha Jordaan

“Daar is mense wat sê hy gaan seker president word,” koer sy. “Of dalk ’n ster.”

Die groot glimlag op haar gesig – en die toekomsdrome vir haar jongste – het nie van die begin af so maklik gekom nie.

Toe Levin op Maandag 25 Mei op net 27 weke gebore is, was dokters onseker hoe hy die komplikasies van sy vroeë geboorte gaan hanteer. Sy hart was maar so groot soos ’n akker en sy longe se volume gelyk aan dié van ’n boksie vuurhoutjies.

En toe hy ’n week later positief toets vir die coronavirus, het sy toekoms nog meer duister gelyk. Lucinda is vier dae tevore in die hospitaal opgeneem omdat sy begin bloei en vrugwater verloor het.

Sy het geen covid-19-simptome gehad nie, maar ’n roetinetoets drie dae later het gewys sy het wel die virus opgedoen.

“ ’n Mens skrik as jy die uitslag kry,” onthou Lucinda.

Sy het geen idee waar sy die virus opgedoen het nie omdat sy sover sy weet met niemand wat die virus gehad het kontak gehad het nie. Vernon se toets was negatief, en hul twee ouer seuns het ook geen simptome gehad nie.

“Die dokters het toe besluit om Levin uit te haal omdat ek soveel vrugwater verloor het en weens die virus.”

Klein Levin is met ’n keisersnee gebore en onmiddellik na die neonatale waakeenheid geneem. Sy het nie eens kans gekry om hom vas te hou of selfs te sien nie, sê Lucinda.

Levin het by geboorte slegs 870g geweeg. Foto: Ver
Levin het by geboorte slegs 870g geweeg. Foto: Verskaf

“Dit was baie moeilik. Hy was dan hierdie klein sieletjie in my.”

Maar die klein vegtertjie het sy staal gewys en die virus oorwin – en so waarskynlik een van die jongste (en kleinste) oorlewendes van die siekte wêreldwyd geword.

En meer as twee maande ná sy geboorte het die Browns einde verlede maand die blye oproep gekry: Levin het die 2 kg-merk gehaal en is eindelik sterk genoeg om huis toe te gaan.

Toe hulle by die hospitaal uitstap – deur ’n erewag van hospitaalpersoneel – het net een ding oor en oor deur sy kop gegaan, sê Vernon: Vandág neem ek my kind huis toe.

In die Brown-huishouding gaan dinge woelig.

Ouboet Osley (14) het sy kleiner boetie Luciano (1) op die heup en maak seker sy fopspeen bly in die mond.

“Ek is geseën met drie seuns,” sê Lucinda.

“Hulle is geskenke.”

Die Brown-gesin. Van links is ouboet Osley, Lucian
Die Brown-gesin. Van links is ouboet Osley, Luciano, Lucinda met Levin op haar skoot, en Vernon. Foto: Misha Jordaan

Die egpaar ken mekaar al sowat 15 jaar en is agt jaar getroud.

Vir ’n lang ruk ná die troue het hulle nie geweet of hulle so gelukkig gaan wees om nog kinders te hê nie, tot Luciano verlede jaar sy opwagting gemaak het.

Toe hy ses maande oud was, het Lucinda vermoed daar is weer ’n baba op pad.

Sy het ’n swangerskapstoets gedoen en die positiewe toetsstokkie op Vernon se bedkassie gelos.

“Ek vra toe vir haar: ‘Wat is dit?’ en sy sê toe: ‘Jy weet mos wat dit is!’ ” vertel hy.

Nou is die kleinste lid van die gesin ook tuis, en duidelik die spilpunt waarom alles draai.

Levin se geboortegewig was 870 g, en gewoonlik verloor babas dan gewig voor hulle weer begin aansit, verduidelik sy pediater, dr. HP van der Merwe van die Mediclinic Paarl.

“Levin se gewig het tot onder 800 g geval, en hy het aanvanklik gespesialiseerde, binneaarse voeding gekry. Hy het ook kort ná sy geboorte elke twee uur 1 ml borsmelk gekry, wat geleidelik vermeerder is namate hy meer kon inneem.”

Deur dit alles kon Lucinda drie weke lank nie haar jongste sien nie – nie eens toe sy ná die geboorte self nog in die hospitaal was nie – omdat die voorsorgmaatreëls teen covid-19 dit verhoed het.

“So naby, maar so ver,” onthou Vernon.

Toe sy ná vier dae ontslaan word, moes sy tuis in afsondering gaan sodat ander mense nie deur haar aan die coronavirus blootgestel sou word nie.

Vernon het elke dag borsmelk hospitaal toe gekarwei vir sy jongste. Al kon hy nie die klein lyfie vashou nie, kon hy hom ten minste sien.

By die huis moes Lucinda tevrede wees met wat Vernon kom vertel het en met die foto’s wat die hospitaalsusters een keer per week vir haar geneem het om te wys hoe haar jongste groei.

“Ek het elke aand gehuil,” vertel sy oor dié tyd. Ná drie weke is sy eindelik toegelaat om hospitaal toe te gaan en kon sy die lyfie vashou al moes sy spesiale drag dra.

“Toe voel dit darem regtig eindelik soos mý seuntjie.”

Daarna het sy en Vernon daagliks beurte gemaak om na Levin toe te gaan aangesien net een ouer op ’n slag by hom toegelaat is.

Stelselmatig het sy gewig opgekruip tot op die blye dag op 30 Julie toe hy kon huis toe kom.

“Hy was ’n lig in daardie hospitaal,” vertel Vernon.

“Stroopsoet. Al wanneer hulle van hom gehoor het, was wanneer hy honger was. Anders het hy geslaap asof it’s nobody’s business.”

Hy sê die verpleegpersoneel het so geheg aan hom geraak, hulle wou hom sommer nog ’n week daar hou.

Die hospitaal het vir klein Levin dié sertifikaat
Die hospitaal het vir klein Levin dié sertifikaat gegee toe hy uit die hospitaal ontslaan word. Foto: Misha Jordaan

“Ek het net gesê: Nou gaan ons huis toe.”

’n Paar dae ná sy tuiskoms het Levin al 2,3 kg geweeg en homself in sy bedjie begin opwurm.

“Hy makeer absoluut niks,” sê Vernon.

“Nie ’n hoes nie, nie ’n neus wat loop nie, nie eens ’n lammigheid oor hom nie.”

Die drama van sy eerste twee maande is nou agter hulle, sê die egpaar. Nou kyk hulle vorentoe en sien daarna uit om hom te sien groei en grootword.

En wie weet, dalk eendag die president word . . . 

Hoe het die baba die virus opgedoen?

Dis onduidelik presies hoe Levin die virus opgedoen het.

Sy pediater, dr. HP van der Merwe, sê daar is studies wat wys oordrag kan al in die baarmoeder plaasvind, maar dit is die uitsondering.

Volgens hom het hulle van die begin af besluit borsmelk sal die beste vir Levin wees en het hy dwarsdeur die tyd in die hospitaal borsmelk gedrink.

Alle moontlike voorsorg is getref om te keer dat die virus deur dié roete oorgedra word. Die personeel was bekommerd oor Levin aangesien vroeggebore babas meer blootgestel is aan komplikasies en hulle nie seker was watter uitwerking covid-19 op hom sou hê nie.

Levin se roetineondersoeke vir sy brein, oë en longe was volgens HP normaal, en die seuntjie is tans aktief en gesond. Daarom is hy vol vertroue die kind sal geen gevolge van die trauma so vroeg in sy lewe oorhou nie, al bly dit onmoontlik om met sekerheid so vroeg ’n voorspelling te maak.