Christa Pieters se seun Vincent
Christa Pieters se seun, Vincent “Vince” Potgieter, is in ’n beweerde tref-en-trap-ongeluk doodgery. Foto: Verskaf

“Nou net, toe ‘Tiny Bubbles’ op die radio speel, was my hart weer by Vince – onmiddellik, soos in dadelik,” vertel Christa aan Huisgenoot. “Dit was sy gunstelingliedjie. Dis sulke klein dingetjies wat ’n mens laat wonder waarmee hy vandag besig sou wees as hy nog geleef het,” voeg sy by.

Die lied is is ’n 1966-treffer, oorspronklik deur Don Ho gesing: . . . Tiny bubbles (tiny bubbles)/ Make me warm all over/ With a feeling that I'm gonna/ Love you till the end of time/ So here's to the golden moon/ And here's to the silver sea . . . Die perfekte liedjie vir iemand met wanderlust.

Net meer as ’n maand ná Junie 2019 se berig in die George Herald oor Vincent Potgieter se lewe, is hy in die ongeluk dood.

Sy droom was om eendag vragmotors te bestuur en te besit, het hy in die onderhoud en bygaande video vertel.

Maar toe gebeur die ergste ding wat seker met enige ouer kan gebeur.

Haar Vincent “Vince” Potgieter (36) en sy vriend, Daniël “Niel” Hughes (41), is op 25 Julie omstreeks 20:30 die aand op die McGregor-pad net buite Robertson noodlottig raakgery. Hulle was  te voet op pad na ’n plasie buite die dorp. ’n Polisieman wat van diens af was, was glo in die voorval betrokke, het die polisie voorheen bevestig.

Vince het op straat gelewe, maar Niel het verblyf op die plaas gehad waarheen hulle vermoedelik op pad was. Vince het glo ook soos hy daar werk en ’n dak oor sy kop gekry. Eindelik ’n lig aan die einde van die tonnel vir die twee vrygeeste.

“Vincent het nog die koerantberig in sy rugsak gehad. Dit is waarskynlik hoe hulle hom geïdentifiseer het,” vertel Christa.

Sy wil net geregtigheid vir haar seun hê. “Ek wil net weet wat presies gebeur het. Ons het buitelyne, maar ek het nie detail nie.

“My Vince sou tydens die lockdown by my gebly het, en ek weet in my hart ons sou gelukkig gewees het,” het Christa laasjaar oor haar swerwerseun wat saam met sy vriend doodgery is.

“Ek mis hom verskriklik en sou hom so graag net een keer weer wou vashou en sê als sal oukei wees. Daar is niks so finaal soos die dood nie, en die feit dat die polisie my ignoreer, maak my nog meer bitter,” vertel sy aan Huisgenoot.

Vince en Niel se liefdevolle familielede het deur die jare probeer om hulle by die huis te hou. Maar sonder sukses. Albei wou ook hul lewe van verslawing verander en voltydse werk kry, heel moontlik op die plaas waarheen hulle op pad was.

“So was dit nou Vince se verjaarsdag op 22 Maart. Dis dae soos daai wat mens net nie kan vergeet nie, en alles maar net vasvat in jou geheue. Ek moet seker aangaan. Wat sal ek maak?

boemelaar,tref-en-trap,Vincent Potgieter,dood,as k
Vincent Potgieter as seuntjie. Foto: Verskaf

“Ek werk myself oor ’n mik. Ek hou myself besig, want as my kop nie besig bly nie, dan sit ek en dink allerhande dinge.

“So, as ek verlang, dan speel ek daardie video wat op die koerant se webtuiste is. Dan hoor ek sy stem en dan is alles maar net van voor af terug.

“Vince sou nie wou gehad het ek moes opgee nie. Daar is dae wat ek nie meer wil nie. Wanneer ek wonder of dit regtig die moeite werd is om aan te gaan. Dan besef ek ek moet opstaan. Ek moet baklei vir dit wat reg is in die lewe. Ter wille van my kind.

“ ’n Mens sit maar jou maskertjie op en dan gaan jy aan, en die mense dink jy smile, maar jou hartseer is verberg agter daai masker. Dis goed van die corona-maskers, want jy kan baie van jou gevoelens wegsteek.

boemelaar
Vincent Potgieter se begrafnisbrief. Foto: Verskaf

“Ek mis my kind. Hulle sê dit word beter met tyd. Dis amper twee jaar, maar dit voel soos gister wat hy weggeruk is. Daaraan sal ’n mens nooit gewoond kan raak nie.” 

Sy het ook nog niks van die polisie gehoor nie, vertel Niel se suster, Liesel-Ann Hughes, van Hermanus. “Dit is nog baie hartseer; dit sal seker vir ’n lang tyd so wees. Hy was nog jonk en het drome en vooruitsigte gehad wat ongelukkig nooit ’n werklikheid sal word nie.

Niel Hughes. Foto: Verskaf
Niel Hughes. Foto: Verskaf

“Ek mis sy hele wese. Veral sy liefdevolheid en humorsin. Al die gesels oor alles waarin hy belang gestel het. Wiskunde en fisika was sy passie. Al het ek nie alles verstaan nie, was dit altyd lekker om te luister.

“Ons ouers is albei oorlede. My ma in 2012 en my pa in 2000. Ek en my broer dink en wonder baie oor wat regtig met Niel gebeur het.” 

boemelaar,tref-en-trap,Vincent Potgieter,dood,tone
Vincent Potgieter en sy vriend, Niel Hughes is hier noodlottig raakgery op die McGregor-pad net buite Robertson. Foto: Michelle Pienaar/George Herald
  • “Neem asseblief kennis dat die ondersoek afgehandel is,” het Mihlali Majikela, provinsiale polisiewoordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, verlede jaar hierdie tyd laat weet. Die dossier is op 19 Mei verwys na die hof en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet nou besluit of en hoe die saak verder vervolg gaan word, vertel Mihlali.
  • Die NVG sal nou alle navrae hanteer en met die families van die slagoffers skakel, het die polisiewoordvoerder bygevoeg.
  • Die NVG het nog nie laat weet waar sake staan nie.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe