Danya Zwiegelaar se hare hang tot onder haar knieë
Danya Zwiegelaar se hare hang tot onder haar knieë. Foto: Verskaf

“Toe ek voor haar eerste dag in gr. 1 haar hare wou kort knip, het sy só geskree dat ek dit nooit weer gewaag het nie,” vertel Yolanda Zwiegelaar uit Wellington in die Boland. 

Haar sestienjarige dogter, Danya, se hare hang nou tot onder haar knieë.

“Ek het dit al probeer meet, maar ek weet nie van waar af nie. Sy het nie ’n kuif nie,” sê Yolanda.

En hoe lank gaan Danya nog aan haar hare bly groei?

“Ag, seker tot ná skool wanneer sy verder in geografie of veeartseny wil studeer,” meen Yolanda. “Dit vat baie wilskrag vir my om dit te vleg.

Toe sy in die Laerskool Hugo Rust in Wellington was, het "stout seuns" gereeld probeer om happe in haar hare te knip.

“Dan raak ek histeries!” laat Danya van haar hoor. “Die meisies wou net die heeltyd daarmee speel. Nou in gr. 8 aan die Hugenote Hoërskool wil almal net daaraan vat en daarmee speel."

Raponsie uit die Disney-fliek Tangled. Foto: Disne
Raponsie uit die Disney-fliek Tangled. Foto: Disney

Met sulke lang hare kan 'n mens nie eintlik veel doen nie, erken die ma en dogter.

“As ek ’n poniestert maak, gee dit my 'n hoofpyn,” verklap Danya. Toe sy dit onlangs wou krul vir ’n dans, het dit net gekoek. Sy het dit toe klam gevleg, wat dit laat kartel het.

Hulle maak dit maar meestal net vas met een van daardie kammetjies wat soos ’n spinnekop lyk, of ma Yolanda help met ’n Franse vlegsel.

Nog 'n lastigheid is dat haar hare onder haar skooltas hang en maklik daaraan kan vashaak.

Pa Daniël is ook mal oor sy enigste dogter se Raponsie-hare.

Ma Yolanda word slegs met 'n skêr naby Danya se harekroon toegelaat wanneer sy die punte sny, en sy moet vooraf eers hoog en laag belowe sy sal nie 'n millimeter meer as wat noodsaaklik is, sal wegsny nie.

Danya Zwiegelaar groei al tien jaar lank aan haar
Danya Zwiegelaar groei al tien jaar lank aan haar hare. Foto: Verskaf

Yolanda lag wanneer sy praat oor Danya se geliefde troeteldier, die sewejarige Bella-mé.

“Ironies genoeg het sy ’n haarlose hondjie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe