Dis tyd om jong wyn te maak, tyd om die  natuur se oorvloed en harde, gesamentlike werk te vier. In die dorpstrate groet almal en selfs vreemdelinge kry ’n vriendelike wuif. In hierdie klein gemeenskap ken byna almal mekaar en deel in mekaar se lief en leed.

Bonnievalers is trots op hul kultuur om saam te werk om uitdagings te oorkom. Die bewys pryk tussen die wingerde neffens die armoedige Happy Valley-township: Die Jakes Gerwel Tegniese Skool.

Dié skool het net meer as ’n jaar gelede sy deure geopen nadat die gemeenskap besluit het om sélf iets te doen omtrent die nood van plaaswerkers se kinders wat nie plek in die oorvol Hoërskool Bonnievale kon kry nie. Boere het grond geskenk; dorpsargitekte, bouers en werkers het gratis hul vaardighede en arbeid geskenk; groot donasies sowel as sente in winkelblikkies het ingerol.

Ryk en arm het bygedra wat hulle kon, en gou het die gemeenskap self sowat R25 miljoen ingesamel om die Wes-Kaapse Departement van Onderwys se bydrae aan te vul. Die skool het ’n trotse simbool van die gemeenskap se omgee en samehorigheid geword. Maar vandag is Bonnievale in rou verenig.

Vlak onder die waas van vredigheid in die vallei lê ’n gemeenskaplike hartseer oor die wrede moord van Tool Wessels (55), van die plaas Kapteinsdrif, en die marteling van sy vrou Liezel (55) op 13 Mei.

In elke kafee en koffiewinkel op die dorp skreeu die koerantopskrifte daaroor ten hemele. Dit is die tweede keer binne vyf maande dat die vallei geruk word deur ’n plaasmoord. In Desember is Piet en Elmien Steyn van die plaas Zandfontein se lewens gewelddadig kortgeknip. 

Tool en Liezel Wessels saam met hul dogters, Annel
Tool en Liezel Wessels saam met hul dogters, Annelie en Jana.

Soos die Steyns is die Wesselse (albei 55) in hul huis oorval. Hul dogters Jana (20) en Annelie (23) Wessels studeer albei in Kaapstad en was nie op die plaas nie.

Die kontrei se mense is verslae oor die gruweldade. “Dit is so hartseer wat gebeur het. Dit is regtig ’n tragedie,” sê Theuns Coetzee, argitek op die dorp wat destyds die planne vir die Jakes Gerwel Tegnies gratis geteken het. 

“Ons is bietjie oorgerus hier op die dorp. Ons los ons deure en vensters gereeld oop, want almal op die dorp ken mekaar.”

Maar, beklemtoon inwoners, die 19-jarige verdagte wat kort voor druktyd aangekeer is en drie voortvlugtende medepligtiges is nie van die vallei nie – hulle kom van elders, glo Lesotho.

Op Kapteinsdrif soos elders in die gemeenskap, hurk die seer nog rou in die gemoed van die agt werkersgesinne wat hier op die plaas woon. 

Besonderhede oor die gruwels van die plaasaanval het gou versprei: Hoe Liezel omstreeks 18:30 alleen in die huis deur vier rowers oorval is kort nadat Tool werkers na hul huise op die dorp geneem het. Met sy tuiskoms is hy ook oorrompel. Hoe kookwater oor die egpaar uitgegooi is terwyl hul aanvallers aandring om kontant. Dat Liezel met ’n skerp voorwerp in die bors gesteek is. Hoe sy haar toue losgekry en ontsnap het nadat die aanvallers vir Tool uit die huis gesleep het; hoe sy in haar motor gaan hulp soek het.

Eers by die tweede plaas, Bonnievale Kelders, was iemand tuis.

Dit was een van Tool se werkers wat sy lyk omstreeks 23:00 gekry het by ’n pompstasie in die wingerd. Sy hande was steeds agter sy rug vasgebind. 

“Dit gaan tyd kos om oor die seer te kom,” sê Annay Baadjies (49), al 21 jaar lank die Wesselse se huiswerker. Haar man, Niklaas (38), werk as trekkerdrywer en “waterman” op die plaas en hulle woon in die drieslaapkamerhuis wat Tool binne loopafstand van die hoofhuis vir hulle gebou het.

Liezel en haar dogters sal “die omgee wat Tool altyd gewys het laat voortleef,” sê Annay. “Hulle glimlagte verlig darem die seer vir nou.”

Omstreeks 16:45 op die dag van sy dood het sy die boer die laaste keer lewend gesien.

“Ek sien nog hoe hy in die bakkie hier verby ry,” vertel Annay. Tool was steeds weg toe Liezel terugkeer. Die rowers het glo by ’n sydeur van die hoofhuis ingekom.

Tool se gemoed was volgens haar soos altyd goed. 

Die ingang van Bonnievale. Foto: Corrie Hansen
Die ingang van Bonnievale. Foto: Corrie Hansen

Ansie Baadjies (53), woon al 19 jaar op die plaas.  “Ek het hom nooit kwaad gesien nie. Hy het die wêreld se geduld gehad . . . ek kon nooit glo daar is nog sulke mense oor nie,” sê sy bewoë oor Tool.

Dan bewoord sy die hele gemeenskap: “Ons almal gaan hiervan opstaan. Maar vir eers troos ons mekaar saam . . .” 

By Jakes Gerwel Tegnies, simbool van die eenheid en medemenslikheid van die vallei se mense, sê die skoolhoof Albert Mocke: “Bonnievale is ’n ongelooflike hegte gemeenskap.

“Hier is dit nie ’n geval van ‘ons’ en ‘hulle’ nie. Ons almal – wit, bruin en swart – leef hier saam en ons kyk uit vir mekaar,” vertel hy.

 “Wat met Tool en Liezel gebeur het is nie ’n weerspieëling van ons gemeenskap nie. Ons het net gewèèt dit moes mense van buite wees. 

“Die dag nà die aanval was baie van die plaaswerkers se kinders nie by die skool nie. Dit was vir almal ’n ongelooflike hartseer en ons het diep vrae daaroor.”

Maar in dieselfde gees van samehorigheid en hoop waarmee die gemeenskap die skool met sy 1 000 leerlinge laat verrys het, sal hulle ook hierdie tragedie oorkom. Bonnievalers sal nie toelaat dat hierdie onsinnige daad hulle verdeel en bepaal nie.