Soos in die verlede het sy kritici hom oor sy potsierlike voorkoms gespot: Hy kon darem sy woeste blonde kuif gekam het vir sy eerste toespraak as Britse eerste minister, het hulle gesê. Maar veel ander dinge om oor te lag was daar tot dusver nie.

Want die oomblik toe Boris Johnson die stuur by sy voorganger, Theresa May, oorneem, het hy sy genadelose kant gewys. Hy het ná sy weghol-oorwinning in die leierskapstryd van die Britte se Konserwatiewe Party die meeste lede van May se kabinet in die pad gesteek.

En in ’n veglustige eerste toespraak het hy dit duidelik gemaak hy sal nie skroom om Brittanje uit die Europese Unie te lei sonder enige onderhandelde ooreenkoms nie.

Johnson en sy tweede vrou, Marina Wheeler, is uitmekaar nadat sy affair met Carrie verlede jaar aan die lig gekom het.

Ja, nadat May op haar eie swaard moes val omdat sy nie haar “sagte Brexit” kon deurvoer nie, is die geharde Brexiteer Boris nou die baas . . .

In sy toespraak van 11 minute het Johnson (55) met flappende hare en teatrale armgebare sy planne uitgestippel. En heel eerste het hy na dié gekap wat meen Brexit gaan ook sý politieke ondergang wees.

“Ek staan vandag voor julle, die Britse mense, om te sê daardie kritici is verkeerd. Die twyfelaars, doemprofete, die pessimiste . . . hulle gaan weer verkeerd wees. Die mense wat teen Brittanje wed, gaan verloor.”

Die nuwe Britse premier het sy jonger broer Jo as minister van universiteite aangestel.

Sy meisie, Carrie Symonds (31), het glimlaggend in ’n modieuse pienk rok toegekyk. In Junie is die polisie na haar Londense woonstel ontbied weens ’n hewige rusie tussen haar en Boris, maar nou maak die mooi beeldpoetser glo gereed om saam met hom in 10 Downing Street in te trek.

Johnson is aan die skei van sy tweede vrou en die ma van sy vier kinders, Marina Wheeler (55), maar vir eers staan sy kop by sy nuwe pos. Want op die podium buite die premierswoning het Johnson onomwonde belowe Brittanje sal die Brexit-sperdatum van 31 Oktober haal, kom wat wil . . .

BREXIT, EN BASTA MET DIE RES

Sommige ontleders meen dis net reg dat Boris Johnson die Brexit-gemors van die afgelope drie jaar moet uitstryk. Dit is immers grootliks deur sy toedoen dat Brittanje hom in hierdie situasie bevind.

Met Johnson se populistiese aanslag het hy in die Brexit-referendum in 2016 baie steun gewerf vir die ja-stem. En sedertdien is hy ’n hardekwas Brexiteer.

In 2018 het hy selfs uit sy pos as minister van buitelandse sake bedank omdat hy teen Theresa May se sagte Brexit-plan gekant was. En nou moet hy doen wat sy nie kon nie.

Met D-dag vir Brexit oor minder as 100 dae het Europese leiers verklaar hulle is nie bereid om nuwe ooreenkomste met Brittanje te onderhandel nie.

Johnson se antwoord: Dan verlaat ons die Europese Unie sonder enige ooreenkomste. En as Britse parlementslede hom nie daarin steun nie, dreig hy, sal hy die parlement laat ontbind.

Sy dreigemente word klaarblyklik ernstig opgeneem sedert hy die meeste lede van May se kabinet afgedank het – onder meer sy hoofteenstander in die Konserwatiewe Party se leierskapstryd, Jeremy Hunt.

In hul plek het hy ’n nuwe kabinet van stoere Brexiteers saamgestel. Onder hulle is sy broer Jo Johnson (47), wat as minister van universiteite sal dien.

HOE LYK SY BELEID?

Meer geld vir infrastruktuur

Die besuinigingsmaatreëls wat ná die bankwesekrisis in 2008 ingestel is, sal afgeskaf word. Geld vir die verbetering van infrastruktuur sal geleen word.

Rykes word ryker

Daar sal ’n reusebelastingsafslag vir die rykes wees.

Dit sal Brittanje na raming R153 miljard kos en net 10% van die land bevoordeel.

Vuis teen misdaad

Johnson het beloof om teen 2022 nog 20 000 polisielede op straat te hê.

Strenger immigrasiebeheer

Hy wil ’n puntestelsel soortgelyk aan dié van Australië instel sodat migrante beoordeel kan word op dit wat hulle Brittanje kan bied.

Groen visie

Hy het beloof om kweekhuisgasse teen 2050 tot nul te verminder. Maar as parlementslid het hy herhaaldelik teen beleid gestem om koolstofvrylatings te verminder.

HOE GEWILD IS HY WERKLIK?

Hy het sy party se leierskapstryd met 66% van die stemme gewen. Maar as hy die algemene verkiesing in 2022 wil wen, sal hy ook Britse kiesers se harte moet verower en behou.

’n Onlangse peiling toon egter dat 58% van kiesers hom in ’n negatiewe lig beskou. In die parlement sal hy opdraande van die opposisie kry.

Die Arbeidersparty-teenstanders dreig reeds met ’n mosie van wantroue teen hom – en sy party het ’n werkende meerderheid van net twee setels.

DIE BRITTE SE TRUMP?

Kort ná Johnson se sege het Amerika se pres. Donald Trump hom “ ’n goeie man” genoem.

“Hy’s taai en hy’s slim. Hulle noem hom ‘Brittanje se Trump’, en mense sê dis ’n goeie ding,” het Trump laat hoor.

Johnson en pres. Donald Trump groet mekaar in 2017 by die Ver­enig­de Nasies in New York.

Johnson is dalk liberaler as Trump oor kwessies soos immigrasie, handel en gay regte, maar hulle het tog dinge gemeen benewens hul blonde kapsels: Hulle weet hoe om mense aan hul kant te kry deur hulle te vertel nét wat hulle wil hoor.

Tog meen sommige Britse kommentators Johnson, wat aan Engeland se Universiteit van Oxford in Engels en klassieke studie uitgeblink het, is allesbehalwe Trump se kloon.

Die ontleder Kirsty Strickland het in die Skotse koerant The Herald geskryf Johnson se koddigheid is net toneelspel om sy ware aard as ambisieuse, uitgeslape politikus te verbloem.

SY BLAPSE

In die Konserwatiewe leierskapstryd het Johnson baie gespog oor sy twee termyne as die fietsryende burgemeester van Londen. Hy beweer hy het die stad se moordsyfer verlaag en in 2012 ’n suksesvolle Olimpiese Spele aangebied.

Hy word gekritiseer oor die kabelkarprojek waarvoor hy die groen lig gegee het toe hy burgemeester was.

Maar kritici wys op sy vele mislukkings, waaronder ’n kabelkar oor die Teems wat ’n wit olifant is en miljoene ponde se belastinggeld wat op ’n tuinbrug oor die Teems vermors is.

Ook as minister van buitelandse sake was hy allesbehalwe gepoleerd. Tydens ’n omstrede besoek aan Libië het hy opgemerk die land kan ’n toerismetrekpleister word mits “die lyke opgeruim word”.

En in 2016 het hy na die ganse Afrika-vasteland as “daardie land” verwys . . . 

Foto’s: Gallo images/Getty Images, Gallo images/ReutersFoto’s: Gallo images/Getty Images, Gallo images/Reuters

BRONNE: EURONEWS.COM, HERALDSCOTLAND.COM, DAILYMAIL.CO.UK, GUARDIAN.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK