Dit is die woorde wat elke vrou vrees om te hoor: Sy het borskanker. En dat sy ’n dubbele mastektomie moet ondergaan om te verhoed dat dié lewensbedreigende siekte haar liggaam verteer.

Maar die 37-jarige Camilla Neelse is geen gewone geval nie. Die diagnose wat vir soveel ander vroue soos ’n doodsvonnis kan klink, is vir haar ’n uitkoms. “Ek kan eindelik toekoms toe kyk,” sê Camilla aan Huisgenoot dae nadat borskanker by haar gediagnoseer is.

“Ek sien die lig aan die einde van dié ding.” Haar reaksie klink dalk onverstaanbaar en moontlik ongevoelig teenoor ander vroue wat die pad met borskanker stap.

Maar Camilla se verligting spruit uit die feit dat sy weens die kanker eindelik ontslae kan raak van die reusagtige borste wat haar die afgelope vier jaar al soveel pyn en lyding besorg het.

Sy ly aan gigantomastie, ’n toestand wat veroorsaak dat haar borsbindweefsel aanhoudend en uitermatig groei. Met Huisgenoot se vorige besoek aan haar 10 maande gelede was sy meestal aan die bed gekluister.

Toe was die ma van een se borste reeds groter as 40JJ. En sy vertel haar borste – wat weens die gewig daarvan pyn in haar skouers, rug en knieë veroorsaak – het net aanhou groei.

Camilla,reuseborste
Vandag is Nazeem haar behoud, sê sy. Foto: Emile Hendricks

Sy smag al lank daarna om haar borste te laat verklein, maar die duur operasie sal nie deur haar mediese skema gedek word nie aangesien dit as ’n kosmetiese prosedure beskou word.

Vanweë die kanker sal haar mediese skema nou wel betaal om haar borste te laat verwyder. En vir Camilla beteken dit verligting. Eindelik kan sy weer droom van ’n dag waarop sy beweegliker en dalk sonder pyn sal wees.

“Ek kan niks vir myself doen nie. My man, Nazeem, moet alles vir my doen,” verduidelik sy haar omstandighede.

Ná die kankerdiagnose het sy nie gras onder haar voete laat groei om die mastektomie te bespreek nie. “Vroeg in September kry ek my lewe terug,” sê sy. “Kanker het tot my redding gekom.”

Camilla, wat 130 kg weeg, vertel sy het onlangs die wilsbesluit geneem om nie langer net op die bed te bly lê nie.

“Ek het selde opgestaan, want ek was op ’n baie donker plek. ’n Mens raak depressed, en jy sien nie hoe jy daaruit gaan kom nie,” vertel sy.

“Maar deesdae loop ek weer kort entjies. My man en my seun help my. Ek weier om ’n rolstoel te gebruik; netnou kom ek nie regop nie.”

Sy skuifel moeisaam deur die huis, vertel sy. Nazeem (36) moet haar lyf was, haar aantrek en selfs bystaan wanneer sy die toilet gebruik.

“Ek kan darem my eie gesig was. Dis hoekom ek my hare so kort hou – dis sodat ek dit self kan manage,” sê sy.

Camilla vertel sy het in 2008 tydens haar swangerskap met haar seun opgemerk haar borste raak groter. “Ek kon nie my maag sien nie, so groot was my borste.”

Sy het vanweë die swangerskap nie veel daarvan gedink nie.

Maar in 2015 het haar ma gesê dit is nie normaal dat haar borste ál groter word nie. Sy het gaan hulp soek, maar moes onder meer by ’n staatshospitaal hoor sy is bloot vet en moet gewig verloor.

“Mense sal nog soms vir my sulke goed sê soos ‘jy is net lui’ of ‘jy moet van jou dik bas af opstaan’, maar dit pla my nie meer soos dit voorheen het nie,” vertel sy.

In 2016 is gigantomastie eindelik by haar gediagnoseer, maar by navraag moes sy hoor haar mediese skema dek nie borsverkleinings nie; iets wat haar las sou verlig. Sy het so normaal moontlik probeer leef ten spyte van die toenemende pyn en verlies aan beweeglikheid.

Maar in Oktober verlede jaar is sy medies ongeskik bevind om haar werk as ontvangsdame verder te doen. Sedertdien bly sy tuis, as’t ware ’n gevangene van haar lyf.

Nazeem, met wie sy vyf jaar getroud is, moes verlede jaar sy werk as bestuurder by ’n vulstasie prysgee om haar te versorg. Camilla vertel sy ly ook aan osteoporose, slaapapnee en fibromialgie, wat wydverspreide liggaamspyn veroorsaak.

Camilla en haar man op hul troudag
Nazeem en Camilla op hul troudag vyf jaar gelede. Toe was haar borste beduidend kleiner as nou. Foto: Verskaf

Boonop het sy tipe 2-diabetes en endometriose in haar eierstokke. Maar dit is veral haar borste wat haar pla en ook snags wakker hou. “Ek slaap nie; ek kan nie,” sê sy.

In Januarie het haar hoop op verligting tydelik opgevlam toe ’n plastiese chirurg in Johannesburg aangebied het om haar borste gratis te verklein.

“Ons het haar in Januarie gaan sien, maar dit het ons R20 000 gekos net om na Johannesburg te reis en ’n week daar te bly. Ons kon dit nog nie weer bekostig nie,” vertel Camilla.

Alles het verander toe sy onlangs vir ’n roetinemammogram gaan. ’n Kwaadaardige gewas van sowat 1 cm is gevind.

“Die gewas is diep in my bors,” verduidelik sy. Die kankerdiagnose het beteken dat die mediese skema, wat steeds deur haar voormalige werkgewer bygehou word, vir haar dubbele mastektomie in Kimberley sal betaal.

Maar al was sy verlig dat sy eindelik van haar las verlig sou word, was Camilla aanvanklik bekommerd oor hoe Nazeem sou reageer.

“Toe ons die kankerdiagnose kry, het ek gedink: Wat as hy my nie meer soek nie; hy het mos met ’n vrou met groot borste getrou. Maar hy sê toe vir my hy het met my getrou vir wie ek is, nie oor my borste nie,” vertel sy. “Ek is innig dankbaar vir my man.”

Ja, dit gaan vir haar vreemd wees om nie meer borste te hê nie. “Maar om nie meer so swaar te dra nie; ek sien uit daarna.”

camille,reuseborste
Sy kan nou skaars haar jas se knope vasmaak, iets wat sy vroeër maklik kon doen. Foto's: Verskaf en Emile Hendricks

En bowenal sien sy uit na die beter lewensgehalte wat groter beweeglikheid sal bring. Sy vertel haar 11-jarige seun sien veral uit na gesinsuitstappies.

“Hy wil net family time hê. Alles gaan altyd oor my; dis nie reg nie. Ek het hom belowe ons sal ná die operasie games speel.” En sy wil weer dans soos voor haar seun se geboorte.

“Die community het my gevra om weer soos voorheen jazz-danslesse te gee. Ek gaan begin sodra ek kan,” sê sy.

Ná haar mastektomie sal sy eers fisioterapie moet ontvang “omdat my rug so hard gewerk het met my borste se gewig”, vertel sy.

En daar lê dalk ook ’n moeilike pad voor met behandeling teen die kanker. Sy sal wel borsrekonstruksie oorweeg.

“Voor my borste so groot geraak het, het ek van hulle gehou. Maar Nazeem wil niks weet nie.”

En dan verklaar sy: “Vir die eerste keer het ek regtig hoop. My sielkundige en Nazeem het eers gedink ek gaan die kankerdiagnose sleg vat, maar ek kan amper nie ophou smile nie. Een van die dae gaan ek weer my ou self wees.” 

Dubbele Mastektomie

Dr. Greg Gyer, ’n onkoloog van Pretoria, sê gigantomastie verhoog die waarskynlikheid van borskanker.

“Dit is nie ’n uitgemaakte saak nie, maar die kans is groter omdat die borste gro- ter is.”

Dit is onduidelik of Camilla se kanker versprei het, maar die dubbele mastektomie sal gedoen word eerder as om die kans te waag dat dit versprei.

Greg sê die gewas in haar bors sal ná die mastektomie ontleed word om die presiese aard daarvan vas te stel.

Tydens opvolgondersoeke ná Camilla se prosedure sal ’n onkoloog besluit of nog behandeling soos bestraling, chemo- of hormoonterapie benodig word.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.