Die 28-jarige dokter is een van drie COVID-19-pasiënte wat Woensdagoggend uit ’n hospitaal in Modimolle, Limpopo, ontslaan is ná volgehoue druk van hul onderskeie regspanne.

Die ander is Elmarie van Emmenis (64) van Lephalale, en Taryn Williams (28), wat saam met Claire in Modimolle bly.

“Ek is so verlig en bly om by die huis te wees,” vertel Claire verder oor die foon aan Huisgenoot.

Haar honde, Hunter, Bailey en Killer, was uit hulle nate om haar weer tuis te hê.

Claire kon gelukkig vriende kry om na haar honde by die huis om te sien nadat sy positief getoets het vir COVID-19.

Taryn – ook ’n dokter, wat saam met Claire in ’n hospitaal 50 km van hul huis werk – het op 21 Maart simptome begin wys van COVID-19.

“My simptome was baie ligter as hare,” vertel Claire, maar op 24 Maart het sy slaperig begin voel en op 28 Maart het Taryn in Bela-Bela positief getoets.

“Omdat ons saam bly, het ek myself op 29 Maart laat toets en die dag daarna het ek gehoor my uitslag is ook positief,” onthou Claire.

Daarna het ’n verteenwoordiger van die departement van gesondheid hulle tuis kom besoek. “Alles het toe normaal gelyk en daar was nie enige simptome nie,” vertel Claire.

Die volgende dag het ’n ambulans opgedaag om hulle hospitaal toe te neem vir isolasie, Claire meen dit was "traumaties" en onnodig om na ’n hospitaalkamer toe te gaan omdat hulle tuis in selfisolasie was. 

Die Suid-Afrikaanse Mediese Assosiasie (SAMA) het dadelik probeer ingryp. “Wat moes die bure dink? Ons is nie misdadigers nie,” sê Claire. Hulle moes vinnig inpak en reëlings tref vir die honde.

"Ek is nie iemand wat TV kyk nie en het maar op my selfoon mediese vaktydskrifte gelees," vertel Claire.

Sy en Taryn kon sowat ’n week later huis toe gaan nadat dr. Llewellyn Curlewis, ’n strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, opponerende hofstukke by die hooggeregshof in Polokwane ingedien het teen die hofbevel wat die departement van gesondheid bekom het om Claire en Taryn te dwing om hospitaal toe te gaan. 

Die departement van gesondheid in Limpopo meen in ’n verklaring dat hulle hul gemeenskap en hul huishulp in gevaar gestel het.

Verklaring van die Limpopo departement van gesondh
Verklaring van die Limpopo departement van gesondheid.
Verklaring van die Limpopo departement van gesondh
Verklaring van die Limpopo departement van gesondheid.

“Ek het die vrou wat vir ons werk dadelik gebel en die departement laat weet sy kon dalk aangesteek het. Dis nie waar dat ons nie haar gesondheid in ag geneem het nie," hou Claire vol. 

“Die laaste dag wat sy vir ons gewerk het, was 25 Maart.

"Op 1 April het die toetse gewys sy was negatief vir die coronavirus,” voeg Claire by.

“Ons het al die regulasies gevolg en dadelik geselfisoleer by die huis. Ons het nooit die huis verlaat nie en het ook nie gaste gekry nie,” verduidelik sy.

Hulle is verheug dat hulle weer tuis kan werk en sien uit daarna om as Suid-Afrikaners en dokters hul deel te doen, meen Clarie.

“Ons is passievol en mal oor ons werk,” vertel Claire. “Ons wil net teruggaan.” 

“Ons werk die hele Paasnaweek en is gereed," voeg sy by.

Dr. Claire Olivier en Bailey, wat haar baie gemis
Dr. Claire Olivier en Bailey, wat haar baie gemis het toe sy in isolasie was in die hospitaal. Foto: Verskaf
Killer. Foto: Verskaf
Killer. Foto: Verskaf


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.