Saterdag 23 Maart, omstreeks 16:00. By die Matsiengvliegklub op ’n plaas aan die buitewyke van Gaborone word die eersdaagse koms van ’n nuwe lewetjie onder die uit­gestrekte blou lug van Bo­t­swana gevier. ’n Groep mans braai by die klubhuis; by ’n tweede huis ’n ent weg hou vroue ’n ooievaarstee.

Maar uit dié blou lug sou ’n tragedie binnekort neer­swiep – een wat die gemeenskap tot in sy fondamente geruk het.

By die ooievaarstee sien Natasha Viljoen haar vervreemde man, Charl, se bakkie buite stilhou. Maar dis hul sewejarige seuntjie wat uitklim en nader stap: “Mamma, pappa wil met jou praat . . .”

Sy vrou, Natasha, en hul sewe­jarige seun in geluk
Sy vrou, Natasha, en hul sewe­jarige seun in gelukkiger dae.

Natasha (32) sê nee, nie by hierdie heuglike geleentheid nie. Want nadat Charl ’n maand tevore hul huis verlaat het, baklei hy gedurig met haar.

Haar ma, Dalene, stap uit en praat met Charl. Hy omhels sy skoonma en ry alleen weg. Die atmosfeer by die ooievaarstee is skielik gedemp. In ’n klein gemeenskap soos dié weet almal van die paartjie se probleme.

Skaars 15 minute nadat Charl opgedaag het en weer vort is, sluit die meeste vroue by die mans by die klubhuis aan. 

'Waar is Natasha?'

Charl (37) was intussen ook by die klubhuis vir ’n bier, maar het weer gery.

17:30: Die son val ál laer uit die blou lug. By die braai kuier die sowat 50 mense gesellig toe Jan de Wet, mede-eienaar van die Matsiengvliegklub, se selfoon lui.

“Waar is Natasha?” hoor hy Charl se stem bo die gedreun van vliegtuig­motore.

“Sy is hier; hier by die klubhuis,” antwoord Jan.

“Sê sy moet op die aanloopbaan gaan staan,” sê Charl.

“Ek gaan julle almal nou iets wys.”

Oomblikke later skeur ’n Beechcraft King Air B200-­vliegtuig laag oor die aanloopbaan.

“Dis Charl!” skree een van die mans.

Die vliegtuig draai en vlieg weer laag oor hulle, vyf keer altesaam. Iemand besef Charl, ’n ervare vlieënier van Kala­hari Ai Services, is nie besig met spogtoertjies nie.

“Hardloop; gryp jul kinders en vlug!” skree ’n manstem.

Natasha raap haar seuntjie op en hardloop. Mense spat in alle rigtings. Sekondes later is dit asof ’n bom ontplof . . .

Toe sy tot verhaal kom, sien sy ’n bol vuur en dik, swart rook waar die klubhuis oomblikke tevore nog was. En sy weet: Haar man van die afgelope 10 jaar is in die hart van daardie vlammesee.

Net soos sy en baie van hul vriende so byna was.


En ná die skok kom die vraag: Hoekom?

Net meer as ’n week ná Charl se doodsvlug sukkel die gemeenskap sowat 40 minute se ry van die middestad van Gaborone steeds om die gebeure te verwerk. Wonderbaarlik is niemand anders dood toe die vliegtuig die klubhuis getref het nie, maar die skok is nog rou.

Die prentjie wat kennisse van Charl skets, is van iemand met ’n vinnige humeur wat depressief en soms impulsief was.

Maar wat hom so geknak het dat hy vermoedelik doelbewus in die klubhuis vasgevlieg het, bly ’n raaisel – selfs vir Natasha, vertel ’n vriendin van haar.

Die terrein waar die klubhuis eens was, is nou in
Die terrein waar die klubhuis eens was, is nou in puin.
Die vlugramp het totale verwoesting gesaai.
Die vlugramp het totale verwoesting gesaai.

Natasha self wou nie met Huisgenoot praat nie. Maar in Charl se begrafnisbrief van 29 Maart skryf sy: “Ek is jammer dat jy so moes gaan. Maar net jy en jy alleen weet wat jou redes was. Ek’s seer oor dit. Ons het jou lief. Rus in vrede.”

In dieselfde brief skryf sy sewejarige seuntjie: “Ek wens ek kon pappa nog een keer sien voor pappa ge-crash het. Ek huil elke dag. Ek wens pappa kon nog een keer kom sit het hier by my. Ek is lief vir jou.”

Depressie

Sy vriende het geweet van sy stryd met depressie.

“Hy was in ’n verskriklike donker put, die diepste gat waarin ek ’n mens al ooit sien beland het,” vertel een.

Hy het in die laaste maande op sy Facebookblad geskree van seer.

Charl het immers op sy persoonlike Facebookblad – wat ná sy dood verwyder is – geskryf: “If you can survive the war inside yourself, you can survive anything.”

Sy gemoed was grou, vertel die vriend.

“Hy het in die laaste maande op sy Facebookblad geskree van seer. Sy profiel was vol plasings wat praat van verwerping en depressie. My vrou het uit kommer gevra ek moet hom bel of ’n boodskap stuur. Ek het toe nooit . . .”

Volgens die vriend is Charl ’n paar jaar gelede weg by Kalahari Air Services, waar hy ’n vlieënier was. Hy het toe ’n onderneming begin wat skrootmetaal uit Bot­swana in Suid-Afrika verkoop. Verlede jaar was hy glo terug by Kalahari Air Services.

Charl Viljoen was volgens vriende ’n hoogs betroub
Charl Viljoen was volgens vriende ’n hoogs betroubare vlieënier.

“Hy’t nooit aan my vertel sy onderneming het dalk gevou of in die moeilikheid beland nie. Ek’t aangeneem sy gemoedstoestand is veroorsaak deur probleme daarmee,” vertel die vriend.

Nog ’n bron na aan die egpaar vertel Charl se vriende het hom oorreed om hulp te kry met sy gemoedstoestand en dat hy einde verlede jaar ’n sielkundige in Pretoria gaan sien het.

Emosionele afpersing en manipulasie

“Niemand kan ontken hy het die laaste ruk verander nie. Hy het sy vrou en sy vriende van hom vervreem. Dalk was dit omdat hy vir Natasha verloor het; dalk het iets anders binne hom gebroei.”

’n Vriendin van Natasha beweer Charl was besitlik en het sy vrou emosioneel afgepers en gemanipuleer. En toe dit hul huwelik vernietig, het Charl depressief geraak, vertel die vriendin.

Natasha het in vrees gelewe. Sy het altyd gesê sy is bang vir Charl.

“Natasha mag niks sonder hom gedoen het nie. Sy mag nie gewerk het nie; nie alleen saam met vriende gekuier het nie; nie eens winkel toe gery het nie,” beweer die vriendin.

Volgens haar het mense wat hom minder goed ken hom as liefdevol beskou.

“Hy was dalk so voor ander mense, maar ek het nooit sy goeie kant beleef nie. Natasha het in vrees gelewe. Sy het altyd gesê sy is bang vir Charl; bang hy sal iets simpels doen.”

'n Derde party?

Die vriendin ook sê sy glo die gerugte van ’n ander vrou.

“Charl het vroeg in Februarie uit hul huis getrek. Hy is die volgende dag saam met ’n ander vrou betrap. Nie deur Natasha nie, deur kennisse van haar. Ek weet nie of sy hom ooit daaroor gekonfronteer het nie; haar huwelik was reeds op die rotse. Nie oor ’n ander vrou nie, maar omdat sy emosioneel uitgemergel was.”

Die vriendin beweer Charl se emosionele afdreigery het voortgeduur nadat hulle vervreem geraak het.

“Hy het eenkeer vir haar gesê hy sal sy eie lewe neem. Hy het met tye ongelooflik lelik met haar gepraat. Hy sou haar dreig; dan trap hy haar uit of verskree haar, of stuur vir haar die aakligste teksboodskappe. Hy het haar selfoon meer as een maal flenters gegooi,” beweer die vriendin.

“Ek voel verskriklike woede oor daardie dag (by die vliegklub). Omdat ek nog elke nag die vroue hoor skreeu; Natasha se seuntjie sien huil . . . 

“As hy werklik niemand wou seermaak nie, hoekom het hy in die gebou vasgevlieg waarin ons almal was?

“En hoekom het hy versoek dat Natasha op die aanloopbaan gaan staan – sodat sy kon toekyk hoe hy ons almal se dood veroorsaak; sodat sy kwansuis dieselfde seer as hy kan ervaar?”

Kalahari Air Services, ’n privaat redery, is gebaseer by die Sir Seretse Khama- Internasionele Lughawe in Gaborone – enkele minute se vliegtyd van die Ma­tsiengklubhuis af.

’n Nooddiensbeampte wat op die toneel van die tragedie was, beweer Charl is van die Matsieng-vliegklub af direk na Sir Seretse Khama, waar hy glo die Beechcraft sonder magtiging geneem en opgestyg het.

Kalahari Air het kort voor druktyd nog nie op navrae hieroor gereageer nie.

Wou Charl alleen sterf?

Nog ’n bron is oortuig Charl wou nie alleen sterf nie.

“As hy net sy eie lewe wou neem, sou hy almal gewaarsku het om uit die klubhuis te vlug. Ná vyf laagvlugte oor die klubhuis het hy reguit in die gebou vasgevlieg – hy het nie die wiele laat sak of spoed verminder nie.”

Charl se pa, Buks Viljoen (62), het aan Rapport vertel hy was bang Charl sou sy eie lewe neem.

“Ek het hom mooi gevra om nooit daardie stap te doen nie. Dat hy hulp moet kry. My seun was tot die einde lief vir sy vrou en het verbete geveg teen die verbrokkeling van hul huwelik,” het Buks beweer en volgehou daar was geen derde party in sy seun se huwelik nie.

'Hy is nie 'n monster nie'

Hy het aan Rapport erken sy seun “was soms dominerend en bombasties”, maar volgehou: “Hy was nie hierdie monster wat mense hom nou maak nie.”

Intussen word Natasha omring deur geliefdes wat haar in “die moeilikste tyd van haar lewe” staande hou.

Op Facebook skryf haar suster, Narissa Winter: “My sus, jy is ’n sterk vrou en ’n fantastiese ma. Love you always. Die Here dra julle elke oomblik.”

Natasha se vriendin sê: “Haar hart is veral gebreek oor wat haar seuntjie moes deurmaak. Sy moet nou die stukke probeer optel.”

Het jy hulp nodig?
  • Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG): 0800-567-567
  • Lifeline vir trauma-berading en ondersteuning: 0861-322-322
  • Familie- en huweliksberading deur FAMSA: 011-975-7106/7
  • POWA vir die beskerming van vroueregte: 011-642-4345/6


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.