Die lyke van Sandra (39), haar dogters Shereé (19) en Lee-Ann (16), asook haar seun Simeon (10), is almal net meer as 'n maand gelede met skietwonde in die leefvertrek van hul huis in Sallies Village in Brakpan aan die Oos-Rand gekry.

Die polisie se ondersoek na die voorval duur steeds voort.

vertrek,brakpan
Foto: Verskaf

Voor Sandra se tragiese dood, het die familie beplan om die afgelope Sondag, 20 Augustus, haar 40ste verjaardag saam te vier. “Ons sou almal bymekaarkom en saam ’n groot ete hou."

Maar die skiettragedie van 'n maand gelede het hul planne gekelder.

brakpan oorledenes
BO, van links: Die Schwartz-gesinslede wat in die tragedie gesterf het, is Sandra, Lee-Ann, Shereé en Simeon. Foto's: Netwerk24

“Ek kan steeds nie glo dat sy weg is nie,” het Linda Hamer, Sandra se suster, Woensdag aan Huisgenoot vertel.

Sandra se familie het sedert die tragedie op 10 Julie nog nie met Sandra se man, Johan (41), kontak gehad nie.

Ook Huisgenoot kon Johan nog glad nie in die hande kry om met hom oor die tragedie te praat nie. Huisgenoot het hom verskeie kere probeer kontak om met hom oor die tragedie en sy verlies te praat, maar sy selfoon gaan reguit stempos toe.

Die gastehuis waar hy voorheen gewerk het, het bevestig dat hy steeds in hul diens is, maar Huisgenoot se pogings om hom daar te kontak was ook onsuksesvol. 

Samantha Labuschagne, sy werkgewer, het Johan kort ná die voorval aan Huisgenoot as ’n “lojale, stabiele en liefdevolle mens” beskryf wat “vir sy familie” geleef het.

“Dit is vir hom verskriklik moeilik om te aanvaar dat sy gesin uitgewis is,” het sy gesê.

Sy het vertel sy seun se dood het hom veral hard getref.

Intussen is die ondersoek na die omstandighede rondom die skiettreurspel na die polisie se provinsiale kantoor verwys. 

“Ek bid elke dag dat die Here sy hand sal hou oor die ondersoek en ek glo hulle maak vordering,” sê Linda. 

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die ondersoek en die oorsaak van die gesin se dood gaan voort, maar hy kan geen besonderhede rakende die saak bekend maak nie.