Die polisie het vandeesweek bevestig dat die ondersoek na die dood van Sandra Schwartz (39) en haar drie kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10), van Brakpan, nou na dié van moord verander is.

Die foto van Shereé Schwartz, haar sussie Lee-Ann en kleinboet Simeon is ’n aantal jare gelede geneem. Al drie kinders is Woensdag dood in hul ouerhuis in Brakpan aangetref.

Die lyke van die vier gesinslede is op 10 Julie vanjaar in hul huis in Sallies Village in Brakpan ontdek.

Johan Schwartz (41), Sandra se man, het na bewering op sy gesin se lyke afgekom. Sy 9mm-pistool is langs Sandra gevind. Johan voer aan hy was die dag by die werk by die Medley-gastehuis en het sy vuurwapen by die huis vir veilige bewaring agtergelaat. Simeon was sy en Sandra se seun saam, maar Shereé en Lee-Ann, was nie sy biologiese dogters nie.

vertrek,brakpan
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
hoofslaapkamer,brakpan
Foto: Verskaf
brakpan-familietragedie
Foto: Verskaf
Brakpan family murder
Brakpan family murder. (Photo: Supplied)
Brakpan family murder
Brakpan family murder. (Photo: Supplied)

Johan het nog nooit oor die gebeure gepraat nie en het begin huil toe Huisgenoot hom bel.

Johan Schwartz word ondersteun deur Mark Graham (buurman) en Lammie du Toit (vriend) waar hy kniel terwyl sy seun, Simeon (10), se kis in die graf afsak. Foto: Deaan Vivier


“Ek het nou niks om vir niemand te sê nie. As die polisie se forensiese verslag uit is, dan sal ek, maar dit is nog nie uit nie. Die Here ken my hart. Ek weet self nie wat gebeur het nie, hoekom sy dit gedoen het en my kinders moes saamvat nie,” is al wat hy gesê het. Hy het ook ’n paar Bybelverse aangehaal.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder van die kantoor van die provinsiale kommissaris, het Donderdag aan Huisgenoot bevestig ’n taakspan van die polisie se provinsiale kantoor ondersoek nou die moontlikheid dat al vier familielede vermoor is en dat Sandra nie self haar kinders geskiet en toe selfdood toegepas het soos aanvanklik vermoed is nie.

Linda Hamer (49), Sandra se gebroke ouer suster, sê die afgelope vyf maande was vir hulle verskriklik. Al wat sover berusting gebring het, is dat hulle nou vir seker weet dit wás moord en dat Sandra nie die een was wat die skietwerk gedoen het nie. Ook sy is geskiet.

Huisgenoot het betroubaar verneem daar was waarskynlik meer as een ander persoon daardie dag in die huis. Niks is gesteel nie. “Al wat ons weet is die ondersoek is nou in ’n baie sensitiewe stadium. Ons is aangesê om vir ons eie veiligheid nie te veel vrae te vra en te krap nie. Maar wat ek wel vir jou kan sê is: Ek voel glad nie rustig nie. Ons wíl weet wat werklik met my suster en haar kinders gebeur het en hóékom.”

Linda en haar ma, Levina (63), het sedert die tragedie volgehou hulle het vandat hulle die skoknuus gehoor het, nie vir een oomblik geglo dat Sandra haar kinders en toe haarself om die lewe sou bring nie.



In ’n laaste video wat die familie aan Huisgenoot verskaf het, sien 'n mens hoe Sandra met klein Simeon voor haar vir ’n familielid se dogtertjie vir haar verjaardag sing. Agter dié meisie staan Lee-Ann.

“As jy dié video kyk, kan jy jouself nie indink dat Sandra daai kindjie (Simeon), vir wie sy só lief, was koelbloedig in die kop sou doodskiet nie. Nie een van haar kinders nie. Die ding is besig om my ma dood te maak.”

Levina Britz
Levina Britz is hartgebroke ná haar dogter en drie kleinkinders se dood. Hulle het in hulle huis in Brakpan gesterf. Foto: Onkgopotse Koloti

Linda sê hulle doen hul bes om rustig te bly omdat hulle weet die polisie wag nog op forensiese uitslae. Sy weet hierdie is geen gewone ondersoek nie en dat dit baie intensief is.

“Ons voel net gee ons net iéts om ons tot bedaring te bring, enigiets sodat ons net kan beter voel,” was haar emosionele pleidooi.

Die familie het al verskeie bewerings gemaak dat die meisies deur iemand na aan die familie seksueel gemolesteer is. Die polisie het aan Huisgenoot bevestig dié bewerings word ondersoek. Geen amptelike klagte is voor die moorde ooit by die owerheid ingedien nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.