Shamonei (20) hou vol dit was 'n wonderwerk. 

“My kind het leweloos op die water gedryf. Dit was verskriklik traumaties om te sien,” sê sy. 

Shamonei en klein Shiané het verlede week Vrydag by Shamonei se ma, Elize Bezuidenhout, op dié Oosrandse dorp gaan kuier toe die voorval gebeur het. 

“Ons het in die sitkamer gesit en Shiané was die dag woelig en het heeltyd tussen die traliehek en die sitkamer geloop en tussen alles deur happies jogurt geëet.” 

Shiané het dit reggekry om die veiligheidshek oop te maak en na die swembad te loop. 

“Die volgende oomblik het ons net die angswekkende gil van my ma se huiswerker gehoor. Ons almal het na buite gehardloop en op Shiané afgekom wat op die water dryf.” 

Shamonei is vyf weke swanger. 

“Ek het in daardie stadium gedink met die skok wat ek ervaar het, gaan ek albei my kinders verloor.” 

Shamonei, haar man Johan en Shiané.
Shamonei, haar man, Johan, en Shiané. Foto: Verskaf

Shamonei se broer, Dylan (24), het in die swembad gespring en Shiané uitgeduik. 

“Hy het haar vir my ma gegee en sy het dadelik mond-tot-mond asemhaling begin toepas terwyl Dylan die nooddienste gekontak het.”

Dylan het in ’n stadium by Elize oorgeneem en het ook mond-tot-mond asemhaling toegepas. Hulle kon dit regkry om ’n pols by Shiané te kry. 

Volgens Shamonei was die nooddienste binne minute daar. 

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir die Saints Emergency Services nie. Hulle het blitsvinnig op die toneel aangekom en dit reggekry om my kind te stabiliseer.” 

Die paramedici het dit wonderbaarlik reggekry om Shiané by te bring. 

“Dit was ’n wonderwerk. Ek het gedink ek gaan my kind se begrafnis moet reël.” 

Shiané is ongedeerd. 

“Sy is 100% haarself. Sy het geen breinskade of skade aan haar longe opgedoen nie.

“Dit kon soveel erger gewees het. Ek is bitter dankbaar dat die Here sy hand oor my kind gehou het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe