Klein Karlien Roets (3) was baie opgewonde toe sy die boks met die koekiebakmengsel tussen die kruideniersware kry wat haar ma vir die volgende week se kampvakansie gekoop het.

“Karlientjie het nog gevra: Mamma, gaan ons koekies bak?’ Ek het net vir haar gesê: ‘Nee, nie nou nie, my skat. Ons moet eers met die kombuis klaarmaak.’ 

Karin Roets (27), ’n rekenmeester van Dalview, Brakpan, vertel steeds met ongeloof in haar stem hoe hul gesin se lewe op Vrydag 10 Augustus vir ewig verander het toe ’n leë kruidenierskas op haar oudste kind val. Hulle was besig om ’n nuwe kombuis elders in die huis in te rig.

Haar man, Frikkie (30), is ’n operasionele bestuurder by dieselfde familieonderneming waar sy werk, Omega Communications, wat tweerigtingradiotegnologieprodukte en -dienste verkoop. Hy wou die meeste van die werk self doen omdat dit meer bekostigbaar vir hulle sou wees.

Karlien Roets voor die ongeluk by haar babasussie,
Karlien Roets voor die ongeluk by haar babasussie, Nadine

“Ons het juis die ou kombuis geskuif omdat ek dit nader aan die sitkamer wou hê waar ek ’n ogie oor Karlien en haar ses maande oue sussie, Nadine, kon hou.”

Sy vertel haar man het dié middag met die boor en die skroewe in sy hand gestaan om ’n losstaande kas teen die muur vas te sit, toe Karlien die koekiemengsel in die kas wou bêre.

Vyf sekondes later toe gil my man: “Die kas het op Karlien geval!”

Karin en Frikkie het dadelik die kas van hul krulkopdogtertjie gelig.

“Die bloed het by haar neusie en ore uitgestroom,” vertel sy oor die oomblik toe sy haar kind bewusteloos sien lê. Karlien het met die kas bo op haar agteroor geval. Sy het nie net haar kop hard teen die teëlvloer gekap nie; die kas het ook haar linkerwang gebreek toe dit bo op haar val.

“Ons het met haar na die naaste kliniek gejaag. Ek onthou net hoe die dokters en verpleegsters in en uit gehardloop het. Ek het net gebid: “Asseblief, Here, spaar vandag my kind.” Die dokters het daarin geslaag om klein Karlien te stabiliseer en die aand is sy na die Netcare Union-hospitaal in Alberton vir nog toetse oorgeplaas.

“Die dokter het daar vir ons gesê dit is baie ernstig. Sy het ’n fraktuur agter aan haar skedel opgedoen.” Sy is dieselfde aand nog na die Netcare Clinton-hospitaal se pediatriese hoësorgeenheid oorgeplaas. 

Die Brakpanse kleuter Karlien Roets in die hospita
Die Brakpanse kleuter Karlien Roets in die hospitaal na die ongeluk

“Jy besef nie dat ’n kas soveel skade kan berokken nie en dat ’n ongeluk so vinnig kan gebeur nie, maar dit doen. Fratsongelukke gebeur in sekondes.”

’n Week en ’n half ná die ongeluk het dinge wel beter gelyk. “Karlien was van die ventilator af. Sy kon selfs loop en met ons praat.”

Maar toe kom ’n reuseterugslag.

Karlien het twee toevalle gekry. Dít het daartoe gelei dat ’n aar in haar brein bars.

“Die beseerde brein het dus seergekry voor sy genoeg kans gehad het om te herstel.” 

Karlien is dadelik geopereer. 

Sy is eindelik op 16 Oktober ná twee maande in die hoësorgeenheid na ’n rehabilitasiehospitaal in Johannesburg oorgeplaas. Maar op 29 Oktober is hulle deur ’n tweede terugslag getref twee dae ná haar derde verjaardag toe Karlien weer drukking op die brein ontwikkel. “Sy het skielik opgehou met asemhaal. Hulle moes haar weer van vooraf bybring. Hulle is (weer) dringend met haar teater toe om die drukking op die brein te verlig.”

Die Brakpanse kleuter Karlien Roets is nou by die
Die Brakpanse kleuter Karlien Roets is nou by die huis na die fratsongeluk.

Toetse het later getoon sy het infeksie in haar spinale vloeistof na die brein opgedoen. 

“Skanderings is gedoen en die dokter het gesê hy is jammer, maar dis baie slegte nuus . . .”

Karin raak stil toe sy vertel: “Die dokter se prognose vir Karlien se toekoms was daarna nie baie goed nie. Ons het onsself toe maar vir die ergste begin voorberei.

”Karlien was sowat twee maande lank in ’n koma toe sy eendag, terwyl haar ouers by haar staan eers haar koppie en toe haar voetjies wonderbaarlik weer begin beweeg.

“Ons het gehoop ons sou haar dalk al vir Kersfees kon huis toe bring, maar sy moes nog in die hospitaal bly. Ek het in dié tyd vir haar musiek gespeel, haar voetjies gevryf en vir haar gelees.”

Maar die kindjie wat hulle eindelik op 16 Januarie sou terug huis toe bring, was nie dieselfde lewenslustige Karlien wat daardie dag opgewonde in die kruideniersrakke gekrap het om koekies te bak of die kind wat so graag oral saam met haar pa wou werskaf nie. Finansieel begin dit ook nou swaar trek.

Die Brakpanse kleuter Karlien Roets is nou by die
Die Brakpanse kleuter Karlien Roets is nou by die huis na die fratsongeluk.

Die gesin se mediese skema het ook laat weet hul sal net tot die einde Maart nog ’n heeltydse versorger dek. Sy is aan ’n ventilator gekoppel waar sy by die huis in haar hospitaalbed lê. Intussen is daar vele behoeftes wat hulle gaan moet vervul om Karlien ’n beter gehalte lewe te bied. Sy kry reeds arbeids-, fisio- en spraakterapie. “Ons kan sien sy reageer wanneer ons om haar is. Ons kan sien in haar oë en asemhaling wanneer sy wakker is of slaap. Sy reageer veral op haar pa se diep stem.”Wanneer ’n mens met haar praat, kom ’n mens agter hulle sal geen moeite vir haar ontsien nie. Die gedagte wat Karlien nooit weer normaal sal wees nie, is ook nie iets waarmee sy haarself al versoen het nie. “Waar lewe is, is hoop!”

Karin Roets by haar kinders, Karlien en babasussie
Karin Roets by haar kinders, Karlien en babasussie Nadine voor die ongeluk.

Het sy al ooit vir haarself gevra hoekom so iets met hulle kind moes gebeur?

“Ek het myself belowe ek moet myself nooit daai vraag afvra nie. As jy jouself daai vraag gaan vra gaan jy net in ’n baie diep gat verval. Karlien het my nóú nodig.”Sy sê dit is is vir klein Nadine baie lekker om haar sussie terug by die huis te hê, en nes Karlien is sy ook ’n ander mens. “Sy is gelukkige baba nou. Ons is almal nou weer waat ons moet wees.”

Enigiemand wat meer inligting wil hê kan haar Facebook-blad Karlien Roets of webblad www.Karlienroets.co.za besoek.