“Dit is bitter moeilik vir my. Ek het twee mense verloor. My hart is stukkend,” sê Alta Putter. 

Haar seun, Jaco (49), het op 31 Augustus, op sy pa, Sakkie, se begrafnis vermis geraak. 

“Die naweek voor my man sy begrafnis het Willem nog kom kuier. Ons het saam klere vir die begrafnis uitgesoek en hy is toe terug huis toe.” 

Haar man, Sakkie, is aan kanker oorlede.  

“Die Maandag met die begrafnis het hy net nie opgedaag nie en is sedertdien vermis. Hy was baie geheg aan sy pa en Sakkie se dood was vir ons almal baie moeilik om te verwerk.” 

Aleta sê Jaco, ’n pa van vier, was nie die soort mens wat sommer net sou verdwyn nie. 

“Hy het gereeld vir ons kom kuier. Hy was nie iemand wat sommer net die pad sou vat nie.” 

Volgens haar is die laaste 10 maande ’n wipplank van emosies. 

“Party dae hoop en bid jy hy leef. Ander dae dink jy weer hy is dood en jy wil rou, maar jy kan nie. Jy het nie die antwoorde nie. Jy weet nie wat van hom geword het nie.” 

Sy sê hulle het al verskeie oproepe gekry dat mense Willem gesien het, maar dit het op niks uitgeloop nie. 

“Mense sal ons bel en sê hulle het Willem in Boksburg by ’n verkeerslig sien bedel, maar as ons daarheen gaan, is daar geen teken van hom nie.” 

Alta sê sy wil net graag uitsluitsel hê en weet wat van haar kind geword het. “Ek soek net antwoorde sodat ek die hoofstuk kan afsluit. Ek wil net weet of my kind nog leef en wat van hom geword het.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe