Klein Renesmé Rossouw se jong ma, Tiffany (19), en pa, Anton Filmater (23), van Brakpan aan die Oos-Rand het enkele dae ná haar geboorte uitgevind Renesmé is met ’n ernstige hartdefek gebore.

Hulle kon egter nie by ’n staatshospitaal hulp kry nie.

“Hulle het gesê die operasie gaan te duur wees en al sou dokters opereer, die kanse baie skraal gaan wees dat sy dit sal oorleef,” het Diana Becker van die ondersteuningsgroep Little help 4 a little Heart Vrydag telefonies vanuit Hoedspruit in Limpopo aan Huisgenoot vertel.

Maar Renesmé se familie het nie opgegee nie en gou het haar pleidooi om haar ’n kans te gee om haar lewe te red soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei.

Klein Renesmé by haar ouers, Tiffany Rossouw en An
Klein Renesmé by haar ouers, Tiffany Rossouw en Anton Filmater. Foto: Verskaf

Diana het dadelik ingegryp toe sy van Renesmé se tragiese verhaal hoor. Haar eie dogtertjie, Dianné (4), was immers ’n jaar gelede in baie dieselfde posisie as Renesmé toe ’n hartkwaal ook by haar gediagnoseer is en sy dringend ’n operasie moes ondergaan.

Dit is juis toe dat sy die ondersteuningsgroep op Facebook gestig het. Sy het gehoop eendag sal sy ook ander ouers kan help.

“Ons was darem in ’n baie meer bevoorregte posisie as Renesmé se ouers. Ons het geweet as ons haar nie by die beste spesialiste kry nie, staan sy nie ’n kans nie.”

Klein Renesmé moet dringend 'n hartoperasie onderg
Klein Renesmé moet dringend 'n hartoperasie ondergaan. Foto: Verskaf
Klein Renesmé Rossouw in die hospitaal. Foto: Vers
Klein Renesmé Rossouw in die hospitaal. Foto: Verskaf

Renesmé het op Sondag 26 April onverwags haar opwagting by die huis gemaak. Sy was drie dae oud toe Tiffany agterkom Renesmé wil nie drink nie. Dit was haar ouma wat gesien het daar is iets groot fout toe die babadogtertjie blou om die mond raak.

Sy is per ambulans na ’n Gautengse staatshospitaal waar ’n aangebore hartdefek, pulmonêre atresie, by haar gediagnoseer is. Daar was twee gaatjies in haar hart. Daar is ook vasgestel sy het geen pulmonêre arterie, oftewel longslagaar, nie.

Die baba sou dringend 'n operasie moes kry om die verbinding, waar haar longslagaar moet wees, minstens tydelik te herstel, maar haar ouers het nie 'n mediese fonds nie.

“Ek moes op 9 Mei my dogtertjie weer na die Netcare Sunninghil-hospitaal toe terugbring, toe ek die aand voor die tyd van Renesmé hoor.”

Diana het met die Maboneng hart en long-instituut geskakel, waar hartspesialiste, wat ook Dianné gehelp het, aangedui het, hulle is bereid om te help.

Klein Renesmé by haar ma,Tiffany Rossouw. Foto: Ve
Klein Renesmé by haar ma,Tiffany Rossouw. Foto: Verskaf
Klein Renesmé Rossouw Foto: Verskaf
Klein Renesmé Rossouw Foto: Verskaf

Maar eers moes hulle byna R500 000 insamel om dit in ’n privaat hospitaal te kan doen.

Volgens Diana het Renesmé Donderdagoggend ’n groot terugslag gehad en gesukkel om asem te kry. “Haar lewe het aan ’n draadjie gehang. Die dokters het inteendeel vir haar ouers gesê hulle moet haar vashou en by haar waak tot sy haar laaste asempie gee.”

Maar Renesmé het deurgetrek.

Teen Donderdagmiddag het Beatrice en Vossie Filmater van Springs, Renesmé se ouma en oupa, gehoor hul mediese fonds sal bereid wees om die operasie te dek, mits hulle ’n sekere bedrag koste vooruit betaal.
Diana vertel sy het deurmekaar gelag en gehuil. “Daar was genoeg geld!”

Met die hulp van talle weldoeners het hulle vinnig meer as R160 000 ingesamel.

“Ek kon dit nie glo nie. Daar is so baie negatiewe nuus, maar jy kon sien daar is mense wat net R10 of R20 bydra, sekerlik al wat hulle self in die moeilike tyd het, om Renesmé te help,” vertel Diana.

Sy vertel sedertdien staan die hartspesialiste van Maboneng reg om in die privaat hospitaal die operasie uit te voer sodra sy daarheen oorgeplaas kan word.

Beatrice het Vrydagoggend aan Huisgenoot vertel Renesmé is tans stabiel en op suurstof. Hulle wag net vir die oorplasing van die staatshospitaal, waar sy tans opgeneem is, na Sunninghill.

“Ons kan nie genoeg dankie sê nie. Ons weet nou Renesmé staan ’n kans. Ons wag in spanning. Ons sal net verlig wees as sy nou by Sunninghill kan uitkom.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.