Sy het nog elke dag voor vandag gehoop dat sy enige oomblik uit 'n skrikwekkende nagmerrie sou wakker skrik, sê Linda Hamer. 

Maar vandag, terwyl haar eie hartseer en dié van ander byna tasbaar was, moes sy dit gelate aanvaar: Haar suster, Sandra Schwartz (39), is dood. En so ook Sandra se drie kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10).

brakpan oorledenes
BO, van links: Die Schwartz-gesinslede wat in die tragedie gesterf het, is Sandra, Lee-Ann, Shereé en Simeon. Foto's: Netwerk24

Die Schwartz-gesin se opspraakwekkende dood het skokgolwe deur die Brakpan-gemeenskap gestuur waar hulle gewoon het.

Hulle is op 10 Julie in hul huis in Sallies Village aan die Oos-Rand doodgeskiet. Sandra se man, Johan (41), was ten tyde van die voorval glo by sy werk by ’n gastehuis in Brakpan. 

Toe hy die middag ná vyfuur tuiskom, het rook by die vensters van sy huis uitgeborrel. En sy hele gesin was uitgewis.

Maar vandag kon ek nie meer hoop om wakker te skrik nie. Die kiste het daar voor my gestaan . . .

“Vandag was die hartseerste dag van my lewe,” vertel Linda ná die begrafnis aan Huisgenoot.

“Dit voel nog sedert daardie dag of ek in ’n nare droom vasgevang is; of ek enige oomblik gaan wakker skrik en besef dit het nooit gebeur nie.

“Maar vandag kon ek nie meer hoop om wakker te skrik nie. Die kiste was daar voor my – en ek moes aanvaar hulle is vir altyd weg.”

Brakpan-tragedie
Sandra Schwartz (39) en haar kinders, Shereé (19), Lee-Ann (16) en Simeon (10), is Dinsdag vanuit die NG Kerk Greymont begrawe. Foto: Verskaf

Die familie is steeds stukkend oor die skielike dood van Sandra en haar kinders, sê Linda. Veral Sandra, wat een van agt kinders was, se ma, Levina Britz, is hartgebroke.

“Daar is soveel vrae. Ons glo met ons hele hart dat Sandra nooit so iets sou doen nie; dat sy nooit ’n vuurwapen sou optel en haar kinders skiet nie. My ma stel baie vrae, maar nie een van hierdie vrae het antwoorde nie. Dit maak 'n mens mal,” sê Linda.

Vandag, terwyl die vier spierwit kiste voor in die kerk gestaan het, het die familie vir elkeen ’n kers aangesteek. 

“Dis sodat hulle liggies altyd sal brand,” sê Linda bewoë. 

Levina Britz
Levina Britz is hartgebroke ná haar dogter en drie kleinkinders se dood. Hulle het in hulle huis in Brakpan gesterf. Foto: Onkgopotse Koloti

Tog probeer hulle mekaar in dié tyd bystaan – en hulle bid nog elke dag vir antwoorde, vertel sy.

“Ons probeer vir mekaar sterk wees, maar dis bitter moeilik. Die seer lê nog ongelooflik diep. Dalk sal dit vir altyd so wees. Dalk sal dit verander wanneer 'n mens antwoorde het oor wat daardie dag gebeur het. Dis so ongelooflik pynlik.”

Dis die skielikheid van die gesin se dood wat hulle so ruk, sê Linda.

Foto verskaf
Foto verskaf

“Niemand is op die dood voorberei nie – niemand. Maar ons het nie gedink dat ons ná ons pa, Nicholas, se dood vyf jaar gelede weer om ’n graf sal moet staan nie. Ons wou dit nie so gou weer face nie. Maar vandag het ons nie ’n keuse gehad nie; hulle is weg.”

Linda het die liedjie Nou in die Hemel aan Sandra en haar kinders opgedra. Die sangeres Karlien van Jaarsveld het die liedjie Die Kruis gesing terwyl die vier kiste na buite gedra is.

Die huis in Brakpan.
Die huis in Brakpan. Foto: Gallo Images/Netwerk24/Deaan Vivier

Sandra en haar kinders is Dinsdagmiddag vroeg langs mekaar in die Wespark-begraafplaas ter ruste gelê. Hulle is ’n paar meter van Nicholas begrawe.

“Toe ons roosblare oor hul kiste strooi, het ek besef net een ding bring troos: Hulle is nou by hul pa en oupa in die hemel. Ons moet daarby berus.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.