Pierre Brophy. Foto: Verskaf
Pierre Brophy. Foto: Verskaf

Hy was een van diegene wat die onlangse brand teen die hange van Tafelberg, wat verskeie geboue vernietig en groot dele van die berg in ’n maanlandskap van as verander het, bestry het.

Pierre (33) sê dit was nog altyd sy passie om ander te help en om ’n brandbestryder te word, was iets wat hy nog altyd wou doen. Nadat hy ’n geleentheid aangegryp het om saam met lewensredders in Doebai opgelei te word en te werk, het hy in 2009 teruggekeer na Suid-Afrika en in Kaapstad nesgeskop om sy kleintydse droom te bewaarheid. En hy het nog ooit teruggekyk nie.

“Daar is niks wat ek eerder sou wou doen nie, ek is presies waar ek moet wees,” sê hy met ’n glimlag.

Dit is sy vertelling van die verskriklike brand van 18 April.

Dit was ’n stryd om te voorspel waar die brand volgende sou beweeg – nes ons gedink het ons het een basis gedek, het die wind opgetel en kole opgetel en elders laat opvlam.

“Die 48 uur wat ek op die toneel van die brand bestee het, was chaoties. Die vuur het teen so ’n vinnige tempo beweeg omdat die wind gewaai het, en brandbestryders aan diens op daardie dag het werklik gesukkel.

Helikopters is gestuur en ons is ontbied na wat aanvanklik as ’n bergbrand begin het. Dit het toe ’n strukturele brand geword nadat kole letterlik oor ons koppe gevlieg en op die pad en geboue by die Universiteit van Kaapstad beland het.

Nog ’n groot bekommernis was om stappers te waarsku en hulle veilig bergaf te kry. Soos ons weet, is stap so te sê ’n Sondag-tradisie onder Kapenaars. Dit was ’n stryd om te voorspel waar die brand volgende sou beweeg – nes ons gedink het ons het een basis gedek, het die wind opgetel en kole opgetel en elders laat opvlam.

Ons het ook van die een brandlyn ná die volgende gehaas om te verhoed dat die huise in die gebied aan die brand slaan. Teen die vroeë oggendure op die Maandag is inwoners in die pad van die brand gewaarsku en ontruiming moes amper onmiddellik gebeur.

Ons kon ook nie net ingaan en alles met watter bespuit nie – in sommige gevalle moes ons die vuur laat uitwoed tot op ’n sekere punt voor ons dit kon bestry.

Voorvalbevelvoerders van Sanparke het toesig gehou oor en bedrywighede op die berg gekoördineer en beamptes van die Stad Kaapstad het die strukturele brand gedek.

Het ek genoem dat dit chaoties was?

Namate die vuur beweeg het, het ons ook. Ons het elke keer probeer om vooruit te gaan, gedink ons bestry op een flank, maar dit het net aanhou ontwikkel. Ons kon ook nie net ingaan en alles met watter bespuit nie – in sommige gevalle moes ons die vuur laat uitwoed tot op ’n sekere punt voor ons dit kon bestry.

Sigbaarheid was ook uiters swak. Die rook was dik van die brandende plantegroei rondom ons, en ons kon amper nie sien waar dit dalk volgende sou opvlam nie. Ons moes ook ’n ogie hou op die bome bokant ons, want dit het van binne gebrand en rondom ons geval.

Daar is ’n gevoel wat jy ervaar wanneer jy na die vlamme staan en staar – soos die adrenalien deur jou lyf jaag, gaan jy in ‘vegmodus’ en jy is deeglik bewus van die verantwoordelikheid wat saam met die werk kom.

Sewe brandbestryders is beseer en drie het ernstige brandwonde opgedoen.

Ek kan vir jou sonder twyfel sê die vrees in daardie oomblikke is werklik en kan jou soms oorweldig.

Ons is daar om te werk, maar ons weet ook ons geliefdes is gedurig bekommerd oor of ons oukei is. Ek het nie regtig kans gekry om in daardie 48 uur my vrou, Erin – wat weet hoe lief ek is vir my werk – te kontak nie.

Maar die vrees dryf jou ook: Dit is wanneer al jou opleiding inskop en jou herinner om in te gaan en bewus van jou omgewing te wees.

Om met merkwaardige mense met dieselfde brandende passie as jy te werk, is ook ’n groot eer.

Daar is ’n gevoel wat jy ervaar wanneer jy na die vlamme staan en staar – soos die adrenalien deur jou lyf jaag, gaan jy in ‘vegmodus’ en jy is deeglik bewus van die verantwoordelikheid wat saam met die werk kom.

Ek is geweldig geïnspireer deur my pa.

'Ek het geweet dis presies wat ek wou doen. Ek wou
'Ek het geweet dis presies wat ek wou doen. Ek wou altyd in my oorlede pa se voetspore volg,' vertel Pierre. Foto: Verskaf

Hy was ’n brandweerman, en toe ek as jong seun in Pietermaritzburg grootgeword het, het ek die geleentheid gehad om saam met hom werk toe te gaan en om hom te sien doen waarvoor hy lief is.

Ek was sedertdien versot daarop.

Ek het geweet dis presies wat ek wou doen. Ek wou altyd in my wyle pa se voetspore volg.

Nadat ek my in 2010 as beroepsbrandweerman bekwaam en vir ’n ruk by die lughawe gewerk het, het ek as vrywilliger gewerk en studeer om ’n veldbrandspesialis in Kaapstad te wees.

Dit het beteken dat ek sou aansluit by die brandbestrydingspanne wat reg oor die Wes-Kaap tonele sou bywoon en help. Ons help Sanparke, die Kaapse Wynlande en Overberg en het ook al gehelp met groter brande soos dié in Knysna en Bettiesbaai ’n paar jaar gelede.

Die brandseisoen en om as brandweerman in die Wes-Kaap te dien, verskil so baie van die res van die land. Die fynbosplantegroei, soms rotsagtige terrein en winderige weerstoestande, maak die werk moeiliker hier, maar sou ek êrens anders wou wees? Glad nie!

“Daar is niks wat ek eerder sou wou doen nie, ek i
“Daar is niks wat ek eerder sou wou doen nie, ek is presies waar ek moet wees,” sê Pierre met ’n glimlag. Foto: Verskaf

Hoewel die onlangse brande in Kaapstad ’n vernietigende gebeurtenis was, het dit ons aan die gees van ubuntu in die land herinner. Mense het bymekaargekom om goedere vir studente te skenk en af te laai, verversings en etes en selfs oogdruppels vir die brandweermanne is gebring.

Die gevoel dat jy die hele gemeenskap en stad se ondersteuning agter jou het, is werklik ’n ervaring wat jou nederig maak.

Die lonendste ding omtrent wat ons doen, is om ander te help en net ’n verskil te maak. Hoewel dit soms uitdagend kan wees, is ek eenvoudig lief vir my werk.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe