“Tannie, Tannie! Het jy vir my ’n beertjie?! Ek soek een beertjie! Waar’s die hondjie? Aag siestog, dis 'n babahondjie.”

Só begin die plasing van Andri Boshoff (44) van Brandfort in die Vrystaat op haar Facebook-blad oor haar eerste ontmoeting met haar buurvrou se seun, Lehano van Wyngaardt (30), wat op 16 November in sy ma, Tinkie (63), se arms gesterf het.

Lehano van Wyngaardt van Brandfort het weens nierv
Lehano van Wyngaardt van Brandfort het weens nierversaking gesterf. Foto: Facebook

“Ons het in Oktober vanjaar van die plaas af Brandfort toe getrek om koste te bespaar. Die huis langs ons s’n is opgedeel in woonstelle. Party dae hoor ’n mens ’n uitbundige gil van plesier, soos ’n kind, maar met ’n dieper stem.

“Tinkie sê sy is dankbaar om ’n bekende gesig te sien toe ons intrek. Sy ken my van die liefdadigheidswinkel waar ons tweedehandse klere verkoop. Sy is een van vele wat net op ’n staatspensioen oorleef en die klerewinkel is vir haar ’n welkome uitkoms,” skryf Andri.

Sy vertel hoe sy soms vir Tinkie kry terwyl sy swaar aan haar pakkies in die bloedige son dra. 

“Sy glimlag wanneer ek omdraai en haar die laaste paar blokke huis toe neem. Lehano hang aan sy ma se skouer. Sy dra hom al 30 jaar . . . Ek dink aan hoe ek altyd vir my 11-jarige laatlam, Skye, maan om nie te vinnig groot te word nie. Ek kyk na Tinkie en Lehano en wonder hoe ’n mens 30 jaar ‘grootmaak’ aan ’n kind wat drie jaar oud bly . . .”

Lehano se gedenkdiens. Foto: Verskaf
Lehano se gedenkdiens. Foto: Verskaf

Maar op ’n dag – Maandag 16 November – kry sy ’n stemboodskap van Tinkie. Daar is ongewoon baie motors by haar huis. 

“Hi, Buurvrou. Hoop dit gaan goed? Hier gaan dit nie so goed nie. My seun is vanoggend in my arms dood. Hy het nierversaking gehad. Julle het seker gewonder wat gaan vandag hier aan met die baie karre en alles. Ek het nou eers tot verhaal gekom om vir julle te laat weet . . .

“Ek verlang skielik na my seuns wat besig is met hul eie lewens. Ek is dankbaar vir my laatlam wat nog by my is. Ek is dankbaar dat hulle almal gesond is. Ek is selfs dankbaar dat hulle my soms gryshare gee met hul streke.”

Die nood van ander

Sy vertel hoe sy vir Tinkie ’n week later, op Maandag 23 November, buite by die hek gekry het. Sy het gevra hoe dit gaan. Sy hoor dat sy ná Lehano se afskeidsdiens moes hoor hy was nooit op haar begrafnispolis soos sy gedink het nie. Nou sit sy met R14 000 se skuld terwyl sy net ’n staatspensioen van R1 860 kry.

Tinkie van Wyngaardt en haar seun, wyle Lehano in
Tinkie van Wyngaardt en haar seun, wyle Lehano in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

“Ek sluk swaar,” skryf Andri. “Ek probeer dink wat ons kan bydra, maar ons sukkel self om by te hou met alles . . .

“Ag Here, hoekom het U my op hierdie pad gestuur? Hoekom land ek altyd direk langs nood en hoekom brand my hart so vreeslik wanneer ek ander se pyn sien? Kan my hart nie maar hard word nie? Kan ek nie maar leer om weg te draai, weg te stap en myself hierdie wroegings te spaar nie?

"Hoekom land ek altyd direk langs nood en hoekom brand my hart so vreeslik wanneer ek ander se pyn sien?"

“Ek loop nou ’n week lank met Tinkie se seer en probleme op my gemoed. Ek kan nie slaap nie. Die antwoord kom: “Gaan sit, stort jou hart uit! Hulp is naby vir dié wat glo en vertrou.”

Lehano van Wyngaardt: 1990/07/27 tot 2020/11/16 “Tannie, Tannie! Het jy vi my ‘n beertjie?! Ek soek een beertjie! Waa’s...

Posted by Andri Horn Boshoff on Wednesday, 2 December 2020

’n Ma se rou

Tinkie begin byna dadelik huil toe Huisgenoot haar ná Andri se pleidooi bel.

“Ek was nooit sonder Lehano nie. Ek het nêrens heen gegaan as hy nie kon saamkom nie.”

Sy vertel haar en Lehano se veel bewoë verhaal. “Hy was my enigste seun,” begin sy. “Ek was ’n enkelma vir hom.”

Tinkie vertel sy het op Brandfort as ’n skoonmaker in mense se huise gewerk. Bedags het haar bejaarde ouers, Johan en Annie van der Linde, na Lehano omgesien.

Tinkie van Wyngaardt en haar seun, wyle Lehano was
Tinkie van Wyngaardt en haar seun, wyle Lehano, was altyd bymekaar. Foto: Verskaf

“Ek was sewe maande swanger toe ek hoë bloeddruk begin ontwikkel. Hulle wou ’n induksie doen, maar ja, Lehano se breintjie het seergekry. Ek het nooit gevra hoekom nie. Ek wou so graag ’n kind gehad het, en ek het aanvaar dit is die kind wat die Here aan my toevertrou het.”

"Ek wou so graag ’n kind gehad het, en ek het aanvaar dit is die kind wat die Here aan my toevertrou het.”

Maar toe sterf haar pa in 1996 weens longemfiseem en haar ma begin ook siek word. Sy moes toe haar werk prysgee om na haar serebraal gestremde seun om te sien. Haar ma is in 2006 ook oorlede.

Tinkie van Wyngaardt se seun, Lehano was serebraal
Lehano was serebraal gestrem en Tinkie moes hom met alles help. Foto: Verskaf

“Hy kon loop, maar ’n mens kon hom nie alleen los nie, want hy was maklik van balans af en boonop hiperaktief, so hy wou alles doen! Partymaal kon hy self aantrek, maar die afgelope paar maande was dit moeilik. Ek moes weer soos ’n baba alles vir hom doen. Hy was maar my ou babatjie.”

Lehano van Wyngaardt was ondanks sy gestremdheid '
Lehano van Wyngaardt was ondanks sy gestremdheid 'n vreugde vir almal wat hom geken het. Foto: Verskaf

Sy begin weer snik.

Lehano moes ’n paar jaar gelede bloeddrukpille begin gebruik. Sy sê dit het sy niere aangetas en hy het ál meer met sy gesondheid gesukkel. Maar tog was daar ook ligpunte.

“Ons het elke Dinsdag met ’n gestremdegroepie van so 10 mense bymekaargekom. Dan het ons lekker gekuier en gelag.”

In 2016 het sy die begrafnispolis uitgeneem. “Ek het elke maand die polis betaal. Ek het gedink dit is vir my én Lehano.”

Nie lank voor sy dood nie is nierversaking by Lehano gediagnoseer.

Lehano, heel links voor, het dit geniet om elke Di
Lehano, heel links voor, het dit geniet om elke Dinsdag met ander gestremdes van die dorp te kuier. Foto: Verskaf

“Ek het hom op 13 November by die dokter gehad. Met covid kon ons nie die afgelope jaar so gereeld sy afsprake meemaak nie. Hulle het toetse gedoen. Daarna het die dokter gesê Lehano is baie siek. Hy is selfs te siek vir dialise. Daar is niks wat hulle vir hom kan doen nie. Hy het gesê dis nou net ’n kwessie van tyd . . .”

Sy vertel Maandagoggend 16 November het hy na haar geroep.

“Hy het gesê: ‘Mamma, asseblief ek wil nie hospitaal toe gaan nie.’ Ek het hom probeer optrek in my arms om vir hom ’n drukkie te gee, maar toe is hy weg . . . In my arms.”

Tinkie huil.

“Dis baie hard vir my. Ek is net bly die Here het hom die lyding gespaar.”

Die afskeid

Sy vertel hulle het drie dae later vir Lehano ’n afskeidsdiens by die NG-kerk Brandfort-Oos gehou. Sy kan nie veel daarvan onthou nie, maar sy onthou die groepie gestremdes saam met wie hy so lekker Dinsdae gekuier het was almal op sy gedenkdiens.

"Hulle het vir hom ’n erewag gehou.”

Sy vertel sy het vir die begrafnisondernemer, wat die diens gehou het, voor sy verassing en diens die polisnommer gegee, maar ná die diens moes sy met ’n skok hoor Lehano was nooit daarop gelys nie.

'n Gedenkdiens is op 19 November 2020 vir Lehano g
'n Gedenkdiens is op 19 November 2020 vir Lehano gehou. Foto: Verskaf
Foto's van Lehano is in sy afskeidsbrief vertoon.
Foto's van Lehano is in sy afskeidsbrief vertoon. Foto: Facebook

“Dis moeilik. Ek weet almal kry swaar. Maar die begrafnisondernemer het my darem tegemoetgekom en gesê ek kan dit afbetaal.

“Ek hoop ons kan sy kissie daar in die kerkmuur plaas. Maar, ek weet nie. Dit gaan nog R600 kos.”

Andri vertel later aan Huisgenoot mense se swaarkry, raak haar baie diep.

“Ek was so ontnugter toe ons hierheen trek. Mense trek swaar. En hier kla hulle nie. Hulle vat dit maar net dag tot dag. Dit maak ’n mens skaam oor die nietighede waaroor ons kla.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe