Trenton McKinley van die stad Mobile in die suidelike Amerikaanse staat Alabama het twee maande gelede in die hospitaal beland nadat hy in ’n klein sleepwa was wat omgeval het.

Die tiener het talle skedelbreuke opgedoen en was sedert die voorval in die hospitaal.

Dokters het vir sy ouers gesê hul seun “sal nooit weer normaal wees nie”.

“Ek het net ’n draagbaar gesien met sy voete wat uithang. Hy was ’n hele kwartier lank dood,” het Trenton se ma, Jennifer Reindl, aan Fox 10 gesê.

“Toe hy terugkeer, het hulle gesê hy sal nooit weer normaal wees nie. Hulle het vir my gesê die oksidasieprobleme sou so sleg vir sy brein wees, as hy oorleef, sal hy breindood wees.”

Trenton was toe wel breindood en het skaars behoorlik asemgehaal in die dae ná die ongeluk. Sy ma het die moeilike besluit geneem om dokumente te onderteken om sy organe te skenk.

“Vyf kinders kort organe waarvoor hy ’n geskikte skenker is. Dit was onregverdig om (gedurig te verhoed dat hy doodgaan), want dit het sy organe net meer beskadig.”

Maar ’n dag voor dokters Trent se lewensondersteuning sou afskakel, het hy tekens van breinaktiwiteit en beweging getoon.

Hy het selfs op sy eie begin asemhaal en laat in Maart het hy vol sinne gepraat, skryf sy ma op ’n Facebook-geldinsamelingsblad.

"Ek is so dankbaar vir elke oomblik wat ek buite die hospitaal saam met my kind kan deurbring," skryf sy ma. 

Bronne: Fox 10The SunMetro UKPeople