Brendin Horner
Nege maande nadat Brendin Horner (22) buite Paul Roux in die Vrystaat koelbloedig vermoor is, hoop sy meisie, Lenize Taljaard, steeds op geregtigheid. Foto: Verskaf

Vrede? Dít sal haar waarskynlik altyd ontwyk – selfs al boet iemand ook eendag vir die koelbloedige moord op haar kêrel. 

Só sê Lenize Taljaard, die meisie van Brendin Horner wat net meer as nege maande gelede – op 2 Oktober 2020 – buite Paul Roux in die Vrystaat vermoor is.

Die Vrystaatse Valke het vandeesweek in samewerking met die polisie se taktiese eenheid en speurders sewe verdagtes – vyf van hulle polisielede – in onderskeidelik Bloemfontein en Ladybrand aangekeer as deel van ’n ondersoek wat daarop gemik is om veediefstal in die provinsie te bekamp. 

Dié groep se inhegtenisnemings word beskryf as ’n “deurbraak” in die moordsaak nadat daar vroeër beweer is dat die 22-jarige boer se moord verband hou met veediefstalsindikate, sê kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Vrystaatse Valke.

Destyds het boere en landbougemeenskappe beweer Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa, die twee moordverdagtes wat einde Junie op borgtog vrygelaat is nadat DNS-toetse hulle nie met die moord kon verbind nie, was nie alleen by die moord betrokke nie.

Brendin Horner
Lenize sê sy hoop die inhegtenisneming van sewe verdagtes wat met veediefstal verbind word lei nou tot antwoorde oor wat presies op die dag van Brendin se moord gebeur het. Foto: Verskaf

’n Verslag wat daarop dui dat polisiekorrupsie en veediefstal moontlik agter Brendin se moord geskuil het is toe aan die minister van polisie, Bheki Cele, oorhandig – en nou het die jongste inhegtenisnemings gevolg. 

Vir haar, sê Lenize, bring die sogenaamde deurbraak in Brendin se moord nie juis vrede nie. 

“Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is ontsettend dankbaar dat die saak nie stilstaan nie en dat daar nou nog inhegtenisnemings was,” sê Lenize. “Maar niks sal Brendin terugbring nie.” 

In die nege maande sedert Brendin se dood het sy nog nie ophou na hom verlang nie, sê Lenize. “Dit gaan party dae beter as ander, maar die verlange bly ontsettend erg. Ek stoei die meeste met my vrae oor hoe iemand sommer net kan besluit om ’n einde aan ’n ander mens se lewe te maak – en dan nog so wreed ook.”

Brendin Horner
Die verlange is blywend en met tye byna ondraaglik, sê Lenize. Foto: Verskaf

Sy probeer daarby berus dat Brendin sou wou hê sy moet “opstaan en terugbaklei,” sê sy. 

“Mense vra my gereeld hoe ’n mens aangaan na so iets . . . Dis moeilik. Ek dien ’n groot God en ek glo Hy is by my. Maar dis nie aldag so eenvoudig nie. Daar is baie vrae oor wat presies daardie dag van Brendin se moord gebeur het. Ek dink ek sou eers werklik kon aangaan as ek die antwoorde op daardie vrae het. Maar ek tel myself elke dag op; ek weet dis wat Brendin sou wou hê ek moes doen.” 

Die wonde van Brendin se moord is diep en rou. “ ’n Mens kan dit nie vir iemand verduidelik wat nie in so ’n situasie is nie,” sê Lenize. 

“Elke keer wanneer jy net dink jy is nou oukei, kom krap iets weer die wonde stukkend. Ek lees dalk iets raak en word dan weer van voor af emosioneel. Daarom is my antwoord dít: Ja, ek is dankbaar dat daar momentum in die saak is en vir die vooruitsig van geregtigheid, maar die nuus van die mans se inhegtenisnemings is ook ’n pynlike herinnering aan Brendin se verskriklike dood.” 

Brendin Horner
’n Gebroke Lenize het in Oktober verlede jaar roerend vertel van haar laaste ure saam met hom. Foto: Gallo Images/Media24/Lubabalo Lesolle

Sy is ’n oomblik lank stil. “Of vrede en aanvaarding gaan kom . . . Dit weet ek nie. Maar ek wéét ek sal nie kan rus totdat daar werklik geregtigheid is nie.” 

Intussen sê Singo die inhegtenisnemings van die sewe verdagtes is nié die laaste nie. Singo sê die verdagtes word in dié stadium nie verbind aan Brendin se moord nie.

“Die ondersoek duur nog voort en ons sal moet wag en sien wat dit verder oplewer,” sê hy. “Ons glo dat die tweede deurbraak vinniger sal volg as die eerste.”

Die sewe verdagtes word van veediefstal, meineed en dwarsboming van die gereg aangekla. Hulle sal op 15 Junie in die landdroshof op Ladybrand verskyn.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe