In die politieke arena het vriend en vyand dikwels bespiegel wat dit sal verg om dié gedugte vegter emosie te laat toon. Daar is na haar verwys as ’n robot; selfs staalharder as die ewe gedugte Margaret Thatcher.

Skynbaar het g’n beledigings, kritiek of selfs opstande in eie geledere haar ontsenu nie. Maar hier staan sy buite No. 10 Downing Street en huil voor die televisiekameras terwyl sy haar bedanking as Britse premier aankondig. So het die wêreld haar nog nooit gesien nie . . .

Sy is die jongste slagoffer van Brexit, die Britte se traumatiese uittog uit die Europese Unie – en vandag trek Theresa May eindelik die sluise van haar gemoed wawyd oop.

“Ek verlaat binnekort die pos wat die eer van my lewe was om te beklee,” het sy snikkend gesê terwyl haar man, Philip, toekyk.

“Ek doen dit sonder kwaadwilligheid, maar met ontsaglike en blywende dankbaarheid dat ek die geleentheid gehad het om die land waarvoor ek lief is te dien.”

Maar dis duidelik drie jaar van mooipraat, soebat en smeek om haar Brexitplan deur die Britse parlement te kry het ’n reusetol van haar geëis: May lyk verslae en gebroke. Sy het nie eens die troos dat haar uittrede die verlammende Brexitkrisis sal oplos nie.

Wie ook al haar as premier opvolg, sal moet bontstaan om die dooiepunt in die parlement te verbreek voor 31 Oktober, wanneer D-dag vir Brexit aanbreek.

Het die Britte teen daardie dag g’n plan vir alternatiewe handelsbetrekkings met die buiteland nie, kan hulle in ’n ekonomiese woestyn beland. Jean-Claude Juncker, voorsitter van die EU-kommissie, is skepties. Hy sê May se uittrede wys die Britse politici se prioriteite is verkeerd.

“Dit lyk asof dit vir hulle belangriker was om van die premier ontslae te raak as om ’n oplossing (vir Brexit) te vind.”

MAY SE ‘MEXIT’

Haar eerste drie pogings om ’n Brexit- plan deur die parlement aanvaar te kry het almal misluk en selfs gelei tot die bedanking van senior kabinetslede in haar eie Konserwatiewe Party. Nogtans het May die storm trotseer en in die proses twee mosies van wantroue oorleef.

In haar vierde – en laaste – poging het sy uitgereik na die opposisieparty, die Arbeiders, met ’n afgewaterde plan vir ’n sogenaamde “sagte Brexit”. Dit sou behels dat Brittanje deel van die EU-doeanestreek bly en het selfs die wortel van ’n moontlike tweede nasionale referendum oor Brexit onder hul neus geswaai.

Maar toe geharde Brexitvoorstanders in haar eie party dit hoor, was die lang messe behoorlik uit vir. En met ’n volskaalse rebellie in eie geledere het geen ander keuse meer gehad as om op haar eie swaard te val nie. Maar ondanks May se “Mexit” is daar nog geen lig aan die einde van die skynbaar eindelose Brexittonnel nie.

WAT GEBEUR VOLGENDE?

Op 7 Junie sal May amptelik die tuig as leier van die Konserwatiewe Party neerlê. Maar sy sal as premier aanbly tot die nuwe intrekker van 10 Downing Street verkies word. Dit kan na verwagting tot ’n maand duur – en op sigself ’n politieke moddergeveg afgee.

EN DIE WARE WENNER IS . . .

Britse kiesers is net mooi keelvol vir die politieke verlamming waarin die land oor Brexit verkeer. Onlangs is hulle na die stembus om aan te dui wie hulle in die Europese parlement moet verteenwoordig. Hulle het hul ontevredenheid met die Arbeidersparty én die Konserwatiewe Party gewys deur sterk steun aan die nuwe Brexit-party te gee.

Dié nasionalistiese party onder leiding van Nigel Farage wil heeltemal wegbreek van Europa. Farage (55) was ietwat van ’n nasionale grap oor sy ekstreem regse standpunte toe hy voorheen die UK Independence Party aangevoer het.

Maar ná die verkiesing vir die Europese parlement het Farage laaste gelag.

Die leier van die Brexit Party, Nigel Farage, het baie kiesers oorreed om vir hom te stem.

“Dit is ’n groot, groot boodskap . . . ’n groot wekroep vir Westminster,” het hy gekraai.

“Nog nooit tevore in die Britse politiek het ’n nuwe party wat net ses weke tevore gestig is die meeste stemme in ’n nasionale verkiesing gekry nie.

“Die rede is natuurlik duidelik. Ons het in ’n referendum gestem om te loop. Ons was veronderstel om dit op 29 Maart te doen, en ons het nie.”

En as die Konserwatiewes misluk om kiesers se wil oor Brexit uit te voer, sal dié party dit probeer doen.

“As ons nie in Oktober uittree nie, sal die Brexit-party ’n algemene verkiesing opdwing.”

Wie gaan haar opvolg?

Boris Johnson (54, die gunsteling)

Wedsyfer: 5/4

Sy blonde boskaas herinner aan Donald Trump s’n. En soos die Amerikaanse president is hy gedurig in die nuus weens sy opruiende en rassistiese aanmerkings. Die voormalige burgemeester van Londen het ’n ruk gelede woede ontketen toe hy gesê het Moslemvroue met sluiers lyk soos “posbusse” of “bankrowers”. 

Hy was die minister van buitelandse sake in May se kabinet, maar het verlede jaar bedank omdat hy van haar sagte benadering tot Brexit verskil het. En sedertdien woel hy agter die skerms om haar te vervang.

Senior Tories (soos die Konserwatiewe Party ook bekendstaan) is gekant teen hom as leier. Hulle meen met hom in beheer loop Brittanje ’n werklike gevaar om sonder ’n ooreenkoms uit die EU te pletterval.

Maar ten spyte van Johnson se reputasie as ’n onvoorspelbare, onbeheerbare rokjagter is hy die populistiese keuse van Tories op voetsoolvlak en verreweg die gunsteling.

Dominic Raab (45)

Wedsyfer: 4/1

Nadat dié voormalige Brexitminister verlede jaar uit May se kabinet bedank het, was hy een van die eerstes om hom as haar plaasvervanger verkiesbaar te stel. Hy belowe om ’n “regverdiger” Brexit-ooreenkoms met die EU te onderhandel. Maar gebeur dit nie, is hy bereid om die EU sonder ’n ooreenkoms te verlaat.

Michael Gove (51)

Wedsyfer: 10/1

Ander geharde Brexitvoorstanders het uit May se kabinet bedank, maar Gove het as minister van omgewingsake aangebly.

Hy het ’n gewetenlose streep: Tydens die vorige Tory-leierskapswedloop was hy Boris Johnson se veldtogbestuurder, maar in die pylvak het hy teen hom gedraai en gesê hy is onbevoeg om te lei. May het op die ou end die veldtog gewen, maar Gove meen dit is nou sy beurt.

Jeremy Hunt (52)

Wedsyfer: 12/1

Die minister van buitelandse sake het “Brexitpuriste” in sy party onder skoot gekry deur te sê hul onbereidwilligheid om ’n kompromis aan te gaan het die proses laat ontspoor. Al was hy aanvanlik ten gunste van aanbly in die EU, het hy Brexit met oorgawe omarm.

Maar party kritici vrees hy sal net ’n “wollerige kompromiskeuse” of “Theresa in ’n langbroek” wees as hy wen.

Die Brexit-slagveld

2: Britse premiers het bedank. Die eerste was David Cameron, May se voorganger, ná die 2016-referendum oor Brexit.

33: Soveel ministers het oor Brexit bedank.

2: Soveel keer moes May die EU vra om Brexit uit te stel.

1334: Soveel setels het die Kon­serwatiewe Party in plaaslike verkie­sings verloor.

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Reuters

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, GUARDIAN.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK