Die Vanderbijlparkse vrou het haar toe sy op Vrydag 1 Februarie van die tragedie by die Hoërskool Driehoek hoor, haarself oombliklik binne die trauma van vier jaar tevore ingeskrik.

Meer as 20 leerlinge van die skool is op die dag ernstig beseer en vier is dood. Die Driehoek-tragedie het dadelik landwyd opslae gemaak, baie soos die gesinsmoord wat haar suster en dié se twee kinders, leerlinge aan dieselfde skool, in Desember 2015 getref het.

Vir Riana Coertzen (51) en haar familie het dit soos ’n dubbele tragedie gevoel soos al die nare herinneringe teruggekom het om by hulle te spook.

Vermoor: Thea du Preez en haar kinders, Philip en Carlia.

Op 3 Desember 2015 is hulle ook deur ’n tragedie geruk toe Fanie du Preez (toe 39), sy vrou, Thea (43), Riana se suster, in hul slaapkamer doodgeskiet het. Hul kinders, Carlia (17) en haar boetie, Phillip (14), was toe leerlinge aan die Hoërskool Driehoek. Ook hulle is in hul beddens afgemaai.

Phillip du Preez, sy ma, Thea, sy pa, Fanie (39), en sy sussie, Carlia, in gelukkiger dae.

In die dae wat ná die Driehoek-tragedie gevolg het, het Riana aan Huisgenoot se joernalis geskryf al die wonde wat oor tyd begin genees het, is weer oopgeruk. Phillip, wat in Februarie hierdie jaar 18 jaar oud sou word, se nefie was nog hier in matriek en hy sou baie van die beseerde leerlinge en dalk selfs van die oorledenes geken het.

“Die gebeure, die skool die blomme en die kerse in die palissades, die gemeenskap wat saamstaan... Dit het ons alles almal drie jaar teruggeneem. Dit voel soos gister wat dit gebeur het.”

Sy het opnuut besef sy het Fanie, wat in Desember 2016 op drie aanklagte van moord, ’n aanklag van dwarsboming van die gereg en aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie tot 94 jaar tronkstraf gevonnis is, nooit vergewe nie.

Hy dien tans lewenslange tronkstraf in die Mangaung-gevangenis in Bloemfontein uit.

Fanie du Preez het sy vrou en twee kinders in 2015 doodgeskiet.
Fanie du Preez by ’n vorige hofverskyning.Foto: Cornél van Heerden

“ ’n Mens se persoonlikheid en veral uitkyk op die lewe is nooit ooit weer dieselfde nie. Ek het baie geleer daaruit ook. Ek is nou dankbaar vir elke dag wat ek lewe. Dit neem ’n ruk om die vrees te oorkom dat nog iemand enige tyd kan doodgaan. Skielik pak daai vrees jou beet dat jy vanaand kan huis toe gaan en nie more wakker word nie. Skielik groet ek my kinders en my man elke keer en dink wat as dit die laaste keer is? Ons het almal daai Woensdag (2 Desember 2015) mekaar gesien en gepraat oor die vakansie wat voorlê... en die volgende dag was hulle weg.”

Thea en Phillip du Preez

“Ná die moord het ek vir ’n ruk lank elke dag sommer net geskryf, vir Fanie, en net als wat ek voel van my gemoed af gekry. Ek was nooit seker of ek die brief vir hom sou gee nie. Eindelik het ek dit toe na hom in die Leeuhof-gevangenis in Vereeniging, waar hy eers was, gepos. Ek weet nie of hy dit ontvang het nie. Dit sit op my rekenaar se desktop, maar ek het nog nooit weer daarna gekyk nadat ek dit gepos het nie. Dis nou twee jaar, en vandag toe besluit ek om dit te lees, vir die eerste keer ná daai tyd.”

Sy het besluit om as deel van haar genesingsproses die briewe met Huisgenoot te deel.

So het Huisgenoot in Desember 2015 oor die Du Pree
So het Huisgenoot in Desember 2015 oor die Du Preez-gesinstragedie berig.
So het Huisgenoot in Desember 2015 oor die Du Pree
So het Huisgenoot in Desember 2015 oor die Du Preez-gesinstragedie berig.

Huisgenoot plaas 'n uitreksel uit een van die briewe:

(Casey is Riana se man. Poplap verwys na Rina, Thea en Riana se ander suster.)

Uittreksel uit een van die briewe

21 Julie 2016

Dis amper agt maande… Ek het al seker ’n 100 briewe in my kop vir jou geskryf. Elke brief is elke keer anders. Toe besluit ek om dit op papier te sit, en dalk stuur ek dit tog vir jou. Dit help om te skryf en dit van my hart af te kry.              

Vandag is net weer een van daai ekstra slegte dae wat ek nie kan ophou om aan hulle te dink nie, en die verlange is baie erg. Hulle foto’s staan op my lessenaar en ek kyk elke dag vir hulle drie. 

Die manier hoe alles gebeur het, voel party dae nog steeds onwerklik. Ons het altyd mekaar vertel van die tragiese goed wat met ander mense gebeur wat ons in die Huisgenoot en in die Beeld lees, toe beland ons familie ook in die Huisgenoot en die Beeld, en skielik weet almal wie ons is, en Piet Retiefstraat 173, word "Die moordhuis" genoem. Net soos jy daardie oggend 04:30 gesê het toe ek en Casey daar aankom: "Dis ’n f***p." Jy was reg. Dit is ’n reusagtige f***p! My sussie en haar kinders is weg! Vir ewig.

Ek sal hulle nooit weer sien nie, nooit weer met hulle kan praat nie.

Elke aand voor ek aan die slaap raak, stap ek in daai huis se gang af langs jou.   
Jy weet wat jy nou gaan doen. Elke tree wat jy vorentoe stap, het jy nog ’n geleentheid om om te draai.  

Jy hou aan stap. Thea lê op die bed. Naaste aan die deur. Ek dink sy lê dalk op haar regtersy. Thea, die vrou met wie jy al 100 sakke sout saam opgeëet het. Die ma van jou kinders. Die skoondogter wat vir jou ma en jou pa omgee. Die suster van my en Poplap. Die ergste van alles: die vrou wat lief bly vir jou ongeag hoe seer jy haar maak. Thea, die vrou wat verlief gebly het op jou. Sy wou net nie ’n m*** opgee en jou los nie!

Thea lê op haar regtersy. Ek sien in my gedagtes hoe jy langs haar gaan staan, die rewolwer wat ’n tuisgemaakte silencer op het, in ’n kussing toevou, dit teen haar kop druk, net so agter haar linkeroor; sy asem vir 'n laaste keer ooit, en jy trek die sneller.

Bloed kom uit haar kop uit. Dis verby vir Thea. Maar dis nie genoeg vir jou nie, jy skiet haar 'n tweede keer! Thea du Preez is weg – vir ewig. Sy haal nie meer asem nie. Die bloed loop teen die kant van die bed af. Dis verby, dis verby. Ek haat jou.

Dan loop jy na Phillip se kamer toe. Jou en Thea se kind. Bloed van jou bloed. Phillip, wat so mooi hart gehad het, maar hy was anders as ander seuns. Jou seun. Hy het selfs jou pa se name gekry. Ek kan nie besluit hoe dit in my gedagtes moet gebeur nie. Ek is nie seker nie. Wat ek wel weet, is dat jy hom soos ’n hond op sy kamervloer doodgeskiet het. Jou seun, het voor sy bed op die mat gelê! 

Daar was twee koeëlgate in sy kamermuur. Jy het gemis. Die vrees in sy bors! Die groot skok en ontnugtering toe Phillip besef dis jy wat daar staan en dat sy lewe binne die volgende paar sekondes verby gaan wees.

Ek kan my net voorstel wat se tipe trauma en skok op daai laaste oomblikke deur sy kop gegaan het. Sy eie bloedpa, Fanie, gaan hom doodmaak. En jy het. Jy het jou eie seun doodgeskiet. Een koeël in sy kop. Veertien jaar oud!

Al sy life goals in swart kokipen vir ewig verlore op sy kas se deur geskryf. Hy gaan nooit by daai life goals uitkom nie. Hy het net ’n skamele 14 jaar geleef op hierdie aarde.

Dis verby vir Phillip, vir altyd. Ek haat jou!                               

Carlia. Mooi, vurige, praat-altyd-hard-Carlia. Ek vermoed sy moes op daardie stadium al wakker geword het.

Jy stap soos 'n tipiese vieslike lae gemene moordenaar uit Phillip se kamer uit na Carlia se kamer.

Jy kan nie wag nie. Die hele event bou op. Jou adrenalien pomp, nou is jy goed opgecharge!

F*k haar! Dink jy seker. Die rewolwer is leeg. Sy kry die spesiale een. Jou baby. Jou 9mm-pistool wat jy al die jare so nurse en oral saam jou dra. Carlia verdien darem after all niks minder as jou beste nie. Sy skree, sy besef wat aangaan.

Sy is geskok! Ek kan die vrees in haar oë sien! Sy was nog altyd 'n fighter… Sy skree, sy probeer keer.   

Jy staan by die voet van haar bed. (Die patroondoppies het almal so in ’n ry by die voet van haar bed gelê.)   

Jy druk nie die pistool teen haar kop nie. Jy staan ’n paar treë van haar af weg. Jy kyk haar in die oë.  

Jou meisiekind. Jou en Thea se eersgeborene. Sterretjie by die skool. Carlia, die kind wat jy altyd "Baby" noem. Skok, vrees in haar oë. Jy skiet jou dogter!   
Een, twee, sy is dood. Sy moet wees. Drie, vier, vyf, ses skote!     

Binne wat seker vyf minute moes gewees het, lê jou hele familie almal dood in hulle kamers.

Gone. Weg. Vir altyd.                                                                                              

My sussie, saam wie ek grootgeword het, wat ek geken het lank voor sy jou ontmoet het.       
In vyf minute verander jy, Fanie du Preez, die koers en die bestaan van minstens 20 mense se lewens vir altyd.

Al wat ek wil weet is: Hoe kon jy dit doen, Fanie? Hoe kon jy?