Volgens Q8 News is dit die vinnigste ontbinding van ’n huwelik in die geskiedenis van die Koeweit.

Die bruid het blykbaar gestruikel toe hulle na afloop van hul troubelofte by die landdroshof se deur uitstap. Haar eggenoot het egter nie soos ’n galante heer opgetree en haar liefdevol gesteun nie.

Nee, dié bruidegom het haar ’n woord toegesnou wat daarop neerkom dat sy onnosel is. Die briesende bruid het net daar besluit om terug te gaan na die huweliksbevestiger voor wie hulle hul troubeloftes afgelê het en sy het geëis dat hy onmiddellik die huwelik nietig verklaar.

So gesê, so gedaan. En nog voor die spreekwoordelike ink droog was op hul huweliksertifikaat, is die nietigverklaring amptelik afgehandel.

Volgens Roya News was daar in 2018 ongeveer 1,4 miljoen enkellopendes in die land.

Die regering het in reaksie op die lae trousyfer in Koeweit lenings en finansiële steun aan pasgetroude paartjies beskikbaar gestel om huwelike aan te moedig. Maar dié skuif het aanleiding gegee tot "beleggingsgedrewe huwelike" wat tot egskeidings gelei het.

In 2017 was die egskeidingsyfer in die land 60%, saam met Luxemburg sesde op die lys vir lande met hoë egskeidingsyfers. België neem die voortou met 71%.

Trourekords

Terwyl dié twee se name waarskynlik in die Guinness-wêreldrekords opgeneem sal word, verskyn ander getroude paartjies se rekords reeds daarin - om ander redes.

Langste getroud

Herbert en Zelmyra Fisher van Jaems City, Noord-Carolina, was 86 jaar, 9 maande en 16 dae getroud tot Herbert (105) op 27 Februarie 2011 gesterf het.

Kortste huwelik

Tot dusver het dié rekord amptelik aan die Hollywoodsterre Rudolph Valentino en Jean Acker behoort. Hulle het in 1919 getrou, maar nog voor die seremonie verby was, het Jean koue voete gekry. Sy het selfs vir Rudolph by die bruidsuite uitgesluit.

Hy het 20 minute lank vergeefs aan die deur geklop in die hoop dat sy sal oopmaak, maar moes toe gedweë omdraai. Hy het onmiddellik die egskeidingsproses aan die gang gesit.

Meeste huwelike

Nee, dis nie Brooke van The Bold and The Beautiful nie . . .

Linda Wolfe van Anderson, Indiana, is op 16 die eerste keer getroud. Daarna het sy tot in 1996 nog 22 keer voor die kansel gestaan. Sy het wel drie keer met dieselfde man getrou en het ook ’n huwelik agter die rug wat net drie dae gehou het.

Oudste paartjie wat geskei het

Bertie en Jessie Wood van Londen, Engeland, was albei 98 jaar oud toe hulle in 2009 besluit om ’n einde aan hul huwelik van 36 jaar te maak. Die rede vir hul egskeiding is nooit bekend gemaak nie.

Bronne: royanews.tv, 248am.com, worldrecordacadamy.com, q8news.com, shortlist.com, dailymail.co.uk, williamstrachanfamilylaw.com