Paul (51) is Woensdag deur die polisie in Colts Neck, New Jersey, in hegtenis geneem en word van brandstigting aangekla.

Die owerheid het onraad vermoed toe dit aan die lig kom Paul se eie herehuis het Dinsdag sowat sewe uur voor dié van sy broer s’n afgebrand.

Volgens Paul se bure het hy met trane in sy oë voor sy brandende huis gestaan en glo ’n gaslek die skuld vir die brand gegee. Sy vrou, Susan, en hul twee dogters was in die huis toe die brand ontstaan het.

Keith Caneiro se vrou, Susan, en hul twee dogters. Foto: YouTube-skermgreeep (Inside Edition)

Een van die bure het gesê Susan was verpletter. Nie een van die gesinslede het enige beserings opgedoen nie.

Keith (50), sy vrou, Jennifer (45), en hul twee kinders, was egter nie so gelukkig nie. Jennifer en die kinders, Jesse en Sophia, se erg verkoolde lyke is in die smeulende oorblyfsels gevind terwyl Keith, wat aan ’n skietwond gesterf het, se lyk buite die huis was.

Jesse (11) en Sophia (8). Foto: Facebook (Keith Caneiro)

Jennifer, Jesse en Sophia is doodgesteek voor die huis aan die brand gesteek is. In hierdie stadium is dit nog nie bekend wanneer hulle vermoor is nie, maar volgens die staatsaanklaer Christopher Gramiccioni was al vier gesinslede reeds dood voor die huis doelbewus aan die brand gesteek is.

Die polisie het aanvanklik gedink Keith het sy eie lewe geneem, maar nuwe verwikkelinge het hulle van opinie laat verander.

Gramiccioni en die plaaslike polisiedepartement het op ’n mediakonferensie bevestig dat vier mense dood is.

In hierdie stadium wil die polisie nie bevestig of ontken dat die twee voorvalle met mekaar verband hou nie. Gramiccioni het wel aangedui Keith en sy gesin was nie slagoffers van lukrake geweld nie, maar hulle is direk geteiken.

Paul is tans in aanhouding. Op Woensdag 28 November sal beslis word of hy daar sal bly of nie. Volgens sy prokureur, Robert A. Honecker, ontken Paul enige betrokkenheid by brandstigting of enige ander moontlike aanklagte.

Meer oor Keith en Paul
  • Keith was die eienaar van twee tegnologiefirmas, Square One en EcoStar Pest Management, en Paul het saam met hom gewerk.
  • Paul is die visepresident van Square One.
  • Keith het die eiendom in 1998 gekoop, en in 2003 is die dubbelverdiepinghuis met vier slaapkamers en vyf badkamers voltooi.
  • Hy en Jennifer het op 7 Oktober 2000 getrou.
  • Colts Neck is ongeveer 80 km van New York en ’n gewilde blyplek vir bekendes, onder wie Bruce Springsteen, Jon Stewart (gewese aanbieder van die Daily Show) asook Queen Latifah (wat in 2015 haar herehuis hier verkoop het).

Bronne: komonews.com, nj.com, app.com, dailymail.co.uk, nypost.com, heavy.com