Dis ooglopend hoe dit haar treiter – daardie gat in haar geheue. Moeisaam vertel sy van die dinge wat sy wel onthou: die oproep van haar dogter met die skoknuus dat ’n brug by hul skool ineengestort het; die oproep na haar verloofde om te sê sy gaan nóú hul kinders by die skool haal; haar verloofde se vermanings dat sy versigtig moet ry.

En dan, iewers langs die pad, raak dit meteens swart. Sy onthou niks. Nie die ander motor wat by ’n verkeerslig in haar rigting geswaai het nie. Nie die slag wat haar motor drie keer laat omslaan het of hoe sy soos ’n lappop uit die motor geslinger is nie.

Ook nie hoe sy 30 m verder op die pad opgetel is nie. “Dis weird om dit nie te kan onthou nie,” sê sy nou. “Dis baie bad . . .”

Toe Debbie Coetzee (46) vier dae ná die motorongeluk in die hospitaal uit ’n geïnduseerde koma wakker word, was haar eerste woorde aan haar naastes: “Is die kinders oukei?”

Want terwyl die res van die land die nuus moes begin verwerk dat vier tieners dood en meer as 20 beseer is toe ’n betonbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineenstort, moes Debbie self in die hospitaal om oorlewing veg nadat sy in haar desperate rit skool toe in ’n ernstige ongeluk was.

’n Volle 17 dae lank was sy in die hospitaal. Maar hier sit sy nou, tuis nadat sy wonderbaarlik oorleef het en ontslaan is.

“Ek lyk orraait, maar ek vóél nog nie orraait nie,” erken sy.

Die wrak van haar motor. Foto: Verskaf

“My hele lyf is seer. Ek is dronk, dronk, dronk. Ek kan nie regop staan nie.”

’n Lang pad na herstel lê nog voor, weet sy. Terwyl haar gemeenskap tot verhaal kom en van die wrede werklikheid ná die brugtragedie probeer sin maak, moet sy ook vrede maak met wat gebeur het.

“Die dokters het ons daarop voorberei dat Debbie waarskynlik ernstige breinskade opgedoen het en dat ons ons vir die ergste moet gereedmaak,” vertel haar verloofde en steunpilaar, Kruger Crause (46), aan haar sy hier in hul ruim gesinshuis op ’n hoewe naby die stad.

Debbie vertel sy is vol kneusplekke, maar haar ergste besering was die besering aan haar agterkop.

“Sy het weens die trauma aan die linkerkant van die brein ’n beroerte gehad. Die dokter het gesê sy kan dalk verlam gelaat wees aan die regterkant van haar lyf, dat sy sal sukkel om te praat, ons nie sal kan onthou nie en dat sy nooit weer motor sal kan bestuur nie . . .”

Gelukkig het haar herstel hul aanvanklike vrese besweer. Kruger druk Debbie se hand gerusstellend.

“Ja, sy is maar nog deurmekaar,” vertel hy.

“Maar sy’s oukei.”

Die land is geruk nadat vier kinders dood en meer as 20 ernstig beseer is nadat ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek meegegee het. Foto: Onkgopotsi Koloti

Sowel Debbie se dogter Rizaan (14) as Kruger se seun Johan (15) is leerders aan die Hoërskool Driehoek – gelukkig is nie een in die ramp by die skool beseer nie, maar albei moet die dood van hul medeskoliere saam met die res van die skoolgemeenskap probeer verwerk.

“Ek weet nie wat ek sou doen as hulle nie orraait was nie,” sê Debbie.

“Ek sou tou opgegooi het. Ek sou dit nie gemaak het nie.”

Die nagmerrie het met ’n oproep van Rizaan begin kort ná agtuur op Vrydagoggend 1 Februarie: “Mamma moet my en Johan asseblief kom haal. Dis chaos. Daar’s kinders onder die brug . . .”

“Sy het gesê sy is oukei; sy weet net nie waar Johan is nie, maar sy dink hy’s in die klas. Ek het Kruger gebel en gesê ek sal ry,” onthou Debbie. Nes Debbie werk Kruger by ’n afslaer-onderneming.

“Ek het Debbie gewaarsku die pad is nat. Ek het gevra: ‘Ry net mooi; wees rustig.’ ”

“Ek was rustig,” sê Debbie. “Ek was nog nooit in ’n ongeluk nie.” Maar Kruger het vermoed iets is verkeerd toe hy haar kort voor nege vergeefs bel.

“Ek het dadelik gedink sy was in ’n ongeluk. Dit maak nie saak wat nie; Debbie antwoord altyd haar foon.”

Debbie en haar verloofde, Kruger Crause, saam met Kruger se seun Dillon en Debbie se dog­ters Rizaan (naaslinks) en Chalene. Op Rizaan se skoot is hul hond, Bella. Foto: Onkgopotsi Koloti

Kort daarna het iemand op die wraktoneel na hul werk gebel. In haar toestand kon Debbie nie Kruger se nommer vir omstanders gee nie, maar sy kon wel sê waar sy werk.

Kruger is met ’n onmenslik moeilike keuse gekonfronteer: Hy was in twee geskeur tussen sy vrou en die kinders. Hy het gebid die kinders is werklik veilig en ’n kollega gevra om hulle te gaan haal.

Hy is toe na Debbie in die Sebokeng-staatshospitaal. In die hospitaal kon sy nog haar oë oopmaak en na hom kyk.

“Ek het vir haar gesê die kinders is oukei, maar dit het nie gelyk asof dit by haar registreer nie.”

Dis vandag ’n week sedert Debbie ontslaan is ná 17 dae in die hospitaal. Kruger sit styf langs haar en Rizaan en haar oudste, Chalene (23), is ook by.

Dillon (14), een van Kruger se drie seuns, hou Debbie se hand vas terwyl sy vir die eerste keer self kan vertel hoe dit met haar gaan. Omdat Debbie nie ’n mediese fonds het nie, moes vriende en weldoeners ingryp om haar na die waakeenheid van die Mediclinic Emfuleni in Vanderbijlpark oorgeplaas te kry.

Een anonieme weldoener het R100 000 geskenk. Kruger vertel hy kan nie genoeg dankie sê nie. Ook Debbie voel steeds verslae oor die goeie guns wat sy te midde van die tragedie beleef het.

“Die dokter het snot en trane gehuil en vertel hoe ek net weg was en hoe hy vier uur lank gesukkel het om my weer by te kry. Ek dink ek het tóé eers besef ek was eintlik in ’n moerse ongeluk.”

Chalene lag vir haar ma. “Rêrig! Ek kan dit steeds nie dink nie,” benadruk Debbie. “Ek het dan niks eens gebreek nie.” Kruger voel diep geraak deur die ondersteuning wat hulle gekry het – die dokters, berader, hul werkgewer en al die mense wat saamgebid het.

“Net mense se gebede het ons hierdeur gedra,” sê hy. Hy vertel die omvang van die dag se gebeure – en veral die ramp by die skool – het nog nie heeltemal tot Debbie deurgedring nie.

“Ek moes haar elke dag in die hospitaal vertel wat gebeur het. Sy besef kinders by die skool is dood en beseer, maar dit word nou eers vir haar ’n werklikheid. Ons praat met haar, maar ons dink dit gaan haar eers later tref.”

“Dit is so,” beaam Debbie. “Dis asof ek in ’n lugborrel is.”

Sy het nog self nie een boodskap aan haar in die sosiale media of een berig oor die tragedie by die skool gelees nie. Een van die oomblikke toe dit wel vir haar ’n tasbare werklikheid geword het, was toe sy vir ’n angiogram moes gaan en drie van die kinders ontmoet het wat in die brugramp beseer is.

“Dit het my baie gepla nadat ek hulle gesien het. Die kinders het gesê hulle is oukei, maar ek kon sien hulle was nie oukei nie.”

’n Gemeenskap is nog in rou ná ’n brug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in duie gestort het en vier kinderlewens geëis het. Foto: Onkgopotse Koloti

Die geskeide Debbie lag toe sy onthou Rizaan en Johan, nou haar aanstaande stiefseun, was eers gekys voor hul ouers mekaar ontmoet het. Johan het gereeld by Rizaan gekuier.

“Dit was Johan wat gevra het: ‘Hoekom is tannie alleen?’ Toe sy weer sien, laat val hy: ‘My pa wil kom braai.’ ”

Dit was die einde van die jong verhouding tussen die tieners en die begin van een tussen die volwassenes, en Debbie en Kruger is al drie jaar lank saam. Kruger, wat ook geskei is, vertel hulle het beplan om teen einde Februarie ’n intieme plaastroue daar naby te hou, maar dit moes uitgestel word ná die dubbele ramp.

“Ons moes dit uiteraard vir eers op ys sit,” vertel hy. Debbie se dokters glo haar balans en beweging kan volkome herstel met die nodige rehabilitasie soos die fisioterapie wat sy nou ontvang.

“Maar dit kan nog ses maande duur,” sê Kruger.

“Ek wil net gou weer terug by die werk wees,” sê Debbie vasbeslote.

“Ek’s ’n fighter en niks kry my onder nie.”

  • Sers. Gertrude Makhale, ’n polisiewoordvoerder in Vanderbijlpark, het aan Huisgenoot gesê ’n klag van roekelose bestuur teen die bestuurder van die ander voertuig word ondersoek. Dié is nie beseer nie. 
  • Kom neem deel aan die gesprek! Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!