’n Amerikaanse toekomstige bruid is woedend dat net sewe uit 150 genooides na haar troue haar uitnodiging aanvaar het al het sy die plek vir die troue van Thailand na Hawaii verander, berig Daily Mail.

Die vrou se Facebook-plasing is op Reddit gedeel. Daarin berispe die vrou haar vriende oor hul weiering om R45 000 te betaal om vir haar troue na Thailand te reis.

Sy het toe die venue na Hawaii verander sodat dit nader is en minder kos, berig The Sun

“Oukei, ek verstaan, om $3 000 (R45 000) te betaal om my spesiale dag te deel, is te veel vir party van julle. Ek sou vir julle s’n betaal het, maar wat ook al,” skryf sy. 

“Maar toe verander ons die troue na Hawaii sodat dit binne almal se bereik is, maar net sewe van julle antwoord? Dit kos minder, maar minder van julle wil kom?!”

Die veeleisende bruid het haar vriende toe voor ’n laaste ultimatum gestel, skryf Metro.

“Dis dit, ouens. Julle het drie dae om op ons uitnodiging te reageer of ons vee julle op Facebook uit en voorspoed om dan op die hoogte van ons lewe te bly.” 

Haar plasing het amusante reaksies op Reddit ontlok. 

“Jy moenie mal mense ontvriend nie; hulle is so vermaaklik! Ek wens ek het meer mal mense op Facebook gehad pleks van al die skattige babas en normale aktiwiteite,” het ’n gebruiker laat hoor. 

“Elf mense het van daardie plasing gehou, geen ander reaksie nie. Dit spreek boekdele van haar vriendekring,” het nog een bygevoeg. 

Bronne: Daily Mail, Reddit, The Sun, Metro