Mina Basaran, ’n skatryk sosiale vlinder en die dogter van die Turkse magnaat Huseyin Basaran, was op pad terug van haar glansryke hennepartytjie toe die tragedie plaasvind, berig news.com.au.

Sy sou op 14 April met die liefde van haar lewe, die sakeman Murat Gezer, trou. 

Mina, sewe van haar vriende en drie bemanningslede was almal op dieselfde vlug, met ’n straler wat aan haar pa behoort het, en het gereis vanaf Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate na Istanboel toe dit in die Zagros-berge in Iran neergestort het. 

Mina het Sondag, ’n dag voor die ongeluk, ’n foto gedeel van haar en sewe vriende by ’n oord in Doebai, berig nine.com.au. Haar Instagramblad is intussen uitgewis.

Volgens news.co.au is Mina (28) se pa ’n voormalige adjunkvoorsitter van die Turkse sokkerklub Trabzonspor en besit hy verskeie luukse woonstelle in Istanboel – dis vernoem na sy dogter en heet die Mina Towers.

“Die wrak en die lyke is opgespoor,” het Kerem Kinik, hoof van die Turkish Red Crescent, laat Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) getwiet. “Hulle sal bergaf gedra word wanneer die son opkom. My meegevoel aan diegene wat geliefdes verloor het.”

Bronne: news.co.au, nine.com.au, South China Morning Post