Nadat sy twee jaar met die man van haar drome uitgegaan het, het Michelle White van Bristol eindelik met Scott Plumley getrou. 

Maar die pasgetroude vrou is gebroke, want net 13 uur nadat sy ewige trou aan Scott beloof het, het sy hom sien sterf. 'n Aggressiewe soort kanker is by hom gediagnoseer. 

“Ek het by hom gesit, sy hand vasgehou en hy het geglimlag,” het Michelle (32) aan Bristol Live gesê. “Hy het aanmekaar gesê hy is jammer en ‘Ek het jou lief’.”

“Ek het hom vasgehou en hom gesoen en hy het drie keer na asem gesnak. Ek het gesê: ‘Dis oukei, skat, jy kan nou gaan en uit die pyn kom’.” 

In minder as ’n week moes sy ’n bruilof en begrafnis reël. 

“Ek was net 13 uur sy vrou, maar nou het ek so ’n wonderlike familie bygekry; my skoonsuster, swaer, skoonma en ’n hele klomp vriende.” 

Michelle, ’n versorger, en Scott, wat ’n elektrisiën was, het mekaar op ’n afspraakwebtuiste ontmoet, skryf Mail Online.

Die twee het weke lank gesels voor hulle mekaar eindelik van aangesig tot aangesig ontmoet het. Toe was dit liefde met die eerste aanblik, sê Michelle. 

’n Paar maande later het Scott by Michelle se huis in Lawrence Weston, Bristol, ingetrek en die rol van pa vir haar twee kinders uit ’n vorige verhouding aangeneem. 

Op 9 Augustus het Michelle by die huis gekom nadat sy nagskof gewerk het en gesien Scott het op die vloer inmekaargesak. 

Volgens The Sun het Scott voor hy inmekaargesak het oor slegte spysvertering gekla. Dokters het vir hom omeprasool voorgeskryf wat gebruik word om maagsere mee te behandel. 

Michelle het ’n ambulans ontbied en Scott (41) is die Vrydagoggend in die Southmead-hospitaal opgeneem. Dokters het vir Michelle gesê Scott het fase 4-slukdermkanker en omdat dit so laat gevind is, het dit reeds na sy lewer versprei. 

Sy het gehoor hulle kon niks meer vir hom doen nie. 

“Ek het gevra hoe lank, met die verwagting hulle sou ’n paar maande of iets sê, sodat ek hom kon huis toe bring, maar hulle het gesê dis hoogstens weke of kan net dae wees.”

Mediese personeel kon vir Scott niks meer as palliatiewe sorg bied nie. 

“Dit het ons verpletter,” sê Michelle. Gegewe sy diagnose wou die twee so gou moontlik trou. 

“Ons was reeds verloof. Ons het verloof geraak op die herdenking van die dag dat ons bymekaar gekom het en ons het beplan om te trou. Ons het daarvoor gespaar. Ek het al ’n paar goedjies gehad vir wanneer die dag aanbreek." 

Foto: GoFundMe/Scott’s funeral.

Hulle het toe besluit om op 15 Augustus te trou, twee dae ná Scott se diagnose.

“Ons was Dinsdagmiddag vieruur by die registrasiekantoor in die middestad en het die registrateur Woensdagmiddag twaalfuur na die hospitaal laat kom. 

“Dit was ’n groot gejaag. Ek het letterlik 20 uur gehad om vir ’n troue voor te berei en te reël. Almal was so vrygewig. Een van my vriende het die blomme gerangskik en ’n koek gekoop. ’n Buurvrou het my hare versorg. Dit was wonderlik.” 

Die paartjie het in ’n stil vertrek in die saal getrou waar Scott gelê het en was deur vriende en familie omring. 

“Hy kon skaars praat, maar het hard geantwoord ‘Beslis ja!’ toe ons ons beloftes aflê.”

Michelle en die gaste is na ’n plaaslike eetplek, The Air Balloon, waar die onthaal gehou is.

Sy en die familie is later daardie aand terug na Scott.

“Ek het beplan om die nag daar deur te bring. Hulle het vir my ’n leunstoel langs sy bed gesit en ek het my pajamas aangetrek en my tuis gemaak. 

“Sy ma en suster het tot omstreeks elfuur die aand gebly, maar hy het vinnig agteruitgegaan. Ons het geweet dit nader die einde.” 

Scott is kort ná halftwee die oggend dood, net 13 uur ná sy troue. 

“Ek werk die grootste deel van my lewe as ’n versorger en het al in versorgingstehuise gewerk en palliatiewe sorg gedoen. Wat sterftes betref, was dit die mooiste dood.” 

Michelle het nou ’n GoFundMe-blad opgestel om die finansiële las te verlig van ’n begrafnis reël. Sy is vasbeslote om vir haar oorlede man die afskeid te gee wat hy verdien.  

“Ek het gedink ek het 20 of 30 jaar saam met hom. Hy het my die laaste twee jaar baie gelukkig gemaak. 

“Hy was sorgeloos, die soort ou wat almal onthou. Altyd baie vriendelik en sou enigiets vir enigiemand doen om te help.

“Nou moet ek ’n laaste ding vir hom doen.” 

Bronne: The Sun, Mail Online, Bristol Live