Katie Sutterby (29), van Essex in Engeland, is dood slegs vyf weke nadat dermkanker by haar gediagnoseer is, berig The Sun

Haar verpletterde man, William Arnold, het Katie – ’n laerskoolonderwyseres – as “ongelooflik” en ’n “lewenslustige” persoon beskryf. 

“Sy was ’n fantastiese onderwyseres en was mal oor haar werk,” het William aan Essex Live vertel.

“Sy was ongelooflik; baie toegewyd. Al die kinders se ouers het na haar begrafnis gekom, selfs die ouers van kinders wat sy die vorige kwartaal onderrig het.  Sy was die prettigste en lewenslustige persoon met ’n wonderlike sin vir humor. Sy het baie vriende en ’n groot familie gehad.

“Ons het altyd dinge saamgedoen, soos om DJ’s te sien optree en na feeste te gaan. Sy was baie uitbundig en pragtig. Ek is baie trots dat ek haar my vrou kon noem. Ons almal het haar liefgehad. Sy was ons wêreld.”

Katie het in Julie verlede jaar spysverteringsprobleme ervaar wat dokters aanvanklik gedink het is galstene.

Maar ná verskeie x-strale, toetse en skanderings, het Katie en haar man die verpletterende nuus ontvang dat sy dermkanker het wat na haar lewer versprei het.

“Ons het die volgende dag gehoor sy het dermkanker en dat dit reeds na haar lewer versprei het. Ons was in totale skok, maar Katie het ongelooflik sterk en positief gebly.

“Ons het gedink ons gaan probeer om iets lekkers te doen en het weggegaan vir die naweek. Maar Katie moes ’n paar dae later die konsultant gaan sien en het toe gehoor die kanker is terminaal. 

“Hulle het gesê sy het waarskynlik enkele maande of ’n jaar op die meeste. Ons was natuurlik almal platgeslaan,” sê ’n gebroke William.

Will het daar en dan besluit om vir haar die jawoord te vra en die twee het die troue binne twee weke gereël.

Will en Katie het op 10 Augustus verlede jaar in ’n asemrowende seremonie afgehaak. 

“Dit was ongelooflik om te doen in die tyd wat ons gehad het. Sy het beeldskoon gelyk. Ek het nie gedink sy sou die energie hê om vir so lank as wat sy het aan te hou nie, maar ons het heel aand gedans en sy het met almal gesels.

“Dit was die volmaakte dag en sy het ’n wonderlike tyd met al haar familie en vriende gehad.”

Katie se gesondheid het ná die sprokiestroue vinnig agteruitgegaan en sy is drie dae later dood.

Die skool waar sy gewerk het, het onlangs hulde aan die jong onderwyseres gebring deur ’n klein tuintjie in haar eer in te rig. 

“Die kinders het dit geniet om na die opening van die tuin te kom en het verstaan waaroor dit gaan.

“Dis iets baie positiefs omdat dit gaan oor iemand wat ’n positiewe bydrae tot hul lewens gemaak het.”

Bronne: The Sun, EssexLive, Dailymail