Danny Emsley (37), ’n vensterwasser van Wes-Yorkshire in Engeland, en sy bruid, Clare (35), het gedink hul troudag sou die gelukkigste dag van hul lewe wees. 

Maar 12 uur later het Clare haar man dood aangetref in hul hotelkamer, berig The Mirror

Die egpaar is voor 80 gaste by die Woodhall-spa naby Wes-York getroud. Hul familie en vriende het op 17 Augustus toegekyk hoe die twee ewige trou aan mekaar beloof. 

Hulle was sewe jaar in ’n verhouding en Danny het ’n seun uit ’n vorige verhouding gehad. Vriende van die oorlede bruidegom beskryf hom as ’n “fikse en gesonde” ou wat gereeld sokker gespeel het, berig The Sun

Clare het ’n hartroerende boodskap op Facebook geskryf waarin sy sê: “Vrydag was die beste dag van my lewe. Ek het die kans gekry om met die beste, eerlikste, snaaksste, vriendelikste en liefdevolste man te trou wat ek noooit ontmoet het. 

“Ons het ’n volmaakte dag vol familie, vriende, liefde en lag gehad. Ons kon nie vir ’n beter dag gevra het nie. 

“Die betowering het aan die einde van die aand opgeraak en my pragtige Danny is wreed uit my lewe geruk. 

“Daar is ’n leemte in my hart wat nooit gevul kan word nie. Ek weet eenvoudig nie hoe ek sonder jou sal klaarkom nie, my wonderlike man.”

“Danny het net voor 23:30 gaan slaap. Clare het sowat ’n uur later by hom ingeloer,” het ’n vriend aan die publikasie gesê. “Hy was piekfyn, toe gaan sy terug na die partytjie tot omstreeks 01:30.”

Later die nag is Clare na die hotelkamer terug saam met haar ma, wat haar haar rok help uittrek het. Terwyl sy reggemaak het om te gaan slaap, het sy opgemerk iets is fout.

“Sy het geskree en by die kamer uitgehardloop terwyl sy om hulp roep,” sê Clare se ma. 

“Die deur het agter haar toegeslaan en sy is uitgesluit.” 

Teen die tyd dat hulle die deur oop gekry en die ambulans ontbied het, was dit reeds te laat. 

Sy tante, Gail Emsley, het aanlyn geskryf: “Ons neef het Saterdag in die vroeë oggendure ’n paar uur ná sy troue gesterf.”

Bronne: The Mirror, The Sun, Evening Telegraph