’n Vrou (23) wat anoniem wil bly het onlangs op Reddit gesê hoekom sy nie haar beste vriendin, “Grace”, gevra het om haar hoofstrooimeisie vir haar troue te wees nie. 

Die toekomstige bruid skryf sy het dieselfde groep beste vriendinne sedert sy vier jaar oud was. Maar sy koester 'n wrok teen een van haar vriendinne oor iets wat gebeur het toe hulle sewe jaar oud was. 

As tieners het die groep ’n “kringstelsel” geskep om te sorg dat elkeen van hulle die geleentheid kry om vir een van die ander hoofstrooimeisie te wees. 

Grace, aan wie sy besonder geheg is en “tot die dood toe liefhet”, is aan die toekomstige bruid toegewys. Maar al erken sy sy kan nie al die besonderhede onthou nie, glo sy Grace het vir ’n onderwyser vertel sy boelie haar en dit het haar in groot moeilikheid by haar pa laat beland. 

“Ek het hom nooit so woedend gesien nie,” sê die toekomstige bruid. Sy voeg by Grace “kan dit glad nie onthou nie” en sê sy moenie ou koeie uit die sloot grawe nie, want dit het 16 jaar gelede gebeur. 

"Grace was ontsteld.

"Sy beweer as die enigste trauma wat ek ervaar het was dat my pa met my geraas het, het ek ‘lig daarvan afgekom’ en ek moet ophou om so 'n wrok te koester. 

“Ek dink sy is baie onregverdig,” sê sy, en voeg by die meeste van haar vriende het “haar voor stok gekry”. 

“Al ons vriende sê vir my ek is aaklig oor ek haar nie my hoofstrooimeisie wil laat wees nie, maar dit is immers my troue en ek gaan nie van plan verander om haar te paai nie.” 

In ’n onlangse bywerking sê die toekomstige bruid sy het Grace verskoning gevra en van plan verander, berig Mirror.

“Ek erken ek was nie so simpatiek teenoor Grace soos ek moes gewees het nie en het haar daarom opreg daarvoor verskoning gevra,” skryf sy. 

“My pa kan die voorval glad nie onthou nie en, soos baie van julle uitgewys het, sy ook nie. Daarom het ek besluit om dit te laat vaar. 

“Ek het Grace gevra om my hoofstrooimeisie te wees, maar haar man is nie op die oomblik my grootste aanhanger nie; dus is ek nie seker wat daarvan sal kom nie.”

Bronne: Mirror, Reddit