Nikki Lewis, van Texas, het in Maui, Hawaii, saam met haar man, Will, en vriende lyfplank gery toe ’n brander oor haar breek en kop eerste teen die sand vasslaan. 

Die 36-jarige het haar nek op twee plekke gebreek, berig Daily Dayton News

Nikki en Will het maar vier dae voor die fratsongeluk ewige trou aan mekaar beloof en besluit om op die eiland aan te bly vir hul wittebrood en om saam met goeie vriende en familie tyd deur te bring. 

Nikki se vriend Ja’Mikal Moorer vertel van die grusame oomblik. 

“Ek onthou ek het haar op die plank sien wip en dat die brander hoër as ek was,” het ’n emosionele Ja’Mikal aan NBC5 News gesê.
“Jy sê in jou kop: ‘Staan op. Staan op!’, maar sy het nie opgestaan nie.”

Met die hulp van vreemdelinge het Nikki se vriende haar uit die water getrek. 

“’n Rukkie lank was sy net bewusteloos, en ons het almal gedink sy is dood,” sê Ja’Mikal se meisie, Taycha Pillot. 

“Dit maak seer om iemand so wonderlik soos sy so iets te sien beleef net dae ná haar volmaakte dag.”

Die ma van twee, wat nou kan regop sit en self eet, is na ’n hospitaal in Honolulu gevlieg om verdere behandeling te ontvang. 

’n Woordvoerder vir die egpaar het aan Yahoo gesê dokters het Nikki ’n kans van 50% gegee dat sy ten volle sal herstel. 

Nikki se familie en vriende het ’n GoFundMe-blad begin om haar mediese koste te help betaal en haar te help by die huis kom sodra sy kan reis.

“Die mediese rekening styg by die dag en sal baie gou ondenkbaar hoog wees,” lui die blad. 

“Haar man en familie was baie huiwerig om in die openbaar hulp te vra, maar dis ’n lang pad wat voorlê, en hulle het jou hulp nodig. 

“Ons het die blad geskep om van die finansiële las op hulle te help verlig terwyl hulle op Nikki se herstel fokus.” 

Bronne: Daily Mail, Dayton Daily News, Express Digest