Dít het ’n bruid op die harde manier geleer nadat sy die onsensitiewe vraag op Facebook gedeel het waar sy vra of sy verkeerd is om haar bedenkinge te hê daaroor om haar vriendin vir die rol te kies oor haar “vrot tande”. Die vraag het tot hewige teenreaksie gelei.

Volgens die inskrywing was die anonieme bruid bekommerd oor hoe die foto’s op haar groot dag sou lyk.

“Ek wil nie in die moeilikheid kom hieroor nie, maar ek het opinies nodig,” het sy aanlyn geskryf. “Ek en my beste vriendin uit my kinderjare het altyd gesê ons gaan eendag in mekaar se troues wees. Ek is besig om my strooimeisies te kies en wil haar vra om my hoofstrooimeisie te wees.

“My dilemma is ek het haar lanklaas gesien, maar het gister ’n video van haar gesien en sy het onlangs ’n groot gat in haar voorste tande ontwikkel. Is dit oppervlakkig van my om bekommerd te wees oor hoe die foto’s op die groot dag sal lyk?”

Die bruid sê sy is versot op haar vriendin, maar wil nie terugkyk na die foto’s en “dit daarin hê nie”.

“Ek weet nie wat om te doen nie en wil nie enigeen se gevoelens seermaak nie! My verloofde is ook bekommerd. Moet ek haar vra en hoop dit word nie opgemerk nie? Moet ek haar nie vra nie en die vriendskap op die spel plaas?”

’n Foto van die inskrywing is gedeel op Wedding Shaming, ’n bespreking op Reddit, en gebruikers het daar omtrent na die bruid gekap.

“Liewe genade, dis ongelooflik hoeveel mense vergeet waaroor die troue eintlik gaan – om vir die res van jou lewe te trou,” het een persoon opgemerk.

“Ek gee nie ’n duit om hoe my vriende by my troue lyk nie. Ek wil hê hulle moet gelukkig wees en hulself geniet en dit saam met my vier ongeag wat. Dit is aaklig,” skryf nog een.

Iemand anders het Photoshop voorgestel en nog iemand het hul kommer oor die vriendin uitgespreek. “Ek is meer bekommerd dat die vriendin rondstap met ’n sigbare vrot tand.”

Nog ’n bruid is onlangs harteloos genoem nadat sy beplan het om haar hoofstrooimeisie, wat aan kanker ly, te vervang omdat sy te min hand bygesit het met die troupligte.

Die toekomstige bruid het haar frustrasie uitgespreek oor haar vriendin se gebrek aan moeite met die beplanning van haar hennepartytjie of om haar ’n trourok te help kies.

Die selfsugtige bekentenis het woedende reaksie ontlok.

“Ek dink dit is die aakligste ding wat ek nog op hierdie blad gesien het. Hoe selfsugtig,” het een vrou geskryf.

“Jy moenie mense vra om in jou troue te wees sodat hulle dinge vir jou kan doen en partytjies vir jou kan beplan nie. Jy moet hulle vra om in jou troue te wees omdat jy hulle aan jou sy wil hê op die belangrikste dag van jou lewe,” was een van die opmerkings.

“Sy het kanker en al wat die bruid doen, is om dit oor haarself te maak,” het nog een laat hoor.

Bronne: The Sun, Reddit, Daily Mail