’n Bruid was geskok toe ’n vrou wat soos haar man se “mal eksmeisie” aangetrek was in hul onthaal inbars en skree: “Stop die troue, dit moes ek gewees het!”


Stacey Owen (29) van Aberdare in Wallis het die skok van haar lewe gekry toe ’n vrou wat sy nie ken nie in ’n wit trourok by hul troue opdaag.

Die pasgetroudes was op die dansvloer toe die vrou in die vertrek inhardloop en die bruidegom met ’n ruiker oor die kop begin slaan terwyl sy skree: “Dit moes ek gewees het!” 

Maar binne oomblikke het Stacey besef dit was ’n poets deur haar strooimeisie, Jackie Lewis. 

Die “mal eks” was eintlik die Walliese komediant January Rees en Jackie het haar gevra om ongenooid by die troue op te daag.

“Ek het Jan oorreed om deel te neem. Dit kon lelik skeefgeloop het. Ons het dit vier of vyf maande lank beplan,” sê Jackie. 

“Stacey het die een of ander verrassing verwag en ek wou net iets laf doen. Ek het op die internet idees gesoek toe ek afkom op video’s van fopdossers wat in die gangetjie afstap en dit het my die idee gegee.”

 Stacey erken sy was verbaas toe die komediant die dansvloer bestorm. 

“Ek het gewonder wat aangaan, want ons het toe pas ons eerste dans gehad. Eers was die ligte dof en ek kon nie haar gesig sien nie; daarom het ek gedink dit was een van sy mal ekse,” sê sy. 

“Maar toe die ligte aangaan, kon ek Jan se gesig sien en toe weet ek wie sy is. My man was eers vreesbevange.” 

Die 29-jarige sê die trougaste sal die voorval altyd onthou. “Ons het die snaakse kant gesien, die uitvoering het almal aan die praat gehad.” 

Bronne: Sun UK, Mirror UK