Tina Yazdani van die plaaslike Kanadese nuusdiens CTV News het met die pasgetroude Clayton en Brittany Cook van Cambridge, Ontario, gesels oor daardie oomblik toe hul troufoto-sessie in Victoria Park byna in 'n nagmerrie ontaard het.

Dit was die noodlot, ons moes net daar gewees het op daardie oomblik.

"Ek het omgekyk en toe sien ek Clay(ton) is in die water en ek kon net wonder wat op aarde hy besig was om te doen," vertel Brittany.

"Dit was die noodlot, ons moes net daar gewees het op daardie oomblik," vertel sy van die oomblik toe sy besef wat aan die gang is.

Hulle was in die park besig om hul troufoto's na afloop van die huwelikseremonie te neem. Die fotograaf, Darran Hatt, het hulle op 'n brug bo-oor die water laat poseer toe hulle besef daar's groot fout.

Daar was 'n kind in die water en hy was duidelik in die moeilikheid. Volgens Darren was hy op sy rug onder die water. Clayton het met sy deftige driestuk-pak en al ingespring, hom aan sy arm beetgekry en uit die water gehelp.

Ek is nie in die minste verbaas nie. Dis Clay, dis wie hy is.

Die seuntjie het nie 'n woord gesê toe hy op droë grond neergesit is nie. Twee kinders wat in die omgewing was, het erken dat hulle hom in die water gegooi het.

En wat het Brittany te sê oor haar man se heldedaad? "Ek is nie in die minste verbaas nie. Dis Clay, dis wie hy is."

Intussen word Clayton vanuit verskillende lande geloof vir sy onbaatsugtige en koelkop-optrede.

Maria Da Graca Branco van Toronto (Kanada) sê op Hatt Photography se Facebook-blad dat dit ’n pragtige manier is om ’n nuwe lewe te begin deur terug te gee aan die gemeenskap. “Hy sal vir altyd in daardie klein seuntjie se hart bly.”

Rosiane Bandeira van Brasilië skryf: “Dit is baie mooi om te sien dat daar nog goeie mense in die wêreld is. God seën jou!”

Uit Italië laat Lorenzo Parioli hoor: “Wie ’n lewe red, red die wêreld,”

Dan is daar ook boodskappe vanaf Duitsland, Nederland, Rusland en Engeland.