Sy is deur byna twee jaar van hel, sê Amanda Bothma van Potchefstroom in Noordwes. En tyd bring nie vrede of aanvaarding nie. 

Haar man, Christo, is in September 2018 in Burkina Faso in Wes-Afrika ontvoer. Hy het vir ’n goudmyn as ’n instandhoudingsbestuurder en ’n passer-en-draaier gewerk.

Christo het destyds planne gehad om na Suid-Afrika terug te keer om vir sy gesin in Potchefstroom te kuier. Maar hy is 10 dae voor sy terugkeer saam met Vikram Patel, die myneienaar se seun, en nog vier ander deur ’n terroristegroep – wat glo bande met Al-Kaïda het – voorgelê en ontvoer.

In byna twee jaar is daar vir Amanda en haar kinders geen antwoorde nie.

“Daar is dae dat ’n mens sweer jy kan nie soveel hartseer hanteer nie – dat jou hart dit nie sal hou nie. En dan stap die dae aan en die onsekerheid verdwyn nie, en die seer word net erger en erger,” sê Amanda.

Christo en Amanda in gelukkiger dae. Foto: Verskaf
Christo en Amanda 'n paar jaar gelede. Foto: Verskaf

Sy sê die noodleningsorganisasie Gift of the Givers se dr. Imtiaz Sooliman het haar ’n paar weke gelede laat weet dat twee onafhanklike tussengangers, een van Mali en een van Niger, sê die gevangenemers hou vol Christo is dood.

“Ek kan nie beskryf wat dit aan ’n ma en vrou doen om te hoor haar man is dood in die vreemde nie. Niemand weet hoe nie; niemand weet presies wat gebeur het nie. Was hy bang? Het hy gely? Daar is geen antwoorde nie. Ek kan dit nie net gelate aanvaar nie – ek wil dit nie glo nie,” sê Amanda.

Sooliman se redenasie is dat die terreurgroepe “geen rede sou hê” om oor Christo se dood te jok nie omdat die groepe geld maak uit gyselaars. Die gevangenemers het wel ’n bedrag van US$100 000 (bykans R1,7 miljoen) geëis vir ’n video wat sal bewys dat Christo dood is.

“My brein sê ek moet dit aanvaar. Dat Christo dood is; dat hy nooit weer huis toe kom nie. Maar my hart wil dit nie glo nie. My hart sê hy leef en dat ek nie moet opgee nie – so ek glo hy leef. Ek moet, want dis wat my deur die dae dra.” 

Dis nie die eerste keer dat tussengangers verbonde aan die noodleningsgroep bevestiging kry van Christo se dood nie. Maar tot dusver, selfs met die laaste twee pogings, was daar nog geen fisieke bewys van sy dood nie.

Christo Bothma se gesin het hom in Junie 2018 laas
Christo Bothma se gesin het hom in Junie 2018 laas lewend gesien.

Dis daaroor, sê Amanda, dat nie sy of haar kinders sal aanvaar dat hy dood is nie.

“Dis maklik vir mense om te sê ons moet met ons lewe aangaan. Maar hoe beweeg jy aan as jy iemand nie kan groet nie? Hoe neem jy werklik afskeid? Ek het verlede jaar ’n oom begrawe. En in my hart was ek so diep bedroef. Maar ek het geweet: Daar was ’n begin en ’n einde – en hier sê ons koebaai. Ek kan dit nie met Christo doen nie.” 

En om die gevangenemers geld te betaal vir ’n bewys dat haar man wel dood is, is buite die kwessie.

Amanda trek reeds noustrop. Sy moes verlede jaar ’n skarefinansieringsfonds stig in ’n poging om haar agterstallige huispaaiemente te betaal.

“Buiten die feit dat ons nie geld het nie, en dat my twee seuns albei ’n gedeelte van hul reeds klein salarisse moet afstaan om die huis te betaal, sal ek steeds nie geld aan daardie groepe stuur nie. Daar sal vir ons geen sekerheid wees om te weet dat dit wel hy is nie – daar is niks wat ons kan doen om ’n einde aan die nagmerrie te maak nie,” sê sy. 

Amanda het vroeër vanjaar onderneem om haar man deur ’n hof te laat dood verklaar en het ná die twee jongste tussengangers se bevestiging besluit om ’n roudiens vir Christo te hou. Dit breek haar hart nog elke dag . . . 

vermis
Amanda en Christo Bothma het gereeld motorfietssaamtrekke bygewoon. Foto: Verskaf

“Ek wil hom nie laat dood verklaar nie. Want wat as hy nie regtig dood is nie? Wat gebeur as ek my man nou laat dood verklaar en oor vyf jaar ’n oproep ontvang dat Christo leef?” 

Haar stem breek. “Ek kan mos nie net my man weggooi nie. Dit voel asof ek hom vergeet; asof ek terugsit en dit wat met hom gebeur het, gelate aanvaar. Maar dis nie reg nie – hoe kan 'n mens so iets aanvaar? Jy vergeet dit nie sommer nie.” 

Terwyl sy nou ondersteuning van familie en vriende kry, weet sy nie wat die volgende paar maande gaan inhou nie, sê Amanda. Haar kinders – drie uit haar huwelik met Christo, een uit haar vorige huwelik en twee uit ’n vorige huwelik van Christo – weier ook om te aanvaar dat hul pa dood is. 

Intussen is die skarefinansieringsfonds wat poog om die dak oor hul kop te hou, steeds aktief. 

“Een ding sal ek vandag met sekerheid sê: Soveel soos ek hoop vir vrede, sal ek nooit aanvaar dat hy dood is nie. Nie tot daar ’n liggaam is wat ek in die grond kan lê om finaal van hom afskeid te neem nie.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe