Dié statistieke is een persent hoër as die wêreldgemiddeld. Die ander statistieke deur die Wêreld Ekonomiese Forum se DQ-instituut is ewe skokkend.

Altesaam 55% van Suid-Afrikaanse kinders in dié ouderdomsgroep is al aanlyn geboelie, 9% is verslaaf aan videospeletjies en 11% het al vreemdelinge aanlyn ontmoet. 

'n Kaart wat kinders tussen 8-12 jaar oud se aanlyn-risiko's per land uitbeeld.

Die DQ-impakverslag van 2018 sê die risiko’s van kinders aanlyn is enorm en ’n wêreldprobleem. Meer as 50% van kinders tussen 8 en 12 jaar oud is al aanlyn aan ’n risiko blootgestel. 

David Loxton, ’n vennoot by die prokureursfirma Dentons en ’n kenner in aanlyn-risiko's, sê ouers moet met hul kinders praat.

“Toe my eie dogter, wat nou 23 is, klein was, het sy Barbie-poppe aanlyn gesoek en skielik gegil. Dit het haar na ’n porno-webtuiste geneem,” vertel hy. “Gesels met jou kind sodat hulle vir jou van sulke voorvalle kan vertel. Dit is die heel eerste ding wat jy kan doen,” sê hy. 

Hy stel ook voor ouers maak seker hulle het ’n goeie antivirusprogram op hul rekenaar en wagwoorde wat die kinders nie ken nie. “Jy kan ook ’n blok opsit wat hulle sal verhoed om sulke webtuistes te besoek. Ek glo kinders beland soms op dié soort webtuistes al het hulle nie daarvoor gesoek nie,” sê hy.