Dis die woorde waarmee Malinda Booysen, adjunkhoof van die Laerskool Swartberg op Caledon, die ontslape Rieka Jacobs en Monichia Hendricks-Ess beskryf.

Die vroue was stapmaats en baie goeie vriendinne.
Die vroue was stapmaats en baie goeie vriendinne. Foto: Facebook/Malinda Booysen

Rieka (30) en Monichia (29), albei onderwysers aan dié laerskool in die Overberg, is Maandagmiddag deur ’n Mercedes-Benz langs die R316 tussen Bredasdorp en Caledon getref waar hulle gedraf het. Albei vroue is op die toneel dood verklaar. 

Die bestuurder van die motor is later in die hospitaal dood. 

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak van strafbare manslag geopen is, en dat die omstandighede rondom die ongeluk ondersoek word. 

Die kar wat die vroue getref het. Foto: Facebook/J
Die kar wat die vroue getref het. Foto: Facebook/Julian Jansen

Rieka en Monichia het albei in Januarie 2014 by Swartberg aangesluit. Hul sterftes is met ongeloof gegroet by die skool.

“Die personeel was erg verslae en geskok,” sê Malinda. Die personeel sowel as die oorledenes se leerders ontvang berading.

Rieka was ’n gr. 3-onderwyseres en Monichia het gr. 4 onderrig. 

“Rieka het ’n omgeehart gehad en so baie vir die leerders en ouers in ons gemeenskap gedoen. Sy het reguit gepraat en nie geskroom om haar mening te gee nie,” vertel Booysen.

Rieka se sterk leiereienskappe het daartoe gelei dat sy op 1 Maart vanjaar as die departementshoof van die grondslagfase aangestel is. 

Rieka en haar man, Jurgens, was ses jaar getroud en het twee dogtertjies van drie en vyf jaar oud onderskeidelik.

“Haar gesin en familie was vir haar baie kosbaar. Sy het ’n groot vriendekring gehad en haar lag sal beslis gemis word.”

Rieka en Jurgens Jacobs. Foto: Facebook
Rieka en Jurgens Jacobs. Foto: Facebook

Booysen praat ook met groot lof van Monichia, wat die vakhoof van natuurwetenskappe en tegnologie was.

“Sy was ’n goeie leier, lief vir haar leerders maar ook lekker streng. Sy het gehou van haar unieke manier van dinge doen in haar klas. Monichia was lief vir die buitelewe en uitdagings was nooit te groot vir haar nie,” sê Booysen. 

Monichia en haar man, Fabian, is in 2018 getroud. Fabian is ook ’n onderwyser by dieselfde skool as die vroue. 

Die skool hou Donderdag ’n gedenkdiens vir Rieka en Monichia. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe