Dit klink na ’n droombestemming ver van die dolle gejaag van die lewe: Twee kliphuise diep in die prentjiemooi Cederberge waar kronkelende grondpaadjies jou na waterpoele en sandsteenrotsformasies lei. En snags kan jy jou aan die sterrehemel verkyk terwyl die reuk van fynbos in die lug hang.

Die webtuiste skryf dat die gasteplaas Keurbosfontein, sowat 40 km buite Clanwilliam in die Wes-Kaap, aan besoekers “eksklusiewe privaatheid” beloof.

Maar toe die Meyers se wit Toyota Fortuner op Dinsdag 18 Junie op die grondpad voor ’n eenvertrekkliphuisie stilhou, was dit nie om die stilte en ’n sorgvrye vakansie te geniet nie.

Hier op die afgeleë gasteplaas sonder elektrisiteit en ’n selfoonsein wou Lu­hann (58) en Theresa (48) ’n einde aan als kom maak; en hul kinders, Lurese (12) en Luhann (10), met hulle saamneem.

Die kliphuisie op die gasteplaas in die Cederberge
Die kliphuisie op die gasteplaas in die Cederberge waar hulle dood is. Foto: Edrea du Toit / Rapport

Die twee kinders was waarskynlik salig onbewus van die lot wat hulle hier sou tref. Dit was immers skoolvakansie; die twee nagte wat die gesin hier sou oornag, kon maklik vir hulle na ’n wegbreekkans in die natuur geklink het.

Elkeen se klere is ingepak, maar die tasse is nooit uit die motor gehaal nie. Die gesin het ook ’n bietjie kos, ’n bottel brandewyn, ’n 2 L-bottel Coke, bier en ’n pakkie antidepressante saamgeneem.

Ook Luhann se .22-­geweer is ingepak.

Die kolf daarvan is vroeër by hul huis op Moorreesburg afgesaag. Dit sou dit makliker maak om dit in ’n sak weg te steek, en die sneller sou nader aan die skieter wees wanneer die laaste oomblikke aanbreek.

Klagte teen die paartjie
  • ’n Agt jaar lange hofstryd het Theresa en Luhann in ’n wurggreep gehad. Hulle het saam met drie medepligtiges tereg gestaan op altesaam 74 aanklagte van rampokkery, bedrog en geldwassery, korrupsie, diefstal en bendeaktiwiteite.
  • Hulle is van R41 miljoen se bedrog met die finansiering van vragmotors aangekla.
  • Theresa, ’n oudwerknemer van Absa, is ook van diefstal van R4,9 miljoen van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens beskuldig.
  • Haar en Luhann se regskoste het hulle feitlik bankrot gelaat, en die stryd om kop bo water te hou, het eindelik sy tol geëis.

Toe die eienaar van die gasteplaas, wat nie self daar woon nie, later ’n buurman vra om te gaan kyk of die Meyer-gesin al vertrek het, het hy op 27 Junie ondersoek ingestel.

’n Sterk stank het hom by die kliphuisie getref waarop swerms vlieë toegesak het.

Binne het hy op ’n grutoneel afgekom: Vier ontbinde lyke het op die beddens gelê, elk met ’n skoot in die linkerslaap. Theresa het ’n tweede skietwond onder haar kakebeen gehad.

Op die dubbelbed, waar Luhann op sy sy langs sy vrou aangetref is, het die .22- geweer tussen hulle gelê.

REGS: Luhann en Theresa Meyer en hul kinders Luhan
REGS: Luhann en Theresa Meyer en hul kinders Luhann jr. en Lurese.

’n Dag nadat die nuus van die gesinsmoord in die Cederberge skokgolwe deur die land gestuur het, kom die twee seuns uit Theresa se eerste huwelik na ’n koffiekroeg op Moorreesburg aangestap. Hulle gaan sit en elkeen steek ’n sigaret aan.

Rian Coutts (24), ’n dieetkundige van Wolmaransstad in Noordwes bestel koffie en sy ouboet, Dewald (27), ’n apteker van Margate in KwaZulu-Natal, ’n bier. Hy het iets sterks nodig, sê hy.

Rian en Theresa in Potchefstroom by Dewald (regs)
Rian en Theresa in Potchefstroom by Dewald (regs) se gradeplegtigheid in 2015. Foto: Verskaf

“Ons kom nou van die lykskouing. Dit was ’n bietjie rof; ek gaan nie vir jou lieg nie,” sê Rian en vryf tussen sy oë.

Dewald het nie kans gesien om saam met hom die liggame te gaan uitken nie.

“Die polisie het gewaarsku dit gaan nie mooi wees nie,” sê Rian.

Ek moes terug ingaan en mooi kyk, toe sien ek Sussa se kleiner lyfie teenoor my ma s’n.

“Ek bedoel hulle het dae lank daar gelê voor ­iemand hulle gekry het.”

Oor hul sterfdatum heers onsekerheid, maar dit moet iewers tussen 18 en 27 Junie wees.

“Ek het my stiefpa en boetie dadelik herken,” vertel Rian verder.

“Ek kon eers nie tussen my ma en sussie onderskei nie. Ek moes terug ingaan en mooi kyk, toe sien ek Sussa se kleiner lyfie teenoor my ma s’n. Hierdie gaan my nog ’n ruk pla – ek het gesien wat ek gesien het.”

Die broers Rian (links) en Dewald Coutts vertel em
Die broers Rian (links) en Dewald Coutts vertel emosioneel van die depressie­stryd waardeur hul ma gegaan het. Foto: Jacques Stander

Die seuns, veral Dewald, het ’n baie hegte verhouding met hul ma gehad. Sy het hom altyd “Ribs” genoem omdat hy as ’n jong seun brandmaer was.

“Ek het elke dag met my ma gepraat,” sê Dewald voor hy na Rian draai.

“Hoe laat het Gys elke aand gebel?” vra hy.

Gys, die bynaam wat Theresa as kind by haar pa gekry het, was aanvanklik Patrys, maar het later “Gys” geword.

“Elke aand tussen 21:00 en 23:00,” onthou Rian en glimlag.

Sy het altyd gesê haar kinders sal nié sonder ’n ma grootword nie.
Die afskeidsbrief.
Die afskeidsbrief.

“Wanneer die klein mannetjie en Sussie in die bed was, het sy ’n koppie koffie gaan maak en ons gebel. Dan het ons gesels oor familie, die kinders en ag, sommer oor alles.”

Hulle onthou haar as ’n ma wat “baie, baie lief” vir haar kinders was.

“Maar sy het altyd gesê haar kinders sal nié sonder ’n ma grootword nie,” voeg Dewald by, sy stem ernstig.

Wat het dan skeefgeloop?

“Jare lank se aanhoudende gesukkel,” sê Rian.

“Dit het die afgelope tyd finansieel baie rof met hulle gegaan. ’n Paar jaar gelede het dit nog goed gegaan,” onthou hy.

Rian was 10 en Dewald 13 toe hul ma met Luhann, toe ’n boer van Brits in Noordwes, getroud is. Dit was ná haar egskeiding van hul pa, Michael Coutts, ’n mynwerker van Virginia.

“Ons het ’n huisie by die see in Margate gehad en ’n wildsplaas op Jacobsdal. Maar toe gebeur daar iets en ons weet nie wat nie. Toe verloor ons die plaas en ons huis. Vandaar was dit net downhill.”

Nadat die gesin in 2011 uit Jacobsdal weg is, het Luhann ’n macadamianeutplaas buite Margate gekoop. Daarna het hy ’n hardewarewinkel op Riebeek-Wes in die Wes-Kaap gehad, maar dit het ná ses maande sy deure gesluit.

Die gesin het toe na Moorreesburg verhuis. Hy en Theresa het albei gesukkel om werk te kry.

“Ek en my broer het hulle onderhou,” vertel Dewald.

“Ons het ook die kinders se skoolgeld en skooltoere betaal. Ons kon darem vir hulle genoeg gee om te survive. Maar hulle het baie skuld gehad.”

Luhann moes glo onderhoud vir sy eksvrou betaal, maar kon dit die afgelope paar maande nie bybring nie. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming was dus ten tyde van sy dood uitgereik.

Luhann en Theresa moes gereeld Bloemfontein toe gaan om daar in die hof te verskyn weens die korrupsieklagtes teen hulle.

“Ons het geweet ’n hofsaak was aan die gang waarby ander ook betrokke is, maar ons het nie van ’n bedrogsaak geweet nie,” sê Dewald en hy trek sy skouers ­effens op.

Theresa het hulle dikwels saans in trane gebel.

“Ek glo sy het depressie gehad, maar sy wou dit nie erken nie,” sê Dewald.

“Sy het nie regtig oor selfmoord gepraat nie, maar ek het dit so ’n bietjie verwag.”

’n Agt jaar lange hofstryd het Theresa en Luhann i
’n Agt jaar lange hofstryd het Theresa en Luhann in ’n wurggreep gehad. Foto: Verskaf

Rian leun agteroor en sê: “Sy het baiekeer gesê sy is moeg. Maar jy kan net vir só lank moeg wees.”

Al het die broers elke aand met Theresa gepraat, het sy niks gesê van hul planne om Cederberge toe te gaan nie.

“Die oggend van die 18de – die dag toe hulle gery het – het ek net ’n boodskap van my ma gekry waarin sy sê dat sy baie lief is vir my,” vertel Dewald.

Toe hy haar die volgende dag bel, was haar selfoon afgeskakel. Ook Luhann se selfoon en die kinders se tablette was afgeskakel.

“Ons het bekommerd geraak. Ná twee dae het ek Moorreesburg se polisie gebel en gesê hulle moet na die huis gaan om te kyk of my ma-hulle daar is. Maar daar was niemand nie. Die bure het gesê my ma-hulle het gery; niemand het geweet waar hulle was nie,” sê Dewald.

Dewald se droom

Daardie nag het hy gedroom sy ma vra hom hoekom hy nog nie by die huis was nie en dat sy vir hom briewe daar gelos het om vir mense te gee.

Net meer as ’n week later, kort nadat hy die tyding oor die tragiese gebeure in die verlatenheid van die Cederberge ontvang het, het daardie droom op ’n skrikwekkende manier waar geword.

“Ná nege dae se gesoek, het die polisie my by die werk gebel. Hulle is gekry, ­almal dood. Ek het net vir my baas gesê ek moet gaan. Toe kom ek en Rian na Moorreesburg.”

Wat daar op die broers gewag het, was soos ’n nagmerrie waaruit hulle nie kon wakker word nie.

“Ons het die afgesaagde deel van Luhann se .22 op die kluis gekry,” sê Rian, amper emosieloos.

“Ons kan nie sê dit was net my ma wat almal doodgeskiet het nie. Gys weet nie eens hoe ’n geweer werk nie. Ons glo Luhann en sy het dit saam beplan.”

Theresa is glo al een wat bloed onder haar skoene gehad het – ’n moontlike aanduiding dat sy rondbeweeg het nadat die doodskote afgevuur is.

Oor haar tweede skietwond onder haar kakebeen sê Dewald: “Óf my ma het haarself laaste geskiet, besef sy is nog nie dood nie en toe skiet sy haarself weer óf my stiefpa het my ma twee keer geskiet voor hy homself geskiet het.”

As iets gedoen moes word, sou hy dit doen.

Hulle meen Luhann sou eerder sover kon kom om die kinders te skiet as Theresa.

“Hy was ’n vriendelike teddiebeer, maar hy kon ’n praktiese, harde mens wees as hy wou,” beskryf Dewald sy stiefpa.

“As iets gedoen moes word, sou hy dit doen.’’

Toe Rian van klein Luhann vertel, is hy duidelik ’n trotse ouer broer. “Hy was baie slim. Hy wou net als van sharks en dinosaurs weet. Sy vraag was altyd: ‘Hoekom?’

“Sussa was baie sag. Sy was hier by die Laerskool Dirkie Uys op die leerlingraad. Sy sou agter ’n skoenlappertjie aanloop as sy een sien verbyvlieg. Sy het die pyn van ander aangevoel.

“Wanneer iemand by die skool swaargekry het, het sy huis toe gekom en by ons ma gehuil. Sy het laas nog gesê sy wil ’n veearts word.”

Lurese, Dewald en Luhann. Foto verskaf
Lurese, Dewald en Luhann. Foto: Verskaf

Nee, hulle is nie vir die ouerpaar kwaad oor die dood van hul kleinboet en -sus nie.

“Dis moeilik om te sê wat in hul koppe aangegaan het,” sê Rian

“Ek dink my ma het gedink as sy nie na Boeta en Sussa kan kyk nie, wie sal? Hulle het geglo dit was die enigste uitweg vir die kinders,” sê Dewald.

“Ek is nie kwaad nie; ek is verlig my ma se stryd is verby.”

Die laaste keer dat Rian met Luhann gepraat het, was op Vadersdag, net twee dae voor die gesin se vertrek na die ­Cederberge.

Luhann sr. by sy seun Luhann jr. Foto verskaf
Luhann sr. by sy seun Luhann jr. Foto: Verskaf

“Die belangrikste ding wat my stiefpa ons geleer het, is dat wanneer jy eers ’n besluit gemaak het, daar nie ’n omdraaikans is nie. Maak nie saak wat jy besluit het nie, of dit nou goed of sleg is, jy moet dit deurvoer.”

Binne ’n restaurant op Moorreesburg gesels inwoners van die dorpie in die Swartland in gedempte stemme oor die gesins­tragedie waarvan hulle eers die vorige dag gehoor het.

“Ek hoor Theresa het bipolêre depressie gehad,” bespiegel ’n vrou.

In Keeromstraat staan die bure na die Meyers se huurhuis en kyk na waar alles nou opgepak word.

Die huurhuis op Moorreesburg waar die Meyer-gesin
Die huurhuis op Moorreesburg waar die Meyer-gesin byna twee jaar lank gewoon het. Foto: Jacques Stander

“Die familie het baie welaf gelyk. Hulle het die kinders soms by ’n naskoolsentrum afgelaai wanneer hulle weggegaan het. Dan het die kinders genoeg kos en netjiese klere gehad, en hulle het alles vooruit betaal,” vertel ’n buurvrou.

Op sulke tye was almal onder die indruk dat hulle vir sake na Pretoria toe gaan. Van die voortslepende hofsaak in Bloemfontein het niemand hier op die dorp geweet nie.

Wanneer hulle smiddags van die laer­skool, net ’n blok verder, huis toe gestap het, het hul ouers vir hulle op die stoep staan en wag. Soms het Theresa of Luhann hulle tegemoet gestap en hul tasse vir hulle huis toe gedra.

“Dit was regtig mooi. Die kinders was oulike kinders met sulke mooi maniere,” gesels sy verder.

“As daardie kinders in moeilike omstandighede gewoon het, het hulle werklik bo dit uitgestyg. Ai, dit is so hartseer wat gebeur het.”

By die huis is Rian en Dewald besig om alles op te ruim.

Die Toyota Fortuner gaan terug bank toe, die gesin se twee golden retrievers, Bella en Baster, het ’n nuwe tuiste by ’n vriendin van Lurese gekry.

Luhann se wedvlugduiwe en Lurese se perd, Maddie, word verkoop, en baie van hul klere en speelgoed het die broers na die kinderhuis op Moorreesburg geneem.

Lurese by haar perd, Maddie, wat nou verkoop moet
Lurese by haar perd, Maddie, wat nou verkoop moet word. Foto: Verskaf

“Ek het Sussa se leerlingraad­balkie in haar kamer gekry. Ek gaan dit hou,” sê Dewald hartseer.

Geen testament is aan die seuns agter­gelaat nie.

In ’n kas hier in die huis, het hy en Rian op ’n pakkie briewe afgekom, nes Dewald se droom voorspel het. Vir elk van haar seuns het sy ’n laaste brief geskryf.

“Ek het nog nie myne gelees nie,” sê Rian. Hy wag tot dinge rustiger is.

Dewald het syne al “vinnig gelees”.

“Dis vier bladsye lank. Getik en geskryf. Sy sê daarin hoe lief sy my het en dat sy jammer is. Twee bladsye daarvan is wat ek als moet doen. Daar is ander briewe wat ek by mense moet aflewer, soos vriende en sakemense,” sê Dewald.

Hulle is moeg, sê die broers toe ons groet. Daar is nog baie om te doen.

Later stuur Dewald ’n foto aan van die laaste sin op Theresa se brief aan hom: “Ek is so jammer . . . asseblief vergewe my . . . ek is lief vir jou, hoor jy, Ribs . . . ek is lief vir jou nes jy is, onvoorwaardelik lief vir jou. For ever and always. Gys xx ”

Hoekom ’n gesinsmoord?

Terwyl party gesinsmoorde impulsief gepleeg en deur wraak of aggressie aangevuur word, was dit in die tragiese geval van die Meyer-gesin duidelik vooraf beplan.

Dikwels wil mense uit desperaatheid of weens depressie eintlik hul eie lewe neem, maar hulle besef die res van die gesin sal dit moeilik aanvaar. Dan besluit hulle om liewer die hele gesin uit te wis as ’n vorm van “uitgebreide selfdood”, sê Ronell Lemmer, ’n kliniese sielkundige van Bellville, Kaapstad.

“Daar bestaan ’n toestand, genaamd folie à deux, wanneer twee mense na aan mekaar ’n delusie of geestestoestand deel. Albei die ouers kon ’n neerslagtigheid, depressie of wanhoop deel wat alle vorme van logiese denke kan uitsluit,” meen sy.

In die meeste gesinne waar gesinsmoorde plaasvind, is die grense tussen die verskillende lede van die gesin baie ongesond, sê Corne Peach, ’n kliniese sielkundige van Kempton Park.

“Gesinslede is in interafhanklike verhoudings vasgevang en glo hulle kan nie afsonderlik van mekaar funksioneer nie. Die gesinsmoordenaar dink dat hy of sy die ander besit en die almag het om besluite oor hul lewe en toekoms te neem.”

Nes met ander soorte moord soos massa- en reeksmoorde waarvan 88% volgens internasionale syfers deur mans gepleeg word, is dit met gesinsmoorde gewoonlik die pa wat die ander om die lewe bring, sê Corne.

Dit klink asof Theresa Meyer as ’n sakevrou dalk ’n analitieser, doelgerigter persoonlikheid gehad het, terwyl haar man dalk die ver­sorger was, bespiegel Ronell.

“Gewoonlik is die ma die emosionele versorger. Maar as sy dit as ’n uitkoms vir die hele gesin beskou het om hulle teen ‘gevaar’ te beskerm, pas dit op ’n vreemde manier by die versorgingsrol in,” meen sy.

– Pieter van Zyl

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.