Waar sy met ernstige brandwonde oor haar lyf heen vanuit haar hospitaalbed in die Kalafong-hospitaal in Attridgeville gesels, klink sy broos.

“Hulle het vandag my brandwonde geskrop. Dit was ongelooflik seer,” vertel die donkerkopma aan Huisgenoot.

Dit is vier dae ná die angsnag en sy sukkel snags om te slaap. Die pyn en nagmerries is aanhoudend.

“Ek het erg op my rug, linkerarm en linkerbeen gebrand. Op plekke is dit derdegraadse brandwonde, maar dit lyk nie of ek veloorplantings gaan benodig nie,” vertel sy. 

Maar sy is steeds verlig dis sy en nie haar peuters, Zaylee (3) of Zané (18 maande), nie.

Milissa en haar oudste dogtertjie, Zaylee (3). Alb
Milissa en haar oudste dogtertjie, Zaylee (3). Albei haar dogtertjies is ongedeerd. Foto: Verskaf
Milissa en haar jongste, Zane (18 maande). Albei h
Milissa en haar jongste, Zane (18 maande). Albei haar dogtertjies is ongedeerd. Foto: Verskaf

“Ek wou nie hê hulle moet brand nie. Ek kan myself nie indink dat hulle nou sou moes deurgaan wat ek deurgaan nie . . .”

Milissa, ’n haarstilis, vertel sy het wakkergeskrik toe die huis reeds deur vlamme verswelg was. 

“Ek het twee kerse aangesteek omdat daar loadshedding was en het toe my alarm gestel om hulle uit te blaas. Een van die kerse was in die sitkamer en die ander in die badkamer,” sê sy. 

Sy vertel sy weet nie hoe lank sy geslaap het nie, maar toe sy wakker word het sy vlamme gesien en besef sy moet haar kinders en haarself uit die huis kry. 

“Ek het deur die vlamme gehardloop en die hout voordeur oop gemaak en toe hardloop ek terug kamer toe. Ek het Zané’tjie uit haar kot getel en Zaylee aan haar handjie gevat en op my heup getel en toe weer deur die vlamme gehardloop met hulle en hulle so gehou dat die vuur hulle nie brand nie,” vertel sy. 

Milissa het gesukkel om die veiligheidshek oop te sluit. Dít terwyl sy haar eie liggaam gebruik om die vlamme van haar twee dogtertjies af weg gehou. 

“Ek het gesukkel om die klein sleutel te kry en dit terwyl die rook ons laat verstik en ek my kinders teen die vlamme probeer beskerm het. Hulle het so gegil. Ek kon voel hoe ek brand en genadiglik toe kom die oom, ons buurman, en skyn sy foon se lig. Ek kon toe die klein sleutel kry om die hek oop te sluit,” sê sy. 

Die ma het glo haar dogtertjies beskerm teen die v
’n Buurman het Milissa glo Sondag in die oggendure hoor gil terwyl sy sukkel om ’n veiligheidshek oop te kry. Foto: Verskaf

Sy sê haar eerste en enigste prioriteit was om haar kinders van die vuur te red. 

Brandwonde

Milissa wou nie ’n foto van haar gesig vanuit haar hospitaalbed neem of aanstuur nie, want haar hare het ook in die brand verskroei. 

Milissa het op plekke derde graadse brandwonde op
Milissa het op plekke derde graadse brandwonde op gedoen. Foto: Verskaf
Milissa het op plekke derde graadse brandwonde op
Milissa het op plekke derde graadse brandwonde op gedoen. Foto: Verskaf

Sy wil nou net so gou as moontlik by haar kinders uitkom, wat in haar suster se sorg is terwyl sy aansterk.

“Ek verlang verskriklik na hulle, maar ek gesels gereeld met my suster. Hulle sê ek gaan seker eers oor ’n week huis toe kan gaan,” sê Milissa. 

Jenny Coetzee, Milissa se werkgewer by Ultimate Hair, ’n haarsalon in Centurion, het Donderdag vir haar gaan kuier en was in trane ná die besoek. 

“Dis baie erg om haar so te sien. Sy is nie haar borrelende self nie. Sy is bang en getraumatiseerd,” vertel Jenny. 

Jenny vertel daar was al mense wat goedere en geld geskenk het vir Milissa, want die gesin het alles in die brand verloor.  

Tog sê Milissa sy is net dankbaar haar kinders is ongedeerd. 

“Ek dink gereeld hoe anders dit kon gewees het as ek nie wakker geskrik het nie. Ek dank die Here ek het,” sê sy.