Tania Groenewald ('n skuilnaam) is een van die ongeveer 184 Suid-Afrikaners, wat op ’n militêre vlug van die regering wag om hulle uit die stad te ontruim.

Sy was Donderdag reeds 46 dae in die Chinese stad van Wuhan, die kern van die coronavirusuitbreking vasgekeer.

Tania verkies om weens veiligheidsredes en om die identiteit van haar kinders te beskerm, eerder onder ’n skuilnaam te praat.

Pres. Cyril Ramaphosa asook die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het die afgelope week beloof om ’n vliegtuig te stuur om die landsburgers wat wil huis toe kom, daar uit te kry.

Wanneer dié plan uitgevoer sal word, is steeds ’n ope vraag. Volgens die jongste verklaring deur die regering is al die planne in plek, maar word daar steeds op eie bodem met diensverskaffers onderhandel oor waar die groep Suid-Afrikaners vir die 21 dae in kwarantyn gehuisves sal word.

Daar is tans sowat 199 Suid-Afrikaners in Wuhan, maar nie almal wil huis toe kom nie omdat as hulle sou terugkeer hulle nie gou weer na hul werk daar sal kan teruggaan nie of dit selfs verloor.

Maar Tania wíl huis toe kom. Dringend.

Tania en die uitvoerende hoof vir die maatskappy vir wie sy werk, het net vir vyf dae in Wuhan voorsiening gemaak. Hulle het reeds op 20 Januarie hier vir besigheid geland en sou op 25 Januarie terugkeer. Maar toe word alle vlugte terug huis toe gestaak en die hotel waarin hulle bly, is van 29 Januarie af heeltemal afgeskort. Oral moet mense in hulle blyplekke bly en mag niemand sonder permitte in of uit nie, ook nie uit die sones van hul areas nie. Vir baie van hulle voel dit asof hulle gaan mal word.

“Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie? My brein wil nie meer nie? Ek is vandag 46 dae van my kinders af, ek voel numb... As dit nie was vir die Chinese mense hier nie het ek al my moed verloor,” het sy Donderdag per WhatsApp aan Huisgenoot se verslaggewer gesê.

“Ek is bang, ek verlang huis toe..... Ons is in die gevaar, dit voel of ek elke dag oorlog toe gaan, elke dag verloor ek, en elke dag wen ek... Ek is moeg, ek is honger... ek is bang, noem die emosie, ek voel dit. En dan stres mens jy word siek, dis die ergste... jou kop mors met jou. Die regering moet ons kom haal, maar dis nog ’n when what where...”

Sy stuur ’n foto van haar aandete in die hotel – twee snye brood met ’n bietjie kaas. Kos en die aflewering daarvan raak tans ’n groot probleem in Wuhan.

Die ma van Centurion wys die brood en kaas wat hul
Die ma van Centurion wys die brood en kaas wat hulle vandeesweek as aandete in haar hotel in Wuhan gekry het. Sy mag glad nie die hotel verlaat nie en is tans vasgekeer in die Chinese stad. Foto: Verskaf

Soms voel dit sy is vasgevang in ’n fliek. “Elke keer as ’n ambulans verbyry wil ek net huil...Ek het al 7 kg verloor.”

Tania vertel sy wou eers glad nie met enige media praat nie. Die kommentare in sosiale media dat die talle Suid-Afrikaners hier – veral studente en onderwysers wat Engels gee – eerder in Wuhan moet doodgaan “voordat hulle die virus huis toe bring” en hoe ons burgers kan gal braak teenoor die Chinese se kultuur, ontstel haar.

“Weet jy, ek is 46 dae hier! En nog nie siek nie. Hoekom nie die toets doen en my clear nie? Ek is so gefrustreerd en ek sit hier en hou myself in toom, want as ek op die stadium enigsins enige vorm van verkoue wys, mag ek nie op die vliegtuig nie...”

“Ek voel dis belangrik dat die mense in Suid-Afrika hulle oogklappe moet afhaal... Social media het my geleer hoe ons as Suid-Afrikaners so judgemental is, die mense in China is ongelooflik! Hulle sal die laaste wat hulle het, gee sodat ek kan hê. My eie familie se eerste woorde was “want hulle eet honde en katte”. Tog kon niemand al vasstel waar die virus vandaan gekom het nie. En, nee, hulle kyk terloops beter na hulle diere as baie Suid-Afrikaners.”

Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.

Tania weet nie meer hoe om optimisties te bly nie. Geestelik en emosioneel gaan dit sleg met haar.

“Ek kan nie myself toelaat om ’n verwagting te hê nie. Die let down is so erg dat dit my dae vat om te herstel. Mentally weet ek nie of ek ooit weer van my kinders sal kan weggaan nie. As hulle ons nie teen Dinsdag kom kry nie, gaan ek dit verloor.”

Wanneer ons oor haar kinders vra, sê sy: “Jis, ek raak so emosioneel as ek oor die kinders praat... My jongse huil elke dag, elke dag vra hy: ‘Mamma, het jy al nuus? Kom jy môre?’ en dan moet ek somehow weer verduidelik: ‘Nie vandag nie my kind’ en dan huil hy die hartseerste huil ooit... Dis my verjaardag en dis vreeslik vir hom. Hy het nou nou vir my gese: ‘Mamma, jy gaan nie eens koek hê nie... en dan huil hy weer.

Die onderwysers en die skool is seker die beste support wat ek kan hê. Die mammas en onderwysers stuur foto’s van hom en almal druk en gee liefde. Dit laat mens half gerus voel. My oudste is ’n selfstandige kind, maar selfs hy het nou Maandag gesê: ‘Mamma, dit raak nou te lank.’ My ma is ook baie bekommerd.”

Sy vertel haar baas vaar bietjie beter as sy, maar het ook sy “af dae”.

“Hy probeer baie sterk wees, en hy is. Maar ek kan sien hy verlang vreeslik na sy vrou en kinders. Dit breek hom om elke keer met hulle te praat en nie antwoorde te hê nie. Ek het so baie respek vir die man in hoe hy my probeer bystaan. Ek sal nooit vir iemand anders kan gaan werk ná dié nie. Ek het te veel respek.”

Tania glo wanneer sy terugkeer is sy bereid om die 21 dae in kwarantyn deur te bring. Sy wil net uit kom.

Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soo
Foto's van die verlate strate van Wuhan, China soos deur 'n Suid-Afrikaner aan Huisgenoot verskaf.

“Ek glo nie ek sal ooit oor hierdie kan kom nie. Om soveel tyd met jouself en in jou eie brein te wees, smokkel met jou kop. Ek voel nie vandag 39 nie, ek voel 99.

Ek wens hulle wil ons kom haal. As hulle ons nie kom haal teen Dinsdag nie. Sorry, my woorde maar dan verloor ek my s***! Dan hardloop ek kaal in die straat sodat iemand my moet “uithaal”.  As nog ’n datum skuif of verander weet ek nie hoe ek dit gaan maak nie. Mentally weet mens nie hoe om die te hanteer nie.”