Dít kom nadat Jan-Adriaan Janse van Vuuren, ’n motorwerktuigkundige, vandeesweek deur lede van die South African Community Crime Watch (SACCW) in Centurion gevind is.

Familie van die 22-jarige man het nog Maandag aan Huisgenoot gesê hulle is doodbekommerd oor sy welstand nadat hy op 19 Oktober spoorloos verdwyn het. Hy is laas op 18 Oktober gesien op die perseel waar hy ’n woonstel huur en was op 22 Oktober laas aktief op sy WhatsApp-profiel.

Toe het sy suster, Drienie Janse van Vuuren, nog aan Huisgenoot gesê: “Hoe kan ons slaap as ons nie weet of hy leef of dood is nie? Ons weet nie of hy veilig is nie; of hy kos het om te eet nie. Daar is geen teken van enige aard nie – hy is net weg, en dit maak ons rasend van bekommernis.”

Maar Woensdagmiddag het Michael Venter, ’n lid van SACCW, aan Huisgenoot gesê Jan-Adriaan is gevind nadat die organisasie ’n leidraad van die gemeenskap ontvang het.

Jan-Adriaan
Jan-Adriaan se familie het gevrees vir sy veiligheid ná sy verdwyning. Foto: Verskaf

“Hy is in ’n oop veld saam met twee ander hawelose mans aangetref. Ons het hom na die polisie geneem en die vermiste persone-saak laat sluit. Maar Jan-Adriaan wou nie terug huis toe keer nie – so ons het vir hom en die twee ander vir tyd en wyl skuiling gereël,” sê hy.

Michael sê Jan-Adriaan was ongedeerd.

Op die vraag oor waarom Jan-Adriaan nie wou huis toe keer ná sy raaiselagtige verdwyning nie, sê Drienie aan Huisgenoot die familie probeer steeds na hom toe uitreik.

“Ons is bekommerd oor sy welstand. Hy kon nie die dood van ons pa verwerk nie – en die dood van ons ouma kort daarna het hom net soveel erger getref. Ons is almal geweldig emosioneel ná die laaste maand – maar ook bly dat ons vir die eerste keer nie meer doodbekommerd hoef te wees nie,” sê sy.

Die broer en suster se pa, Jan-Adriaan sr., is in 2017 dood aan ’n hartaanval. Hulle ouma, Magda, wat vir hulle “soos ’n ma” was, het in Oktober verlede jaar ’n stryd teen kanker verloor. 

“Ons weet nou hy is veilig, dat hy skuiling het en dat hy minstens kan eet. Dis al wat ons wou weet. Nou kan ons daaraan werk om ons verhouding te herstel – en om seker te maak dat hy die hulp ontvang wat hy nodig het. Al wat ons kan doen is om te bid en te glo dat dinge weer oukei sal wees.”