Die paartjie, Loulene Jacobs en Ryno Potgieter, va
Loulene Jacobs en Ryno Potgieter van Centurion is al vyf jaar in 'n verhouding. Foto: Verskaf

As lugwaardin het sy al die wêreld vol gevlieg, maar die Krabi-eilande aan die weskus van suid-Thailand was nog vir haar ’n onontdekte stukkie paradys. Daarom sou dit vir Loulene Jacobs (25) en haar verloofde, Ryno Potgieter (26), 'n lugvaartingenieur, die ideale bestemming vir hul wittebrood wees.

Die paartjie van Centurion wat mekaar al sedert hul skooldae ken, het al die reëlings vir hul droomreis deur die reisagentskap STA Travel in die Centurion Mall getref. Hulle het R45 000 vir hul vlugte, hotelverblyf en vervoer opgedok.

“Ons sou op 4 April trou en die volgende dag op ons wittebrood vertrek. Maar toe, in die middel van Maart, kontak die reisagentskap ons en sê alles is nou weens die covid-19 op ys,” vertel Loulene.

“STA het ons verseker ons moet ons nie bekommer nie; hulle sal ons geld vir ons hou sodat ons ons wittebrood net tot ’n later datum kan uitstel.”

Loulene Jacobs en Ryno Potgieter moes weens die c
Loulene Jacobs en Ryno Potgieter moes weens die covid-19-pandemie hul troue en wittebrood uitstel. Foto: Verskaf

Loulene en Ryno het besluit om weens die inperking ook hul troue uit te stel. Maar hulle het bly droom van ’n eilandwittebrood wanneer die covid-19-pandemie verby is. 

GESKOK, MAAR NIE BEKOMMERD

In Augustus het Loulene se ma, Heleen Verster, een van die eerste berigte oor die internasionale reisagentskap se skielike sluiting op Netwerk24 raakgelees en haar dogter laat weet.

STA, wat benewens sy 20 takke in Suid-Afrika ook takke in onder meer Brittanje, Nieu-Seeland en Australië het, is tydens die inperking bankrot verklaar. 

“Ek is ’n baie positiewe mens. Hoewel ek geskok was, was ek nie dadelik bekommerd dat ons al ons geld gaan verloor nie,” vertel Loulene.

Loulene Jacobs en haar verloofde, Ryno Potgieter,
Loulene Jacobs en haar verloofde, Ryno Potgieter, tydens 'n ski-vakansie. Hulle is baie avontuurlustig. Foto: Verskaf

Dit was die soveelste terugslag wat die paatjie tydens die inperking beleef het. Benewens hul troue wat hulle moes uitstel, is Ryno se pa ook tydens die inperking oorlede. Ryno was ook twee maande lank in die noorde van Afrika gestrand waar hy veronderstel was om net vir ’n paar weke te werk.

Toe sluit die reisagentskap.

VRAE SONDER ANTWOORDE

“Ek en my ma het hulle vergeefs begin bel. Die winkel in die mall staan nou leeg en hul webtuiste is gesluit. Ons het gehoop om dalk die nommer te bekom van die prokureurs wat die likwidasie hanteer, maar dit was tot dusver onmoontlik. As ons dalk net die geld vir die vlugte kon terugkry.

“Ons wou eintlik na die Maledive-eilande toe gegaan het, maar dit was baie duur. Ons is nog jonk, ons het nie daardie geld nie. Ryno het van die geld gebruik wat sy oom vir ons as trougeskenk sou gee. Die Krabi-eilande is nie ver van Phoeket nie en ek was nog nooit daar nie; dus was ek baie opgewonde om te gaan,” sê Louna

Loulene Jacobs en haar verloofde, Ryno Potgieter,
Loulene Jacobs en haar verloofde, Ryno Potgieter, hoop om nou in Januarie 2021 te trou. Foto: Verskaf

Die paartjie beplan nou om op 9 Januarie te trou. Alles van die plek, haar rok en die gastelys is gefinaliseer, behalwe die wittebrood. Die laaste kommunikasie op STA Travel se Facebookblad om Suid-Afrikaners na antwoorde op kwelvrae te lei, was op 4 September.

For all parties affected by the recent announcement that STA Travel South Africa has ceased trading, please visit https://www.statravel.co.za/ for the most recent communication.

Posted by STA Travel on Friday, 4 September 2020

Huisgenoot het die skakel gevolg en sonder sukses die nommer op hul tuiste geskakel. Ook ons e-pos het met publikasie nog onbeantwoord gebly.

DIEP IN DIE SKULD

Volgens News24 skuld die agentskap hul sowat 200 werknemers en 27 000 kliënte onderskeidelik meer as R2,1 miljoen en R91 miljoen. Hul algehele skuld beloop meer as R200 miljoen, terwyl hulle minder as R4 miljoen se bates het.

Jurgens Steenkamp en Cheryl Jones van JJS Administrators in Kaapstad is volgens News24 as voorlopige likwidateurs aangestel. Hulle het aangedui die volgende stap is nou dat die meester van die hooggeregshof ’n vergadering tussen die aandeelhouers en krediteure belê. Eers dan sal hul aanstelling gefinaliseer word.

Intussen probeer Loulene steeds tot verhaal kom oor hul verlies.

“Dis nie iets wat binne ons beheer was nie; dus was daar niks wat ons kon doen om dit te verhoed nie. Dit is maar net sleg. Ryno sê nou met die verlies saam kon ons maar nou net sowel Maledive toe gegaan het. Al wat oorbly, is om weer te begin spaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe