Die 18-jarige Ruan Viljoen, ’n oudleerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, is op 19 Maart 2017 in ’n tref-en-trap-ongeluk langs die N4-hoofweg in Centurion dood.

Viljoen het die aand van die 18de Maart by vriende gekuier en het vermoedelik op pad terug na sy ouerhuis beheer oor sy motor verloor en besluit om liewer die motor te los en na ’n nabygeleë motorhawe te stap toe hy raakgery is. Hy is op slag dood.

'Nie stilgehou nie'

Sy ma, Anita Greyvenstein, en stiefpa, Sergei, het sedert dié noodlottige dag onverpoos gesoek na antwoorde oor die persoon wat hul seun se lewe beëindig het, maar “nie eens langs die pad stilgehou het nie”.

Lig het vir die eerste keer sedert hul seun se dood in dié donker tonnel geskyn toe Siphiwe Mahlaba (29), die eienaar van die Volkswagen Golf wat se onderdele op die toneel versprei was, verlede maand beveel is om in die hof te verskyn.

Anita en Sergei het Siphiwe Donderdag vir die eerste keer van aangesig tot aangesig in die landdroshof in Pretoria gesien.

“Anita het inmekaargesak,” vertel Sergei Donderdag aan Huisgenoot.

“Mahlaba het maar drie rye agter ons in die hof gesit – ’n mens is so kwaad; so hartseer, maar vir die eerste keer voel jy dat daar werklik momentum in die saak is. Vir die eerste keer voel dit asof ons darem al op pad is om geregtigheid vir Ruan te kry.”

Sergei sê hy en sy vrou het geen interaksie met Siphiwe gehad nie.

Minagting van die hof

“Anita het die hele tyd gehuil. Ons was albei ontsteld. Wat dit vererger het, is dat ons nie geweet het wat die prosesse is nie. Ek het in ’n stadium opgestaan en die landdros gevra of hy moontlik aan ons kan verduidelik hoe die hof se prosesse gaan verloop.

“Hulle het later gesê hulle gaan my weens minagting van die hof van die verrigtinge verbied, maar gelukkig het ’n staatsaanklaer my buitentoe geneem en die prosesse vir my verduidelik. Ek kon dié antwoorde na Anita terugneem.”

Hy vertel dit was ontstellend om Siphiwe vir die eerste keer sedert sy inhegtenisneming van aangesig tot aangesit te aanskou.

“Dis verskriklik ontstellend gewees – daarom was Anita deur die loop van die verrigtinge heeltyd emosioneel. Ons is bang – bang die saak word uitgerek, bang ons sal nooit werklik antwoorde kry nie en bang dat Mahlaba ’n opgeskorte vonnis sal kry.

“Ons sal moet aanhou bid en deurdruk – nes ons die laaste jaar gedoen het om die skuldige te laat boet.”

Die hofverrigtinge is Donderdag uitgestel tot 27 Augustus. Die verhoor sal daarna begin.

Kapt. Agnes Huma, ’n polisiewoordvoerder, kon nie onmiddellik nog inligting oor die hofverrigtinge aan Huisgenoot gee nie.

Huma sê die polisie sal op Vrydag 3 Augustus meer inligting bekend maak sodra daar met die ondersoekbeampte in die saak vergader is.