Op 28 weke moes die Naicker-tweeling inderhaas gebore word. Die tweeling is deur een naelstring gevoed en dokters was bekommerd dat een van hulle dit nie sou maak nie.

“Trinity en Nikita is al skreeuend gebore. Dokters het ons gewaarsku dat hulle moontlik nie gaan huil nie, maar toe kom dié twee met ’n lawaai die wêreld in,” vertel Monique aan Huisgenoot.

Trinity moes maande langer as haar sussie in die Unitas-hospitaal in Centurion bly omdat sy gesukkel het om self asem te haal. Monique verduidelik daar is ’n vernouing in Trinity se lugpyp en dokters moes op drie maande ’n gaatjie in haar tragea (lugpyp) maak sodat sy daardeur kan asemhaal. Trinity het vandag nog dié toestel waardeur sy asemhaal.

“Sy het so mooi aangepas. Ons het haar kleuterskool toe gestuur saam met ’n verpleegster ingeval die toestel loskom of so,” vertel Monique. En niks hou Trinity terug nie.

tweeling
Bloedkanker is op 5-jarige ouderdom by Nikita gediagnoseer. Foto: Verskaf

Die gesin het aangepas en hoewel Trinity maandeliks hormooninspuitings moet ontvang, het almal geleer om hiermee saam te leef. Trinity is volgens haar ouers ’n gelukkige meisietjie.

Toe Nikita vyf was, is die gesin weer op hul knieë gedwing. Bloedkanker is by hul gesonde dogtertjie gediagnoseer.

“Sy het van maagpyn gekla en my ma, wat jare lank ’n verpleegster was, het ons aangeraai om haar noodgevalle toe te neem. Hulle het haar opgeneem en die volgende dag het die dokter vir ons vertel sy het limfoblastiese leukemie.” Dit is in Junie 2018 gediagnoseer. 

Nikita het chemoterapie ontvang en haar kanker is tans in remissie. “Dié soort kanker kruip weg; dus gaan ons maandeliks vir toetse om te kyk of daar kanker is, maar dank die Vader, dit lyk of sy steeds skoon is,” vertel Monique.

Die tweetjies het vanjaar hand aan hand by die Springvale Primary School in Centurion begin.

“Hulle is dolgelukkig en floreer. Hul juffrou is ook tevrede met hulle.”

Monique sê Trinity is nog nooit stief gehandel deur ander kinders nie. “Kindertjies sal soms nuuskierig wees oor ‘wat daai ding in haar nek is’, maar dan verduidelik ek of sy vir hulle en hulle gaan aan. Die eerste dag in gr. 1 het die juffrou vir die klas gesê dié is Trinity en sy haal deur haar nek asem. Die kinders het vrae gestel en almal het aangegaan met hul eie ding. Trinity noem dit haar neus omdat sy so asemhaal,” lag Monique.

tweeling
Trinity moes maande langer as haar sussie in die Unitas-hospitaal in Centurion bly omdat sy gesukkel het om self asem te haal. Foto: Verskaf

Monique sê sy en haar man, Praveen, het in ’n stadium bevraagteken waarom die noodlot hulle elke keer tref. “Maar dan besef jy: Waarom nie ons nie? Ons is net dankbaar albei ons kinders leef,” sê sy.

Sy sê daar was soveel engele op hul pad die afgelope paar jare, van organisasies wat die behandeling van Nikita se kanker help finansier tot onderwysers wat Trinity help aanpas het. “Ons familie is ook so ’n steunpilaar.”

Monique lag as sy praat oor waarin die kinders belangstel.

“Trinity is ons rabbedoe. Sy wil weet hoe alles werk. Sy is nuuskierig en bevraagteken alles. Sy sal iets breek sodat sy dit weer kan aanmekaarsit. Nikita is die teenoorgestelde. Sy is die moederhen wat almal gelukkig wil hou. Sy raas as 'n mens kwaai is, maar wil net almal gelukkig en versorg hou. Sy wil ’n dokter word.”

Monique sê waar ander paartjies uitmekaardryf deur sulke uitdagings is sy en Praveen vandag nader aan mekaar.

“Ek is baie dankbaar ons verhouding het net sterker geword hierdeur. Ek weet dit kon anders gewees het. Ons het soveel geleer en is vandag individueel sterker. Boonop het ons twee pragtige, unieke dogters wat ons nog baie op ons tone gaan hou,” sê sy en lag.