Likkewaan
Corné Terblans sê sy is amper bokveld toe toe sy die yslike likkewaan in haar agtertuin opgemerk het. Foto: Corné Terblans

Toe haar worshondkruising vandeesweek onophoudelik buite die huis blaf, het ’n vrou van Centurion gedink haar koddige hondjie is weer vol streke – tot sy haar trompop geloop het in ’n uitgevrete likkewaan . . . 

Corné Terblans wat woon in Pierre van Ryneveld in Gauteng, sê sy is amper bokveld toe toe sy die yslike, skubberige gedierte in haar agtertuin opgemerk het. 

En die ergste? Corné (34) woon in ’n meenthuiskompleks met twee aangrensende komplekswoonbuurte wat haar erf omring . . . 

Likkewaan
Corné saam met haar man, Francois, en hulle dogtertjie. Foto: Corné Terblans

“Ek is seker my hart het vir ’n oomblik lank gaan staan,” vertel Corné Woensdag aan Huisgenoot.

Sy en haar man, Francois (39), was in hulle tuiskantoor toe hul hondjie Max skielik onbedaarlik begin blaf het.

“Die hondjies is maar soms spelerig, en soos gewoonlik het ek hom vanuit die kantoor probeer stilmaak omdat ek nie wou hê sy geblaf moes die bure steur nie,” vertel Corné.

Toe Max nie tot bedaring kom nie, het Corné gaan ondersoek instel. Dis toe dat sy op die yslike likkewaan in haar tuin afgekom het.

Likkewaan
Max, die Terblanse se worshondkruising. Foto: Corné Terblans

“Hy het sommer so nonchalant op ’n klip in die tuin gesit,” vertel sy met ’n laggie. “Nadat ek myself boeglam geskrik het, het ek en Francois gou vir Max na binne geneem en die vensters en deure van die huis gesluit. Ek weet nie veel van die diere nie, maar ek weet hulle kan baie gevaarlik wees.” 

Hulle is onseker hoe die likkewaan binne die meenthuiskompleks beland het, sê Corné.

“Jong, dis ’n raaisel wat ons nie kan oplos nie. Aangrensend tot ons meenthuis is twee ander komplekse, en ek weet nie van oop velde in die omgewing nie.” 

Corné sê sy het kontak gemaak met minstens twee ondernemings om die likkewaan te verwyder, maar toe hulle nie reageer op haar versoeke nie, het Hermien Grobler, van die African Snakebite Institute, en Charlene Gebhardt, van Snakebite Assist, hulle na die huis gehaas.

Likkewaan
Hermien vertroos die likkewaan nadat hulle drie ure gespartel het om hom vas te keer. Foto: Charlene Gebhardt
Likkewaan
Charlene saam met Solly, ’n werker in die meenthuiskompleks, nadat hulle die likkewaan gevang het. Foto: Hermien Grobler
Likkewaan
Die holte tussen die twee mure waar die likkewaan weggekruip het. Foto: Hermien Grobler/ Charlene Gebhardt

“Hulle het bykans drie ure gespartel om die likkewaan te vang,” sê Corné. “Die dier het natuurlik geskrik en homself toe uit die voete gemaak. Die mure wat ons grenslyne omhein, grens direk aan die mure van ons bure – die likkewaan het toe in daardie klein holte gaan wegkruip.” 

Sy sê dit was later nodig om blokke van die prefab-mure uit te haal, maar Hermien en Charlene kon daarin slaag om die likkewaan veilig vas te keer. Albei het permitte van Gauteng Natuurbewaring en sal toesien daartoe dat die likkewaan weer in sy natuurlike omgewing terugbesorg word.

“Jy moes vir Max gesien het,” spog Corné. “Hy wou g’n nonsens vat van hierdie ongenooide gas nie, so hy het dit op homself geneem om die huis te beskerm. Nadat die likkewaan veilig weg is, het hy sommer ’n hele paar hondekoekies as bederf gekry.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe