Die polisie en die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Saterdag oor die voorval ingelig nadat ’n lid van die publiek die motor opgemerk het. 

“Die motor het op sy dak gedobber en die wiele was bo die water sigbaar,” sê kol. Adele Myburgh, ’n polisiewoordvoerder. 

Die ongeluk het tussen die damwal en slangpark gebeur. 

Sy sê dit blyk die vrou het beheer oor haar motor verloor en in die dam beland. 

Polisieduikers op die toneel het die vrou se liggaam in die kajuit aangetref. 

Speelgoed is ook in die motor gekry, en soek- en reddingspanne het aanvanklik gedink dat daar ’n kind saam met haar in die motor was. Teen agtuur die aand is hulle in kennis gestel dat net die vrou in die kar was.

Adele sê die vrou se identiteit mag nog nie bekendgemaak word nie omdat haar familie haar nog formeel moet kom uitken. 

“Die vrou se man het haar die laaste keer Vrydagoggend gesien, maar hy het nie ’n vermiste persoon-saak oopgemaak nie.” 

Sy sê ’n geregtelike doodsondersoek moet nog die presiese oorsaak van haar dood bepaal. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe